Graanprodusent van die Jaar – finaliste bekendgestel

Alzena Gomes, kommunikasie-en-skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 8 Oktober 2025

3949

Graan SA vier vanjaar vir die 24ste keer uitnemendheid in die graanbedryf in die vorm van die gesogte Graanprodu­sent van die Jaar-toekenning. Die drie finaliste is sopas deur Graan SA aangekondig – en 2025 se topprodusent word tydens ’n
galageleentheid op 31 Oktober in Johannesburg bekend gemaak. Hierdie artikel stel die finaliste en hul boerderye bekend en is saamgestel na die beoordelingspaneel se besoek aan elkeen. Hulle is:

  • JP Truter van Moorreesburg
  • Hansie Viljoen van Leeudoringstad
  • Riaan Taljaard van Hoopstad

’n Leiersfiguur in volhoubare graanproduksie

JP Truter, Moorreesburg

Wanneer ’n mens na die loopbaanpad van JP Truter van Moorreesburg kyk, raak dit gou duidelik dat sy verhaal een van deursettingsvermoë, strategiese denke en ’n diep liefde vir die grond is. As vierdegenerasie-boer op Kanolkop in die Swartland, het hy nie net sy familie-erfenis voortgesit nie, maar dit met passie uitgebrei tot ’n volhoubare en vooruitstrewende onderneming. Sy boerderyfilosofie is gebou op harde werk, deeglike beplanning en die oortuiging dat sukses lê in balans tussen gewas­produksie, veeboerdery en finansiële dissipline.

’n Loopbaan gebou op vasbyt en visie
Truter het in 1993 saam met sy pa op Kanolkop begin boer. Hoewel die vreugde van korte duur was aangesien sy pa kort daarna oorlede is, het hy die verantwoordelikheid aanvaar en die familieboerdery op slegs 378 ha voortgesit. Jonk en energiek, het hy aanvanklik gesukkel met die realiteite van produksie en bestuur, maar sy vasbyt en bereidheid om raad te vra, het hom gou gevestig as ’n produsent met potensiaal.

In 1996 het hy die geleentheid aangegryp om vir nege maande in die VSA te gaan werk as deel van ’n oeskontrakteurspan. Hier het hy nie net blootstelling gekry aan moderne meganisasie en grootskaalse praktyke nie – kennis wat later vir hom van groot waarde sou wees – maar dit het ook sy geloof in dissipline en tydsbereke­ning versterk. Terug in Suid-Afrika het hy sy boerdery stadig uitgebrei deur ’n kombinasie van geërfde grond, aankope en strategiese huurtransaksies. Vanaf 1997 het hy sy eie stempel begin afdruk op die Swartland: ’n boerdery gebou op koring, medics, kuilvoer, skape en beeste asook ’n langtermynstrategie om grond en mense te ontwikkel.

’n Diverse onderneming
Die Truter-boerdery bestaan uit vier plase wat saam ’n strategiese eenheid vorm en is tipies van die Swartland se gemengde landbou: Hoëpotensiaalgronde word vir koring en medics gebruik, terwyl laerpotensiaallande hoofsaaklik vir kuilvoer aangewend word. Sy benadering is duidelik: benut elke hektaar volgens sy sterkpunte en bou gesonde gronde wat volhoubaar opbrengs kan lewer. Die vee-afdeling is ewe belangrik. Met sowat 130 grootvee-eenhede en meer as 1 700 kleinvee-eenhede kombineer hy speenkalfproduksie, wol- en vetlamproduksie in ’n geïntegreerde stelsel wat die grond se gesondheid versterk en kontantvloei diversifiseer.

Minimumbewerking en slim wisselbou
Truter glo sterk aan wisselbou tussen koring en medics. Hy meen dat hierdie benadering die grond se struktuur verbeter, organiese materiaal opbou en opbrengste stabiliseer – veral in jare van uiterste klimaatstoestande. Hy volg ’n wisselboustelsel waarin hy jaarliks 50% van sy lande met koring plant en die ander helfte aan medics oorlaat om te hervestig en weiding of hooi te voorsien. Hierdie wisselwerking het ’n dubbele voordeel: Die koring is die kontantgewas wat finansies dra, terwyl die medics stikstof bind en die grond se lewenskrag bou.

Hy is ’n voorstander van minimumbewerking, wat verseker dat oesreste op die grond bly en die opbou van koolstof bevorder. Dit verbeter waterpenetrasie en -houvermoë, en verminder die uitloog van voedingstowwe. Sy filosofie is eenvoudig: Gesonde grond sta­biliseer opbrengste en help die produsent deur beide droogtes en nat jare.

Truter glo sterk aan wisselbou tussen koring en medics omdat hy meen dat hierdie benadering die grond se struktuur verbeter, organiese materiaal opbou en opbrengste stabiliseer – veral in uiterste klimaatstoestande.
Kanolkop bestaan uit ’n gemengde boerdery met graan en vee.

Volgens hom lê die geheim in tydsberekening: Saad moet betyds in die grond wees, bemesting moet presies toegedien word en on­kruidbeheer moet strategies geskied. Hy beklemtoon dat ’n produsent moet fokus op dit wat beheerbaar is – bewerkings, bespuitings en kuns­mis – en nie moet bekommerd raak oor faktore soos reënval wat nie in sy hande lê nie. Presisieboerdery is derhalwe ’n kernkomponent van sy strategie. Hy gebruik GPS-tegnologie vir veranderlike toediening van kalk, plant, spuit, kunsmistoediening en opbrengskaarte en bemesting word presies aangepas soos nodig.

Kultivarkeuses speel ook ’n sleutelrol. Truter toets nuwe variëteite deur proefplase en pas sy praktyke aan by die nuutste tegnologie, maar altyd met ’n konserwatiewe oog om risiko’s te bestuur. Die keuse van kultivars word gemaak op grond van opbrengspotensiaal, gradering, siekteweerstand, pitvastheid en droogteverdraagsaamheid. Hierdie benadering het hom oor die afgelope vyf jaar ’n gemiddelde opbrengs van 4,4 t/ha koring besorg, ondanks uiterste klimaats­fluktuasies.

Die vee-afdeling dien as ’n likiede kontantbuffer wat handig te pas kom in moeilike tye.

Geïntegreerde plaagbeheerstrategieë
In die Wes-Kaap is raaigras en breëblaaronkruide groot uitda­gings. Truter gebruik ’n kombinasie van wisselbou, selektiewe spuitmiddels en strategiese beweiding om populasies te onder­druk. Die bekend­stelling van nuwe chemie soos Sakura het ’n groot verskil gemaak, maar hy glo steeds dat langtermynbeheer slegs moontlik is deur geïntegreerde praktyke – nie deur een produk alleen nie.

Hy is prakties en streng oor sy strategie: As ’n kamp se opbrengs nie die insette regverdig nie, sal hy die veld heroorweeg en die plan aanpas. Hierdie benadering beklemtoon sy geloof dat boerdery ’n dinamiese proses is eerder as ’n rigiede stel reëls.

Veiligheidsmaatreëls is streng. Alle chemikalieë word in ’n ge­slote, gemerkte stoor gehou, leë houers word verantwoordelik verwyder en spuitopdragte word aan operateurs verskaf. Werknemers ontvang opleiding in veilige hantering, wat die risiko vir mens en omgewing beperk.

Kontantvloei as hoeksteen
Vir Truter is kontantvloei die kern van ’n volhoubare besigheid. Hy hou streng rekords, beplan kontantvloei jaarliks vooruit en verse­ker dat elke been van die onderneming – of dit nou ’n koringland of ’n skaapkudde is – sy eie koste kan dra. Hierdie finansiële dissipline beteken dat hy nie afhanklik raak van skuld in swak jare nie en in goeie jare slim kan belê in implemente en grond. Sy raad is eenvoudig: “As jy nie jou kontantvloei reg bestuur nie, gaan niks anders in jou boerdery reg loop nie.”

Meganisasie en tegnologie
Met groot ervaring in meganisasie verkies Truter om implemente betyds te vervang in goeie jare, sodat hy nie in swak jare met groot skuld vasgevang word nie. Hy sit eerder groot deposito’s neer om finansiële risiko te beperk. Klein herstelwerk doen hy self, maar vir groter instandhouding vertrou hy op spesialiste en verskaffers.

Hierdie praktiese benadering het ’n eenvoudige doel: verseker dat die boerdery altyd oor betroubare, koste-effektiewe toerus­ting beskik wat produksie nie vertraag nie. “Die geheim is om nie jou hand te oorspeel nie. In goeie tye bou jy jou vloot, in swak tye vertrou jy op wat jy het,” verduidelik hy. Kontrakteurs word ingespan vir kuilvoerbale en medics-hooi, aangesien dit nie sin maak om eie toerusting vir beperkte volumes aan te hou nie.

Truter glo daarin om implemente te vervang in goeie jare sodat hy nie met baie skuld opgeskeep sit in swak jare nie.

’n Span wat saamwerk
Truter beskou sy span as ’n kernbate. Hy werk saam met ’n plaasbestuurder wat hoofsaaklik die vee-afdeling hanteer, terwyl hy self op die saaiery en administrasie fokus. Hy glo in oop kommunikasie, deel alle besluite met sy vrou en stel duidelike verantwoordelikhede vir elke werknemer.

Sy filosofie is dat werknemers nie net betaal moet word vir hul ure nie, maar ook ’n gevoel van eienaarskap moet hê. Hierdie beginsel pas hy self in bemagtigingsprojekte toe, waar werknemers ’n aandeel in die besigheid kry mits hulle aktief bydra. Veiligheid word ernstig opgeneem, met opleiding in die gebruik van masjinerie en chemikalieë. Besluite word dikwels in spanverband geneem, wat ’n kultuur van deelname skep.

Bemarking en verskansing: ’n oog vir geleenthede
As ’n sakegeesdriftige en produsent, kyk Truter verder as net die plaashek. Hy spekuleer met eiendomme in Malmesbury en belê op lang termyn in aandele – nie om vinnig wins te maak nie, maar om ’n stabiele finansiële basis te bou. Sy koring word bemark met verskansingstrategieë wat risiko beperk en stabiliteit verseker, terwyl sy vee-afdeling ’n likiede kontantbuffer bied wat hom in moeilike tye deurtrek. Sy benadering weerspieël sy algemene filosofie: diversifiseer, wees strategies en maak gebruik van kundigheid waar dit beskikbaar is.

Bemagtiging in praktyk – bou saam met ander
Een van Truter se trotsste prestasies is sy betrokkenheid by bemagti­gingsprojekte. Hy was lank betrokke by die plaaslike landbouvereni­ging en die Moorreesburg-skou. Sy grootste gemeenskapsbydrae lê egter in die Knolkop Bemagtingstrust. Hy het saam met vennote ’n trust geskep waarin werkers ’n aandeel het, met die doel om hulle nie net finansieel nie maar ook met kennis en vaardighede te bemagtig. Hoewel dit uitdagings gebied het – veral rakende finansie­ring en uitbetalings – glo hy dat dit die regte pad is om ’n volhoubare toekoms vir landbou in Suid-Afrika te bou. Hy is ook aktief in plaaslike strukture, ondersteun kursusse vir ontwikkelende boere en deel ge­reeld sy kennis oor finansiële bestuur en produksiepraktyke.

Realisme en hoop
Truter is positief oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika, maar realisties oor die uitdagings. Hy weet dat produsente nie beheer het oor internasionale pryse of plaaslike reënval nie, maar dat beleid rakende grondhervorming, bemagtiging en insetkoste ’n groot rol speel. Hy glo grondhervorming kan werk indien dit korrek en op ’n vennootskapsbasis benader word. Sy eie bemagtigingsprojek dien as voorbeeld dat gedeelde eienaarskap moontlik is sonder dat produktiwiteit ingeboet word. Sy benadering is om betrokke te bly, by te dra waar hy kan en aan te hou druk vir ’n beleidsomgewing wat produsente in staat stel om volhoubaar te produseer.

Hy beklemtoon verder die rol van Graan SA as bedryfsorgani­sasie: van onderhandeling oor brandstofkortings en invoertariewe tot die verdediging van produsente se bestaansreg. Volgens hom moet organisasies soos Graan SA finansieel bly funksioneer soos nou – deur produsenteheffings – omdat hulle kollektiewe bedingingsmag onontbeerlik is.

’n Produsent met visie en balans
JP Truter se reis van jong produsent met beperkte grond tot ’n gevestigde produsent en sakepersoon, is ’n getuienis van sy geloof in harde werk, finansiële dissipline en volhoubare praktyke. Hy het oor drie dekades bewys dat volhoubare boerdery nie net gaan oor tegnologie of opbrengs nie, maar oor die bestuur van hulpbronne, mense en geld met wysheid en respek. Sy filosofie – dat sukses spruit uit balans, tydsberekening en die opbou van gesonde gronde – maak hom nie net ’n waardige finalis vir die Graanprodusent van die Jaar-toekenning nie, maar ook ’n rolmodel vir die volgende geslag produsente.

’n Lewe van volhoubare groei en generasie-oorskryding in graanboerdery

Hansie Viljoen, Leeudoringstad

In ‘n gesprek met Hansie Viljoen van Leeudoringstad, is dit gou duidelik dat sy pad in die landbou nie sommer net oor gewasse, trekkers en syfers gaan nie. Dis ’n verhaal van familie, dissipline, aanpasbaarheid en die voortdurende strewe om ’n nalatenskap van volhoubare boerdery agter te laat. As Graanprodusent van die Jaar-finalis, verteenwoordig Hansie nie net tegniese vernuf en goeie bestuur nie, maar ook ’n diep waardering vir die mense, grond en gemeenskappe waarmee hy daagliks werk.

Van gesinsplaas na gesinsbesigheid
Viljoen se boerderypad het begin by sy ouers – veral sy ma, wat self ’n kranige boervrou was. “As ek raad nodig gehad het, het my pa altyd gesê: ‘Vra jou ma,’” vertel hy glimlaggend. Hierdie eenvoudige woorde het hom diep beïnvloed, want dit het hom geleer dat kennis en ervaring nie net aan een geslag of een geslagtelike rol behoort nie. Met ’n BAgric-graad van die Universiteit van die Vrystaat het hy in 1986 saam met sy ouers in dié gemengde boerdery wat graan, vee, ’n voerkraal en melkery insluit, begin boer.

Met verloop van tyd het hy self die leisels oorgeneem en die boerdery het ontwikkel van ’n familieplaas na ’n groot, gestruk­tureerde gesinsbesigheid waarin sy drie seuns nou ook betrokke is. Elke kind bring sy eie belangstelling en vaardighede; saam dra hulle by tot ’n diversiteit van insette en besluite. Hierdie generasie-oorskryding het die boerdery se kapasiteit verdriedubbel en maak Viljoen besonder trots: “Dis makliker om suksesvol te wees as jy kinders het wat saam met jou wil boer. Mense is ’n onmisbare deel van jou besigheid.”

Kobus is saam met sy oupa by Tau Meule, Dihan hanteer die beesvertakking en Henrikus is betrokke by die besproeiings- en die wildboerdery. “Al drie kan egter alles doen, want hulle moet tog een­dag met alles boer. Dit is vir my maklik om my stokkie oor te gee, want die kinders doen dit immers beter as ek.”

’n Wye voetspoor
Die Viljoen-boerdery strek oor dele van die Vrystaat en Noordwes asook Ghanzi in Botswana. Die onderneming sluit sowel droëland- as besproeiingsproduksie in en is gekoppel aan ’n eie meule wat die waardeketting verleng en diversifiseer. Hulle verbou mielies, soja­bone, aartappels en koring tesame met ’n Droughtmaster- en ’n Simmentaler-stoet asook ’n kommersiële Charolais-kudde. Viljoen beklemtoon die belang van risikoverspreiding: van mielies en sojabone op droëland tot aangeplante weidings, ’n voerkraal en selfs aartappelproduksie. Hierdie kombinasie bied stabiliteit in ’n bedryf waar pryse, klimaat en insetkoste dikwels buite produsente se beheer is. “Die beeste is vir ons ’n buffer – as die graanprys swaar kry, dra die diere by om die risiko te balanseer.”

Presisie, tegnologie en grondgesondheid
As ’n groot voorstander van presisieboerdery en die gebruik van tegnologie om opbrengste en effektiwiteit te verbeter, beskryf hy hoe hul planters, trekkers en stropervloei soos ’n “geoliede masjien” funksioneer – selfs snags, danksy moderne beligting en GPS-tegno­logie. Mielies, as hoofgewas, word ongeveer elke vier jaar met sojabone afgewissel en laerpotensiaallande word oorgelê indien daar nie genoeg vog in die grond is nie. Die vorige paar seisoene was die vensterperiode om klaar te plant 14 dae.

Presisieboerdery word ten volle toegepas en ’n belangrike fokus is grondgesondheid. Deur variërende kalktoediening, rotasies en die insluiting van biologiese produkte werk die Viljoens daaraan om die biologie van hul gronde te versterk. Wisselbou met sojabone het ook al merkbare verbeterings in grondstruktuur en opbrengste gebring. Jaarlikse kultivarkeuses word uitgeoefen op dit wat die Viljoens ken en proewe word geplant met nuwe kultivars wat potensiaal toon. Opbrengsmikpunte word bepaal volgens die potensiaal van ge­karteerde gronde en langtermyn- gemiddelde data word inge­span om te meet en met die omgewings- en nasionale opbrengste te vergelyk.

Die boerdery sluit sowel droëland- as besproeiingsproduksie in en is gekoppel aan ’n eie meule wat die waarde­ketting verleng en diversifiseer.
Mielies, as hoofgewas, word ongeveer elke vier jaar met sojabone afgewissel.

Balans tussen chemie en biologie
Hoewel chemiese middels steeds ’n rol speel, beweeg Viljoen doelbewus na ’n meer geïntegreerde en biologiese benadering.

Hy vertel van proewe waar biologiese oplossings soms gelyke of selfs beter resultate as konvensionele chemiese middels gelewer het. Die geheim, sê hy, is om ’n balans te handhaaf: “Enige stremming – of dit nou ’n plaag, onkruid, hitte of wind is – kos jou opbrengs. Hoe beter jy daardie stremmings uitskakel, hoe sterker trek jou plant weg.” Plantgesondheid is van kritieke belang en word gemonitor deur blaarontledings. Die doel is om plante groeikragtig te stimuleer vir maksimum beskerming aangesien goeie wortelontwikkeling van kardinale belang is. Plante moet op die regte manier begin en kry kos deur die wortels.

Dissipline en mitigering van risiko
Viljoen beskryf boerdery as ’n “riskante besigheid” waar twee swak seisoene ’n mens tot op jou knieë kan bring. Hy hou ’n swart boekie waarin alle koste, opbrengs en besluite deeglik aangeteken word. Begrotings word streng nagevolg en maandeliks hersien. Die boer­dery se finansiële sukses word toegeskryf aan streng dissipline en die optimale gebruik van toerusting – niks word aangekoop as dit nie nodig is nie en elke stuk masjinerie moet maksimum waarde lewer. Die boerdery finansier homself en werk met ’n streng jaarlikse begroting wat maandeliks opgevolg en deur ouditeure gekontroleer word.

Om rekordhouding te verbeter, is ’n nuwe stelsel, Xero, geïmplementeer wat fyn insig bied in elke vertakking se koste en opbrengste, sowel as voertuig- en trekkeruitgawes. Begrotings en kontantvloei word voortdurend op Excel gemonitor en reggestel. Daarbenewens word Africlock gebruik om werkers se ure en dieselverbruik akkuraat na te spoor, terwyl alle aankope streng deur ’n goedkeuringsproses gaan – van kwotasies en bestellings tot WhatsApp-bevestigings wat daarna in Excel ingevoer word. Hierdie kombinasie van dissipline, tegnologie en noukeurige rekordhouding verseker dat die boerdery finansieel volhoubaar en doeltreffend funksioneer.

Daar word ook voortdurend besin oor gelykbreekpunte en prysscenario’s. “Ons moet altyd weet teen watter prys ons wins kan maak. As jy nie jou syfers ken nie, bestuur jy blind,” verduidelik hy. Hierdie finansiële dissipline stel die onderneming in staat om groot kapitale uitlegte, soos die aankoop van nuwe trekkers of planters, verantwoordelik te hanteer.

Maksimum uitset teen minimum koste
Die Viljoens bestuur ’n indrukwekkende vloot trekkers, bakkies en vragmotors, waarvan sommige al meer as 20 000 ure gewerk het. Hulle glo nie in roekelose vervanging nie, maar eerder in die optimale benutting van elke masjien. ’n Eie span werktuigkundiges en streng instandhouding beteken dat selfs ouer trekkers steeds produktief is. John Deere se Operations Center word gebruik om trekkers se werkure en diens­rekords digitaal te monitor, terwyl plaasbestuurders en WhatsApp-verslae help om alles op Excel vas te lê. Die vloot bestaan uit ’n verskeidenheid trekkers van 75 kW tot meer as 300 kW, aangevul deur selfaangedrewe spuite en stropers vir mie­lies en sojabone. Die beleid is om trekkers nie sommer blindelings te vervang nie, maar eers wanneer dit finansieel en prakties geregverdig is. 9 000-reeks trekkers lewer gemiddeld 1 700 tot 2 000 ure per jaar en een word elke jaar vervang. Die Viljoens probeer om trekkers na sowat 6 000 ure te vervang. Die 200 kW-trekkers word elke vierde of vyfde jaar vervang na gelang van hul finansiële posisie. “Ons het heelwat kleiner trekkers, met 20 000 ure of meer, wat ligte take verrig.”

Stropers, wat swaar werk op sojabone doen, word ongeveer elke drie jaar of op grond van tonnemaat vervang. Viljoen beklemtoon die belang van koste-analise: “Daar is altyd ’n sweet spot tussen herstelkoste en vervangingskoste. Ons stelsels wys vir ons wanneer dit tyd is om oor te skuif.” Kontrakteurs word ook strategies ingespan – nie net vir kostebesparing nie, maar om te voorkom dat te veel kapitaal in toerusting vasgevang word. Die gebruik van kontrakteurs maak dit moontlik om hoëkoste-implemente soos spuite en planters meer doeltreffend aan te wend sonder om self alles te besit.

Die beeste dien as ’n buffer – as die graanprys swaar kry, dra die diere by om die risiko te balanseer.
Viljoen het sy eie span werktuigkundiges op die plaas wat meebring dat ouer trekkers steeds produktief is weens streng instandhouding.

Spanwerk en motivering
Met meer as sewe plaasbestuurders en verskeie spanne werkers, verg die bestuur van arbeid besondere aandag. Viljoen glo in oop kommunikasie en winsdeling. Werknemers ontvang addisionele vergoeding vir nagskofte en word betrek by beplanning en besluit­neming. “Ons sit elke oggend saam oor koffie en praat oor die dag se werk. Dit bou ’n spangees en gee vir elkeen ’n gevoel van eie­naarskap,” verduidelik hy.

’n Langnaweek elke maand dien as ’n ekstra motiveringsfaktor om balans en welstand te handhaaf. “Langtermynverhoudings is vir ons belangrik – van die mense werk al meer as 20 jaar hier. Ons glo ook aan langtermynverhoudings met insetverskaffers; ons werk net met mense wat waarde tot ons besigheid kan voeg en hulle is ’n onmisbare deel daarvan. Die kantoor is die hartklop van die boerdery; dit is belangrik dat as jy na werk by die huis kom, jy in ’n ontspanne atmosfeer kan afskakel en rus.”

Slim risikobestuur
Met groot volumes graan en beesvleis wat die mark betree, is bemarking en verskansing ’n kritieke deel van die boerdery. Dihan is verantwoordelik vir die kontraktering van graan, en gebruik voorwaartse kontrakte, pryspoele en verskansingsinstrumente om prysskommelings te bestuur. Besluite rakende hoe­veel van watter gewas waar geplant word, word gekoppel aan prysscenario’s en uitvoerpariteit. “Ons moet altyd vra wat die beste netto uitkoms per hektaar gee. Dit gaan nie net oor tonnemaat nie, maar oor wins­gewendheid.”

Hansie is verantwoordelik vir die bemarking van die vee en Henrikus van die wild. Die beeste is op Livestock Intelligence gelaai, ’n stelsel waar elke bees gemerk is. Hulle beweeg deur die drukgange, word geweeg, geklas en self geskei. Al die inligting word outomaties op die stelsel gelaai. By die wildboerdery is daar elandteelgroepe op vier plekke. Seleksie is streng volgens fisiese grootte en horings om in balans te bly. DNS-monsters word geneem om naspeurbaarheid te verseker.

’n Pleidooi vir ruimte om te boer
Vir Viljoen is die grootste uitdaging in die beleids­omgewing dat produsente dikwels met onnodige beperkings en onsekerhede gekonfronteer word. Hy waarsku dat die huidige model vir grondhervorming en SEB voedselveiligheid in gevaar stel en glo dat
suksesvolle hervorming eerder deur mentorskap en gefaseerde ondersteuning oor jare heen bereik kan word. Graan SA speel volgens hom ’n onmisbare rol as spreekbuis en skakel tussen produsente en die regering – ’n organisasie wat vinnig en doeltreffend namens sy lede kan onderhandel.

Wat die toekoms van landbou betref, beklemtoon hy die dringendheid dat die wêreld se bevol­king gaan verdubbel, maar dat grond nie meer word nie. Produsente sal dus goedkoper en meer effektief moet produseer, met tegnologie en voorspellings wat elke inset en opbrengs akkuraat moet bestuur. Hy stel voor dat georganiseerde landbou in die toekoms deur produsentefondse, statutêre heffings en borgskappe befonds word, en dat produsente meer op horisontale uitbreiding, besproeiing en diversifikasie fokus om volhoubaar te groei. Uiteindelik is sy boodskap eenvoudig: “As die politici ons net kan los om volhoubaar kos te produseer, sal die boere die res doen. Ons het die kennis, die tegnologie en die wil – ons kort net ’n stabiele speelveld.”

Bou aan meer as net ’n plaas
Die Viljoens se betrokkenheid strek verder as hul plaashekke. Hulle dra by tot plaaslike skole, ondersteun plaaswerkers se families en stel hul infrastruktuur beskikbaar vir gemeenskapsveiligheid, onder andere deur brandbeheer en misdaadvoorkoming. Viljoen glo sterk in mentorskap: “Ons ouer boere moet mentors wees vir die jonger manne. Hulle bring nuwe idees en energie, en ons erva­ring help hulle om die foute te vermy wat ons al gemaak het. Ek sê altyd: nuwe manne, nuwe planne. Ek het self al ’n paar mentors in my lewe gehad wat ’n groot rol gespeel het, soos Brand Pretorius en John Trollip.” Die seuns het ook verskeie mentors. Vir Viljoen is dit belangrik in enige mens se lewe en hy eer produsente wat hul kennis met jongmense deel.

’n Pad vorentoe: effektiewer, gesonder en meer volhoubaar
Wanneer hy oor die toekoms praat, dink hy in dekades. Hy glo dat opbrengste nog verder verhoog kan word deur beter kultivars, verbeterde biologiese grondgesondheid en meer doeltreffende gebruik van sonlig en water. Hy sien ook groot potensiaal in verdere horisontale en vertikale uitbreiding en diversifikasie. Wat hy egter die meeste beklemtoon, is die rol van familie: “Ons boerdery sal net bly groei as ons saamwerk. Dis nie net my droom nie, dis ons gesin se droom.”

’n Produsent wat volhoubaarheid en gemeenskapsgees kombineer

Riaan Taljaard, Hoopstad

Riaan Taljaard van Hoopstad is ’n produsent wat boerdery nie net as ’n beroep sien nie maar as ’n lewenspad. Hy is nie verniet ’n Graanprodusent van die Jaar-finalis nie. Sy dissipline, fyn rekordhouding en liefde vir plante het Niekerkskuil Boerdery ontwikkel tot ’n toonbeeld van hoe moderne graanboer­dery kan lyk.

Wortels en waardes
Taljaard se boerderypad loop diep in die familiegeskiedenis. Sy oupa het in Wesselsbron begin boer, en sy pa, Jontie Taljaard, het die grondslag gelê waarop hy vandag bou. In 1997 het hy self die plaaslewe betree, met formele opleiding in hulpbronbenutting en praktiese dissipline by die huis geleer. Boerdery is sy stokperdjie en passie van geboorte af. Hy sê self: “Ek hou meer van plante as van diere. Plante gee jou die geleentheid om te skep, te verbeter, te bou.” Dit is dié passie wat sy loopbaan stuur: nie net om te plant nie, maar om die potensiaal van elke pit te ontgin. Indiensopleiding was sy sleutel tot sukses en hy het tot nou toe die meeste uit sy eie foute geleer.

Die Vrystaat se vlaktes
Niekerkskuil is ’n tipiese Vrystaatse droëlandgraanplaas – wyd uitgestrek, met lande wat vir mielies, sojabone en sonneblom benut word. Taljaard het lank gelede besluit om sy boerderystelsel streng op wisselbou te baseer. Hierdie rotasie hou die grond gesond en laat hom die risiko’s van klimaat en pryse beter bestuur. Hoewel hy vroeër ook koring aangeplant het, is dit nie meer deel van sy produksie nie – ’n voorbeeld van hoe hy aanpas by marktoestande en omgewingsrealiteite. Niekerkskuil is ook die tuiste van Taljaard se beeste, aangehou op veld en aangeplante weiding, en 155 stuks wild, bestaande uit swartwitpense, lechwes, springbokke en swart rooibokke.

Proefneming en pitgewig
Taljaard is ’n produsent wat glo aan toets, meet en weer toets. Hy pas ’n 24-maande-oorlêstelsel toe op ’n vyf­de van die lande. In sy wisselboustelsel maak mielies die helfte van die geplante hektare uit en sojabone en sonneblom die ander helfte. Op dié watertafelgronde is vogbestuur deurslaggewend: As die tafels vol is, word daar geplant, en indien nie, word oorgelê of sonneblom geplant. Aangesien die sandgronde vinnig verdig en ’n gebrek aan suurstof tot gevolg het, rip hy 750 mm diep op die ry met minimumbewerking na die primêre bewerking.

Hy doen jaarliks kultivarproewe op die plaas, en hy gebruik presisie-instrumente om plantestand, rywydtes en bemes­ting te optimaliseer. Die manier van dinge doen op Niekerks­kuil be­vestig sy fokus op presisie – van kalktoediening tot die gebruik van vloeibare kunsmis en rywydtes wat by sy grond aangepas is.

Vir hom lê die geheim van sojabone in die pitgewig. Wanneer pitte swaarder is, wys dit dat voeding, vog en kultivar reg bestuur is. Taljaard se boerdery toon konsekwente pogings om daardie balans te vind. Sojabone en sonneblom kry dieselfde aandag, met spesifieke strategieë om siektes en standprobleme te voorkom.

Niekerkskuil het 155 stuks wild, bestaande uit swartwitpense, lechwes, springbokke en swart rooibokke.

Voorkom eerder as genees
Hy is realisties oor plae: Hulle gaan kom, maar hulle hoef nie jou oes te steel nie. Hy gebruik saadbehandeling en voorkomende programme by mielies, en by sojabone fokus hy op uitdagings soos bolwurm en Sclerotinia. Die beginsel van skoner lande word streng gehandhaaf. Onkruide word as direkte mededingers gesien wat vog steel – en in die Vrystaat is vog goud werd.

Taljaard sien meganisasie as ‘n strategiese keuse en balanseer nuwe elektronika met praktiese betroubaarheid.

Rekordhouding as anker
Die finansiële sukses van die boerdery word eerstens toegeskryf aan genade van Bo. “Selfs met van die beste toerusting, goeie gronde en goeie werkers, is daar niks sonder reën nie,” beklemtoon hy. Een van sy sterkpunte is die fokus op rekordhouding, vergelyking en ’n hand hou op elke aspek van die boerdery. Hy gebruik syfers uit verslae en proewe om te besluit waar hy moet verbeter.

Vir hom gaan finansiële bestuur oor dissipline: om elke besluit te baseer op data en nie emosie nie. En altyd met die reël dat produksie eer­ste kom – masji­nerie of ander uitgawes volg eers as kontantvloei dit toelaat. Begro­tings word ’n jaar vooruit opgestel en kennis van oorhoofse en insetkoste vergemaklik be­sluitneming.

Groot stelsels, groot doeltreffendheid
Op Niekerkskuil is meganisasie nie ’n luuk­se nie, maar ’n strategiese keuse. Groot plan­ters, presisietegnologie en doeltreffende trek­kers maak dit moontlik om planttyd binne die ideale venster af te handel. Brandstofverbruik en bewerkingspraktyke word deur­lopend gemeet en tegnologie beteken niks as dit in planttyd stilstaan veroorsaak nie – daarom balanseer hy nuwe elektronika met praktiese betroubaarheid. Sy kernbeginsel: “Meer hektare per trekkeruur, min­der diesel, en altyd betyds.”

Mense is die kern
Taljaard se span is relatief klein, maar ui­ters produktief. Met honderde hektaar per werker bo die gemiddeld, wys sy boerdery hoe meganisasie en menslike kapasiteit hand aan hand loop. Maar sy filosofie is nie net oor uitsette nie. Hy bou doelbewus aan sy mense. Elke week begin met Skrifle­sing en gebed; hy het selfs ’n ou kerksaal op die plaas omskep as ’n plek vir geestelike groei. Hy plaas groot klem op opleiding, kontrakte en waardigheid. Niekerkskuil se mense werk nie net vir hom nie – hulle werk saam met hom.

Speel veilig, maar slim
Sy benadering tot bemarking is konserwatief maar strategies. Hy verkoop nooit te veel vooruit nie, en probeer meestal buite seisoen bemark as die stroopdruk verby is tesame met die gebruik van Safex en oesversekering om risiko’s te beperk. Kontrakte word slim benut en altyd met versigtigheid om nie spekulasie toe te laat nie. Vir hom is stoorfasiliteite ’n kritieke wapen. Dit gee hom tyd – die waardevolste hulpbron in bemarking. Met tyd kan hy van agter af bemark en beter pryse kry sonder dat kwaliteit verlore gaan.

Die boerdery is realisties oor plae, maar Taljaard reken dat hulle nie jou oes hoef te steel nie. Hy gebruik saadbehandeling en voorkomende programme by mielies, en by sojabone fokus hy op uitdagings soos bolwurm en Sclerotinia. Die beginsel van skoner lande word streng gehandhaaf.
Vir Taljaard is stoorfasiliteite ’n kritieke wapen. Dit gee hom tyd, wat dit moontlik maak om van agter af te bemark en beter pryse te kry sonder dat kwaliteit verlore gaan.

Saam staan produsente sterker
Taljaard is nie ’n eensame boer nie. Hy is aktief betrokke by streeksgroepe en georganiseerde landbou. Sy betrokkenheid by strukture soos die EBuro, waar produsente saam kennis deel en uitdagings hanteer, is van kernbelang. Vir hom is dit eenvoudig: Produsente het ’n gesamentlike stem nodig. Hy is ook voorsitter van ’n kommissie by die NG Kerk Hoopstad, het ses jaar op die tehuis van bejaardes se beheerliggaam gedien en dien ook tans as ondervoorsitter van Hoërskool Hoopstad se beheerliggaam.

Toekennings is ook nie nuut vir dié vorige finalis in die Vrystaat se Jongboer van die Jaar-kompetisie en wenner van Hoopstad se hektaarkompetisie nie. Taljaard ondersteun Graan SA se rol as bedryfs­organisasie en glo dat produsente net volhoubaar kan wees as hulle saamwerk.

Waaksaam en betyds
Hy hou fyn dop wat in die beleidsomgewing gebeur – van die dieselrabat en insetregulasies tot wetgewing oor plaagdoders – en glo landbou-organisasies soos Graan SA se werksaamhede plaas geld terug in die produsent se sak. Hy is bekommerd dat produsente soms te laat reageer. “Jy kan nie wag tot ’n wet geteken is en dan kla nie. Jy moet betyds insette gee – net soos met alles in boerdery.” Hierdie ingesteldheid weerspieël sy hele filosofie: Sukses lê in betyds besluite neem.

Boerdery as dissipline en roeping
As ’n mens Taljaard se boerdery in een woord moet opsom, is dit “betyds”. Sy rekordhouding, sy dissipline, sy geloof in mense en sy liefde vir presisie wys waarom hy ’n rolmodel vir die graanbedryf is. Sy toekomsvisie vir landbou in Suid-Afrika is rooskleurig – ’n duidelik toonbeeld van sy positiwiteit. Hy glo produsente word deur vele uitdagings in die gesig gestaar, maar dat uitdagings weer geleent­hede skep. Sy langtermynbeplanning is geskoei op groei en volhoubaarheid.

Met Niekerkskuil as voorbeeld wys hy dat sukses nie net in ton per hektaar gemeet word nie, maar ook in integriteit, respek vir mense en ’n visie vir die toekoms. Hy verdien nie net sy status as finalis in die Graanprodusent van die Jaar-toekenning nie, maar is ook ’n inspirasie vir sy medeprodusente.