Wanneer ’n gemeenskap se paaie verspoel of verweer en noodsaaklike dienste tot stilstand kom, is dit dikwels die produsente wat die meeste het om te verloor en wat eerste ’n plan maak. Só het dit ook in Bothaville gebeur, toe die S636-pad in Mei vanjaar weens vloede onbegaanbaar geraak het.
Vir plaaslike produsente en inwoners was dit meer as net ’n padprobleem, dit het beteken dat kommoditeite nie vervoer kon word nie en dat kinders nie by die skool kon uitkom nie.
“Ons moes self ’n plan maak”
Volgens Isak Otto, ’n produsent in die omgewing, het dit vinnig duidelik geword dat die padowerheid nie oor die finansies of mannekrag beskik om die pad te herstel nie. “Toe dit duidelik word dat die pad nie gou herstel gaan word nie, het die produsente wat daagliks van die pad gebruik maak bymekaargekom en self besluit om die probleem aan te pak,” vertel hy.
Produsente en ander padgebruikers het fondse bewillig en ’n padfonds is gestig. Hiermee is kontrakteurs gehuur, terwyl die stadsraad wel sekere toerusting en diesel voorsien het. Daar was egter nie operateurs wat die toerusting kon beman nie en ’n gekwalifiseerde operateur van Wolmaransstad het hom by die projek aangesluit. Spanne bestaande uit plaaslike inwoners en produsente het gereeld tot laat in die aande en selfs oor naweke gewerk.




7 km in rekordtyd herstel
Hierdie toewyding en spanpoging het daartoe gelei dat sowat 7 km van die pad in ’n kort tyd herstel is. Dit was geensins ’n maklike taak nie, aangesien die pad met dryfsand verspoel is en dele daarvan tot 1,5 m gelig moes word. Selfs ’n T-aansluiting op die roete is in die proses opgeknap. “Dit was ongelooflik om te sien hoe almal betrokke geraak het – of dit nou was om met masjinerie te help of net om kos en water vir die werkers te bring,” sê Jacques van der Merwe, ’n produsent in die gebied en Graan SA-Raadslid.
Hierdie spanpoging het beteken dat ’n gedeelte van die pad betyds gereed was vir NAMPO in Mei, sodat uitstallers en besoekers dit kon gebruik. Die res van die herstelwerk het sowat twee maande geduur.
Inspirasie vir ander
Sedertdien is ook ’n tweede pad, die T1045, aangepak. Ongeveer 4 km van dié tersiêre pad is herstel, en dit het ander produsente in die omgewing geïnspireer om hul eie paaie te takel.
Wat Otto en sy kollegas veral beklemtoon, is die goeie samewerking met die plaaslike paaiedepartement. “Graag wil ons vir Alina Marumo en Lood Pretorius van die plaaslike paaiedepartement bedank vir hulle toewyding en hulp. Hulle het gesorg dat die projek van toerusting en diesel voorsien is, wat baie gehelp het. Ons het regtig goeie ondersteuning van hulle gekry. Dit wys wat moontlik is as die regering, produsente en die plaaslike gemeenskap saamstaan,” sê hy.

Die pad vorentoe
Vir die Bothaville-produsente is hierdie ervaring meer as net padherstel. Dit is ’n bloudruk vir verantwoordelike gemeenskapsbetrokkenheid. “Ons visie vorentoe is om geleenthede te skep waar die gemeenskap, besighede en die regering saam kan werk deur nie net probleme op te los nie, maar ook om vooruit te beplan en verantwoordelikheid vir begroting en besteding te neem,” verduidelik Van der Merwe.
“Ons moet leer om oplossings te vind, eerder as om net te kritiseer, selfs al is dit nie altyd ons verantwoordelikheid nie,” sê hy. “Wanneer ’n gemeenskap saamstaan, kan daar ongelooflik baie vermag word. Vir produsente is die risiko eenvoudig te groot om stil te sit, want die finansiële verliese as jy nie jou graan betyds kan uitkry nie, kan verwoestend wees.”
In ’n tyd waar uitdagings soms groter as die voorraad hulpbronne voel, is die Bothaville-padprojek ’n bewys dat samewerking, opoffering en iemand wat verantwoordelikheid neem ’n gemeenskap weer op koers kan plaas.

















