Die waarde van hoë reënval in April

Gepubliseer: 2 September 2025

1026
Dr André Nel,
voormalige LNR-navorser en SOK-medewerker

Dr Danie Beukes, voormalige LNR-navorser en SOK-medewerker

Vir graanproduksie in die noordwes-Vry­staat, soos eintlik in alle graanproduse­rende dele van die somersaaigebied met sy semidroë klimaat, is reënval verreweg die beperkendste natuurlike hulpbron. ’n Kenmerk van dié reënval is dat dit uiters wisselvallig is. Van seisoen tot seisoen kan die totale hoeveelheid reën veelvoudig wissel en droogte is oorbekend.

Die verspreiding van reën binne die seisoen wissel ook baie, wat gereeld korttermyndroogtes tot gevolg het. ’n Les wat almal al geleer het, is dat ’n droë periode in Januarie en/of Februarie dikwels ’n groter impak op graanproduksie kan hê as wat die totale hoeveelheid reën van die seisoen het.

Klimaatsverandering
Voorspellings dui daarop dat die wisselvalligheid van die reën gaan toeneem weens klimaatsverandering. Dit is presies die teenoorgestelde van wat ons graag wil hê moet gebeur. Die gemiddelde temperatuur van die aarde se atmosfeer het volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens reeds met 1,55 ± 0,13 °C bo die gemiddelde temperatuur van 1850 tot 1900 verhoog (South African Weather Service, 2025).

Vir elke 1 °C waarmee die atmosfeer se tempe­ratuur verhoog, neem die atmosfeer se waterhouvermoë met 7% toe. Die verhoogde waterdampinhoud, wat self ’n kweekhuisgas is en aardverwarming aanhelp, asook hoër temperatuur is die oorsaak van die groterwordende wisselvalligheid van die weer.

Buitengewoon hoë reënval in die laat somer wat die afgelope 25 jaar gereelder as voorheen in die noordwes-Vrystaat voorkom, kan moontlik aan klimaatsverandering toegeskryf word.

’n Toename in wisselvalligheid beteken dat die hoeveelheid en intensiteit van reënval gaan toeneem. Dieselfde geld ongelukkig ook vir droogtes, en klimaatkundiges wys daarop dat klimaatsverandering slegte nuus vir graanproduksie is.

Bestaan daar al enige bewyse dat klimaatsver­andering reeds ’n werklikheid in die noordwes-Vrystaat is?

Dit lyk of daar nie ver gesoek hoef te word nie. Op Springboklaagte, die plaas van Danie Minnaar naby Kroonstad, word die reënval sedert 1906 aangeteken. Gedurende die eerste 95 jaar tot en met 2000, is slegs een keer (1911) meer as 150 mm reën vir April aangeteken. Sedert 2001, dus die afgelope 25 jaar, het dit reeds vier keer meer as 150 mm in April gereën. Die hoogste reënval vir Februarie tot April sedert 1906 is in 2025 gemeet.

Dié patroon van reënval word ondersteun deur dit wat op die plaas Visagieskuil van Thabo van Zyl naby Wesselsbron gemeet is. Vanaf 1926 het dit vir die daaropvolgende 74 jaar slegs twee keer meer as 150 mm in April gereën. Vanaf 2001 tot 2025, dus die afgelope 25 jaar, het dit drie keer meer as 150 mm gereën.

Die frekwensie van hoë reënval in April het dus gemiddeld van een keer in 63 jaar voor 2000 tot een keer in sewe jaar daarna toegeneem en is bes moontlik ’n aanduiding van wat in die gebied gebeur. Of dié verandering die gevolg van klimaatsverandering of blote toeval is, sal slegs die tyd leer.

April 2024 en 2025
In April 2024 en April 2025 was die reënval op die twee plase besonder hoog en het dit tussen 2,6 en 4,6 keer die langtermyngemiddelde van sowat 48 mm ge­reën. Dié reën het te laat geval om tot groot voordeel vir die somergewasse te wees en dit het die grondprofiel met ’n hoë waterinhoud aan die begin van die winter gelaat.

Die sandgrond van die noordwes-Vrystaat waar die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) onder leiding van Danie Minnaar navorsing doen, is bekend daarvoor dat heelwat water in die grondprofiel deur die winter behoue kan bly. Groot waarde word aan dié water geheg, want dit verlaag die risiko vir ’n mis­oes vir die gewas wat in die opvolgsomerseisoen verbou word.

Waterverlies
Die verlies van profielwater deur die droë winter vind weens evapotranspirasie en dreinering plaas. “Evapo” verwys na water wat vanaf die grondoppervlak verdamp en “transpirasie” na water wat deur plante in die groeiproses getranspireer word. Dreinering tot onder die worteldiepte kan ook tot die verlies bydra, veral as ’n tydelike watertafel ontwikkel het.

Voor April 2024 se reën was die grondprofiel op Springboklaagte reeds betreklik droog en die bogemiddelde April-reën van sowat 120 mm het die profiel feitlik gevul. Op 24 April 2024 is grondmonsters van die grondprofiel op drie lande geneem en die waterinhoud is bepaal. Die prosedure is na verloop van vyf braakmaande op dieselfde monsterplekke op 4 Oktober 2024 herhaal.

Vervolgens is ’n waterbalans wat die verlies en wins in ag neem oor die periode van
163 dae bereken. Gedurende die winter het dit 33 mm gereën wat as deel van die waterbalans in berekening gebring is. Die grondprofiel se waterinhoud en die berekende verlies word in Figuur 1 vir die drie lande getoon.

Figuur 1: Die waterinhoud en die waterbalans van drie lande op die plaas Springboklaagte.

Op land A en land B het 96 mm en 66 mm respektiewelik deur die winter verlore gegaan. Die monsterpunte op lande A en B was op gelyk grond en dit is duidelik dat, met uitsondering van land B op ’n diepte van 1,7 m, die verlies aan water deur die hele profiel voorgekom het.

Land C, waar die monsterpunt laag teen ’n helling was, het ’n verlies van slegs 17 mm gehad. Op ’n diepte van 1,4 tot 1,8 m het die waterinhoud selfs toegeneem. Dit is waarskynlik weens water wat lateraal vanuit die hoërliggende deel van die land gedreineer het.

Gedurende die periode van 163 dae het dus 96 mm of minder water verlore gegaan wat ≤0,6 mm per dag is. Dit is ook duidelik dat die verlies van water nie eenvormig oor ’n gebied voorkom nie, maar dat dit baie met die ligging en reliëf van ’n land en die landskap te doen het. Die landskap is golwend en meer water gaan op die kruin verlore as laer af teen die helling. Vanaf die kruin dreineer die water na die laerliggende gedeeltes waar die verlies dan oënskynlik min is.

Dekgewas
Sou die verlore water van 96 mm of minder vir produksie van hooi deur ’n winterdekgewas benut kon word, of sou dit beter wees om die verlies te aanvaar en die water wat oorbly eerder vir die komende someroes te benut?

Uit ’n ekonomiese oogpunt lyk dit nie sinvol om die verlore water te benut nie. Uit vorige werk wat deur die SOK gedoen is, was die waterverbruiksdoeltreffendheid van ’n winterdekgewas sowat 7 kg droë materiaal/ha per millimeter water gebruik. Dus sou daar ongeveer 700 kg hooi/ha met die verlore water geproduseer kon word.

’n Dekgewas kan ongelukkig nie onderskei tussen profielwater wat verlore sou gaan en dit wat oorbly nie en benut al die water, wat die grondprofiel baie droog vir die komende somergewas sou laat. Om op ’n droë grondprofiel op die sandgronde van die noordwes-Vrystaat te plant, is ’n resep vir hoë risiko. Uit ’n risiko- en ekonomiese oogpunt lyk dit dus nie of die verlore water sinvol benut kan word nie.

Uit die oogpunt van bewaringslandbou, wat die verbetering en bewaring van die grond as oogmerk het, is die plant van ’n winterdekgewas die regte ding om te doen. Die uitgangspunt is dat daar so lank as moontlik lewende wortels in die grond moet wees. Dit bevorder die grond se gesondheid deur die dekgewas wat die grond se mikrobebevolking voed en dit voeg ook organiese materiaal tot die grond by, iets waaraan die sandgronde van die noordwes-Vrystaat besonder arm is.

Nota
Die SOK streef volhoubare en doeltreffende graanproduksie na en doen proefwerk op die sandgronde van die noordwes-Vrystaat. Hulle word finansieel deur die Mielietrust ondersteun.

Verwysing
South African Weather Service. 2025. Annual State of the Climate of South Africa 2024. Pretoria. South Africa.