Sojaboonbedryf bou voort op suksesse

Gepubliseer: 1 September 2025

552
Valerie Cilliers,
SA Graan/Grain-medewerker

Suid-Afrika se sojaboonbedryf het die afgelope dekade merkwaardig gegroei. Soveel so dat die land nou basies selfvoorsienend is en op die drumpel staan om groot uitvoermarkte te bedien. Hierdie sukses is te danke aan produsente wat nie bang is vir innovasie nie, asook hul samewerking met navorsers, saadmaatskappye en bedryfsorganisasies soos Graan SA.

’n Skeptiese begin in die weste
Jozeph du Plessis, ’n produsent van Schweizer-Reneke, onthou hoe hulle in 2011 vir die eerste keer op klein skaal met sojaboonproewe begin het.

“Min het geglo dit sou werk – sojabone plant in die verre weste was ongehoord,” sê hy. Maar met die hulp van oom Patrys Lubbe van Newcastle in KwaZulu-Natal en sy 50 jaar se ervaring met sojabone, het produsente daar gou besef dat ’n onbepaalde groeier met ’n sterk wortelstelsel en ’n groeilengte van meer as 6,0 perfek inpas by die gebied se klimaat.

Groot was hul verbasing toe die eerste proewe in ’n droë jaar meer as 3 t/ha ople­wer. Hierdie prestasie het vinnig ander produsente se aandag getrek, veral in ’n tyd toe mieliepryse laag was en die laer insetkoste vir sojabone ’n finansiële voordeel gebied het. Teen 2022 was 40% van Schweizer-Reneke se produktiewe grond onder sojabone, vertel Du Plessis.

Die knellende droogtejare tussen 2012 en 2019 het baie produsente amper op hul knieë gehad, maar sojabone het die druk help verlig. “Die bogemiddelde reën van 2020, goeie opbrengste en goeie pryse het ons gehelp om finansieel te herstel,” sê Du Plessis.

Hy beklemtoon dat voortdurende proewe saam met die Landbounavor­singsraad (LNR), Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) asook saad-, kunsmis- en chemiese maatskappye ’n sleutelrol speel om plantestand, bemesting en plaagbeheer te verfyn. “Hier is heelwat produsente wat nou al meer as tien seisoene agtereenvolgend sojabone verbou het. Die vlak van kundigheid in ons area is vandag ongelooflik,” sê hy.

Volgens Du Plessis het saadmaatskappye nuwe momentum gekry om nóg beter en meer kultivars op die mark beskikbaar te stel sedert die eindpunttantiemestelsel, oftewel die SACTA-stelsel, vir sojabone in werking gestel is. “Vandag kan ons sê dat die verhouding tussen sojabone en mielies in ’n gesonde balans is. Suid-Afrika produseer tans meer sojabone as wat plaaslik verbruik word, en daarom waardeer ons Graan SA se pogings om nuwe uitvoermarkte in lande soos China en Indonesië oop te maak.”

’n Lugfoto van Riaan Taljaard se sojaboonlande.

Van eerste mislukkings tot wonderwerk-oeste
Riaan Taljaard van Hoopstad het in 2013 vir die eerste keer sojabone geplant en gelukkig nie daar opgehou nie. Met ’n opbrengs van net 0,85 t/ha het die vooruitsig vir sojabone in die gebied nie goed gelyk nie. “Ons het die verkeerde kultivar gekies,” vertel hy. “Maar toe ons in 2014 ’n 6,4-groeilengte kies, het dieselfde land 3,3 t/ha gelewer.”

Ook hier het Lubbe se raad ’n groot verskil gemaak. Taljaard beklemtoon dat sojabone se laer insetkoste en onbepaalde groei hulle veerkragtiger maak as mielies. “Mielies kry een kans om ’n kop te maak. Onbepaalde sojabone blom deurentyd en dit gee die plant ’n beter kans op sukses.”

Vandag plant Taljaard tussen 800 en 850 ha sojabone in ’n wisselboustelsel met mielies en sonneblomme. “Die 2024/2025-seisoen was ’n moeilike jaar. Tog het ons sojabone op watertafelgronde geplant en met twee maande se droogte het ons steeds 4 t/ha gestroop. Dit is ’n wonderwerk,” vertel hy.

Hy is aktief betrokke by kultivarproewe en op sy plaas alleen toets hulle tans 15 verskillende kultivars. “Ons soek ’n konstante kultivar wat Sclerotinia-druk en aalwurms kan hanteer, en wat ook goeie olie-inhoud het,” sê hy. “Maar wat vir my werk, werk dalk nie net 15 km verder nie. Daarom is strookproewe so belangrik.”

Jozeph du Plessis, produsent van Schweizer-Reneke en voormalige Graan SA-Raadslid, boer al sedert 2011 met sojabone.

Bedryfsgroei en nuwe uitvoermarkte
Volgens Corné Louw, hoof van Toegepaste Ekonomie en Lede­dienste by Graan SA, het die afgelope paar jaar groot veranderinge gebring. Twee nuwe persaanlegte in Pretoria en Swaziland het die land se perskapasiteit van 2,2 tot 2,9 miljoen ton verhoog, met moontlike planne vir nog een in Viljoenskroon.

“Danksy hierdie kapasiteit is Suid-Afrika nou bykans selfvoorsienend in sojabone,” sê Louw. “Ons verwag dat daar hierdie seisoen genoeg volumes sal wees om uit te voer na China en Indonesië – markte waarvoor Graan SA hard gewerk het om toegang te kry. Daar is ook onderhandelinge aan die gang vir uitvoer na Egipte.”

Louw is veral beïndruk met die sojaboonoeste wat in die Noordwesprovinsie; noordwes-Vrystaat en Oos-Vrystaat behaal word. “Opbrengskompetisies soos Groei vir Goud is vir ons ’n goeie aanduiding dat produsente in dié areas hulself bekwaam het as topprodusente as dit kom by die aanplant van sojabone. In die 2024-kompetisie is ’n wenopbrengs van 4,7 t/ha in Schweizer-Reneke behaal terwyl ’n opbrengs van 6,1 t/ha op watertafelgronde in Bothaville behaal is.”

Strooptyd op Jozeph du Plessis se plaas.

Toekoms vol potensiaal
Wat begin het as ’n eksperimentele gewas in dele van die land, het nou ontwikkel in ’n volhoubare en winsgewende bedryf. Met die regte kultivarkeuses, volgehoue navorsing en oopmaak van nuwe markte, lyk die toekoms vir Suid-Afrikaanse sojaboonprodusente belowend.

2024/2025-bemarkingseisoen
Volgens dr André van der Vyver, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (SACOTA) toon Suid-Afrika se sojaboonbedryf duidelike tekens van herstel ná ’n moeilike 2024/2025-bemarkingseisoen. Die seisoen is gekenmerk deur uiterste weerstoestande en ’n skerp afname in produksie.

Met ’n daling van 930 000 ton (34%) tot slegs 1,84 miljoen ton en eindvoorraad wat gedaal het na 141 000 ton, teenoor 320 000 ton die vorige jaar, is Suid-Afrika, wat gewoonlik ’n netto uitvoerder is, gedwing om groot volumes sojabone en soja-oliekoek in te voer, hoofsaaklik vanaf Argentinië, Brasilië en die VSA.

Ten spyte van die plaaslike tekort, is ongeveer 310 000 ton sojabone en sojaprodukte steeds uitgevoer weens sterk aanvraag in droogtegeteisterde buurlande, veral Zimbabwe, wat meer as 105 000 ton ontvang het.

Invoere van soja-oliekoek het meer as verdriedubbel na 240 000 ton, terwyl 160 000 ton heel sojabone van die VSA ingevoer is tussen November 2024 en April 2025.

Herstel in 2025/2026
Danksy goeie reënval tussen Januarie en April 2025, voorspel die jongste syfers van die Oesskattingskomitee (Julie 2025) ’n 47%-toename in sojaboonproduksie, met ’n beraamde oes van 2,72 miljoen ton. Dit verteenwoordig ’n herstel van sowat 540 000 ton vergeleke met die vorige jaar. Volgens dr Van der Vyver bring hierdie herstel balans in die plaaslike voorsie­ningsketting en open die moontlikheid vir hernieude diepsee-uitvoer, afhangende van die finale opbrengs en aanvraag uit Afrika.

Jontie Taljaard, Riaan Taljaard se seun, by ’n mooi stand sojabone op sy plaas.

Strategiese steun en handelsamewerking
Die bedryf se veerkragtigheid is nie net te danke aan verbeterde weersomstandighede nie. Die graanwaardeketting-gespreks­platform (round table) wat deel vorm van die meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP), speel ’n sleutelrol in die hantering van strukturele uitdagings. Dr Van der Vyver dien as voorsitter van die Handelswerkgroep, wat fokus op marktoegang, die rol van biosekuriteit in internasionale handel en internasionale handelsooreenkomste.

“Deur die Handelswerkgroep spreek ons sanitêre en fito­sanitêre nakoming aan en koördineer ons pogings om Suid-Afrika mededingend te hou, selfs in jare wanneer produksie onder druk is,” sê hy. “Die onlangse GMO-goedkeurings in samewerking met die Departement van Landbou en internasionale vennote was van kritieke belang om tydige invoere vanuit die VSA en Brasilië moontlik te maak.”

Vooruitsigte
Die positiewe vooruitsigte vir sojabone weerspieël ’n breër herstel in Suid-Afrika se landbousektor, met mielieproduksie wat ook verwag word om aansienlik te styg (vanaf 12,85 miljoen ton tot 15,03 miljoen ton). ’n Terugkeer na ’n uitvoerbare surplus kan markstabiliteit en mededingende pryse herstel. ’n Uitvoerbare surplus help nie net om uitvoerpariteitpryse in stand te hou nie, maar verseker ook bekostigbare en stabiele plaaslike voorrade, wat weer lei tot die uitbreiding en groei van die plaaslike sojaboonbedryf en landbouwaardeketting.

Met die 2025/2026-seisoen in volle swang, is Suid-Afrika se sojaboonbedryf volgens dr Van der Vyver weer in ’n sterk posisie om beide plaaslike vraag en streekbehoeftes te bedien.