Rypskade op koring

Gepubliseer: 1 September 2025

422
Prof Gert Ceronio, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Universiteit van die Vrystaat

Koring word gedurende die groeiseisoen en oor al die groeistadia aan ongunstige weerstoestande blootgestel. Rypskade (<0 °C) kan vernietigend wees. Dit is uiters belangrik om daarop te let dat daar na rypskade en nie koueskade verwys moet word nie. Rypskade kan gekwantifiseer word deur sigbare skadesimptome, maar koueskade nie – daarom bied versekeraars slegs rypskadeversekeringspakette.

Rypskade kom hoofsaaklik aan die einde van die winter of in die lentemaande (Augustus, September en Oktober) voor wanneer dagtemperature ideaal is vir aktiewe groei, maar nagtemperature tot kritieke minimums val.

Skade kan oor groot areas in landerye of gedeeltes van landerye voorkom. Die intensiteit van rypskade is gewoonlik hoër langs riviere, in valleie en in laag­liggende gedeeltes in landerye.

Gedurende laat herfs en die begin van winter gaan winterkoring deur ’n reeks komplekse prosesse van afharding wat verdraagsaamheid teen rypskade verhoog. Gevoeligheid vir temperature onder vriespunt neem geleidelik toe soos die koring vinniger ontwikkel gedurende die lente. Temperature net onder vriespunt kan koring in die halmverlenging-, aarverskyning-, blom- en vroeë graanvulstadium be­skadig en tot groot opbrengsverliese lei.

Verskeie faktore (plantgroeistadium, plantwaterinhoud, periode van blootstelling, temperatuur, wind, reënval en topografie) en hul interaksies beïnvloed rypbeskadiging. Om te bepaal of rypskade voorgekom het is dit belangrik om te weet watter plantdele die gevoeligste is tydens elke groeistadium, waar hulle op die plant voorkom, hoe hulle normale en beskadigde voorkoms daar uitsien en om inspeksie te doen binne sewe dae nadat ryp voorgekom het.

Die voorkoms van ryp tydens verskillende groeistadia
Stoelstadium
Gedurende die stoelstadium word die groeipunt na aan die grondoppervlak gevind en word dit moontlik teen skade beskerm deur die blare en blaarskedes. Die meeste skade tydens hierdie periode word aan die blare aangerig. Skade in hierdie stadium vertraag groei en groeipunte wat bo die grond voorkom kan beskadig word, maar die groei van nuwe blare en halms hervat gewoonlik met die aanvang van warmer temperature gedurende die lente en plante herstel volkome. Die hergroei- en herstelvermoë van winter­tipe koring is beter as dié van lentetipe koring.

Pypstadium
Ryp beskadig soms blare in dié stadium, maar die grootste skade word aan die groeipunte aangerig. Die groeipunt, wat net bo die boonste node voorkom, kan gevind word deur die halm in die lengte deur te sny. ’n Normale, onbeskadigde groeipunt is helder wit tot geelgroen in kleur en turgied in voorkoms, maar rypbeskadigde groeipunte is naaswit/romerig of word bruin en het in sekere toestande ’n waterige of smetterige voorkoms (Foto 1). Skade in hierdie stadium vind redelik selde plaas en net wanneer besonder lae temperature (ongeveer -8 °C en laer) ondervind word.

Die groeipunt is net na rypskade onttrek uit die blaarskede en is waterig in voorkoms. Met verloop van tyd sal die groeipunt verkleur tot naaswit/romerig of bruin.

Indien die groeipunt beskadig is, bly die halm vir ’n periode groen nadat groei gestaak is. In sommige gevalle verskyn ’n bruin (dooie) blaar waar die laaste blaar se blaarskyf uit die blaarskede ontwikkel. Rypskade op hierdie stadium kan ’n samestelling van normale halms en halms wat ontstaan het as gevolg van hergroei tot gevolg hê. Dit kan tot oneweredige rypwording lei en selfs oesverliese veroorsaak. Halms wat op hierdie en latere stadiums aan ryp blootgestel is, kan op die onderste gedeeltes van die halms ’n verkleuring, grofheid, letsels en vergroting van knooppunte toon (Foto 2). Beskadigde plante se halms breek dikwels by die aan­getaste gedeeltes.

Die onderste gedeelte van halms kan verkleuring, grofheid, letsels en vergroting van knooppunte toon.

Ysringe kan ook tydens die pypstadium voorkom en is duidelik sigbaar net onder die aar se aanhegtingspunt (Foto 3). Dit lyk nie of die groeipunt beskadig is onmiddellik ná die ryp nie, maar dit raak egter droog en naaswit tot bruin indien die stam beskadig is. Die groeipunt beweeg ook nie verder opwaarts nie. Die verlies van hierdie vroeë halms veroorsaak die ontwikkeling van sekondêre halms wat nie normaalweg sou ontwikkel het nie, as gevolg van te veel kompetisie van die primêre en vroeë sekondêre halms.

’n Duidelike ysring het voor die aanhegtingspunt van die aar gevorm. Geen voedingstowwe sal verder getranslokeer word na die groeipunt nie en dit sal uiteindelik afsterf.

Vlagblaarstadium
Are wat in die blaarskedes van die vlagblare vasgeknyp word, kan tydens die voorkoms van ryp in die vlagblaarstadium waargeneem word. Wanneer dit gebeur, sal die are wat binne die blaarskedes voorkom aan die kante van die blaarskedes uitbreek waartydens die baard ook beskadig word, of die basis van die are sal eerste te voorskyn kom (Foto 4). Hierdie simptoom kan ook verwar word met luisskade en/of chemiese skade, veral waar onkruiddoder op die verkeerde groeistadium toegedien is. In sekere gevalle verskyn are normaalweg uit die blaarskedes na ryp, maar bly vaalgeel of selfs wit in plaas van hulle gewone groen kleur. Temperature onder vriespunt, selfs so hoog as -2 °C, kan steriliteit van ontwikkelde blommetjies veroorsaak deur óf die eiersel óf die helmknoppe te beskadig (Foto 5).

Algehele steriliteit en ’n aar waarvan die basis eerste verskyn nadat die baard in die vlagblaarskede vasgeknyp is. ’n Chlorotiese vlek is ook duidelik sigbaar aan die basis van die aar.
Sweepslag; ’n dooie wit aar; ’n aar wat aan die kant van die vlagblaarskede uitbars; en ’n wit aar wat uit die vlagblaarskede verskyn.

Aarverskyning
Die simptome is soortgelyk aan dié van die vorige groeistadium en sluit in steriliteit, blaarafsnydings, blaaruitdroging en letsels op halms. Omdat die aar gedurende die stadium uit die vlagblaarskede te voorskyn kom, is een van die duidelikste simptome egter chlorose of bleiking van die baard sodat die baard wit in plaas van die normale groen kleur is. Veral langs riviere en in laagtes word gevind dat ’n koue wind (<0 °C) en nie ryp nie, die aarpunte kan beskadig. Die simptoom is gewoonlik wit verkleurde aarpunte wat steriel is en geen bydrae tot die oes maak nie. Die baard het ook ’n “deurmekaar” voorkoms (Foto 6). Hierdie simptoom kom ook in sekere droogtestremmingstoestande voor.

Wit aarpunte met “deurmekaar” baard.

In laasgenoemde geval word die boonste gedeelte van die aar afgespeen en die oorblywende pitte is maer en verkrimp weens vogtekorte. Verder is die baard egalig teruggebuig en het dit nie die deurmekaar voorkoms van ryptoestande nie. Die vegetatiewe groei, veral die onderste blare van die plant, sal in hierdie geval ook tekens van vogtekorte toon. Temperature benede vriespunt wat die baard beskadig, kan weereens die manlike blomdele dood.

’n Ligte groen of vergeelde weefselvlek kom op die halminternodes voor ’n paar dae nadat die plant aan temperature onder vriespunt blootgestel is. Hierdie area van vergeelde chlorotiese weefsel is gewoonlik op die punt waar die halm uit die vlagblaar se blaarskede te voorskyn kom gedurende die voorkoms van rypskade (Foto 7). Die simptoom kan in beskadigde plante sowel as in plante sonder enige skadesimptome voorkom. Namate die plante ryp word, kan die halms knak of breek.

’n Wit aar verskyn uit die vlagblaarskede en die halm knak in die skede. Dit is ook die punt waar die ysring voorkom.

Rypskade wat gedurende dié stadium voorkom, kan nie direkte skade aan die kwaliteit van die graan veroorsaak nie, aangesien geen bevrugting en/of graanvorming of -ontwikkeling plaasgevind het nie. Hierdie stelling geld ook vir die vlagblaarstadium tot en met blom.

Blomstadium
Die blomstadium is die mees sensitiewe groeistadium en temperature in die reeks -3,5 tot 0,6 °C kan rypskade veroorsaak. Aangesien die manlike dele (helmknoppe) van blomme meer sensitief is as die vroulike dele, gebeur dit dat slegs manlike blomdele afsterf. Koring is selfbestuiwend en indien die manlike blomdele deur ryp beskadig word, lei dit tot steriliteit met gevolglike verliese in opbrengs. Tydens die voorafgaande periode het die helmknoppe ’n turgiede voorkoms, is liggroen van kleur en bestaan uit drie lobbe.

Gedurende rypbeskadiging kry die helmknoppe binne 48 uur ’n gedraaide en verskrompelde voorkoms. Hierna verkleur die helmknoppe vinnig van dofgeel na wit tot witbruin en kom nie te voorskyn nie. Indien vroulike blomdele egter beskadig is, sal die helmknoppe definitief ook beskadig wees. Die stempel het normaalweg ’n groenwit, veeragtige voorkoms, maar ’n beskadigde stempel sal naaswit tot bruin verkleur.

Aangesien die blomproses by koring vanaf ongeveer een derde van die basis van die aar begin en dan op- en afwaarts voltooi word oor ’n periode van twee tot vyf dae, kan klein verskille in die stadium wanneer ryp voorkom veroorsaak dat sowel vol as leë of gedeeltelik gevulde are voorkom (Foto 8).

Gedeeltelike of geen graanvulling as gevolg van steriliteit deur rypskade gedurende blom. Die interaksie tussen die stadium van blom en die voorkoms en intensiteit van ryp bepaal die graad van skade.

Melkpitstadium
Tydens die melkpitstadium is koringkorrels “vet” en dit neem ongeveer twee weke om hulle volle grootte (volume) te bereik nadat die blomstadium ’n aanvang geneem het. Die korrel bereik sy volle potensiaal ongeveer vier weke na blom. Onder normale omstandighede bevat die endosperm heelwat water en indien die korrel stukkend gedruk word, het die inhoud ’n melkerige voorkoms.

Rypskade tydens dié stadium is meer intens as tydens die sagte- en hardedeegstadiums as gevolg van die hoër waterinhoud. Rypbe­skadigde korrels kan tydens die stadium wit of grys wees met ’n verskrompelde voorkoms, in plaas daarvan dat hulle liggroen en rond voorkom.

Die voorkoms van ligte ryp gedurende die melkpitstadium kan daartoe aanleiding gee dat die korrels tot ongeveer normale grootte ontwikkel, maar tydens oes is die pitte lig (lae hektoliter­massa) en verskrompeld. By nadere ondersoek van hierdie korrels voor rypwording kan gevind word dat die inhoud van die korrels grys en deurskynend is, in plaas van wit en klewerig/taai soos hulle op hierdie stadium moet wees.

Volwasse koringkorrels wat tydens die melkpitstadium deur ryp beskadig is, is gekrimp en veroorsaak dat die graan ’n lae hektolitermassa het. Rypskade kan ook die ontkieming van sulke koringsaad nadelig beïnvloed waar saad geproduseer word.

Deegstadium
Die deegstadium word in ’n sagte- en hardedeegstadium verdeel. Die endosperm word styf en kry ’n deegagtige voorkoms. Die korrel se kleur verander ook van donkergroen na geel. Na die harde­deegstadium word geen stowwe meer na die korrel getranslokeer en vasgelê nie en die korrel word fisiologies ryp. Tydens die stadium het die finale ontwikkeling van die koringkorrel plaasgevind. Die korrelvoginhoud het ook verminder wat daartoe aanleiding gee dat koring gewoonlik op hierdie stadium meer verdraagsaam teen temperature benede vriespunt is. Visuele simptome van rypskade gedurende die deegstadium is tipies groen, verkrimpte korrels met blasies op die saadhuid (Foto 9). Die saadhuid is ook geneig om los te wees. Tydens die sagtedeegstadium, wanneer die korrels reeds begin verkleur het, kan strawwe ryp veroorsaak dat blasies oor die hele oppervlakte vorm.

’n Ligte verkleuring (blasie) op die pit in die sagtedeegstadium dui op rypskade.

Volrypstadium
Tydens hierdie stadium het die korrels volwassenheid bereik en kan geen skade deur die voorkoms van ryp plaasvind nie.

Wat wel van belang is, is die sigbare simptome nadat die oes ingesamel is soos uiteengesit in die Staatskoerant, No. 1210 van 30/08/2003. Hierin word die term erg rypbeskadigde koring gebruik en dit sluit die volgende in:

  • Koringkorrels wat gedurende die melk- tot sagtedeegstadium deur strawwe ryp beskadig is en wat gekenmerk word deur korrels wat taamlik vet, maar heeltemal tot in die groef met klein blasies bedek is, met uitsondering van:
    • korrels waarvan net die rugkant met blasies bedek is; en
    • onryp gerimpelde korrels waarin rimpeling deur ryp veroorsaak is terwyl die korrels nog onryp was; en
  • koringkorrels wat ’n effens afgeskilferde semelskil het as gevolg van ryp: met dien verstande dat bewys van rypskade teen­woordig is en dat die semelskil nie afgevryf is as gevolg van hantering nie.

Rypskade het die afgelope jare groot afmetings aangeneem, veral in die sentrale koringproduserende gebiede, maar veral besproeiingskoring en -gars het ook deurgeloop. Die voorkoms van rypskade is veral dominant in sekere streke as gevolg van die planttegnieke en bestuurspraktyke wat toegepas word. Oor die algemeen is dit onvermydelik om rypskade te voorkom, maar deur die kundige keuse van kultivars, deur by aanbevole planttye te bly en deur die water- en stikstoftoediening – veral onder besproeiing – met gesonde oordeel te bestuur, kan dié risikofaktor verlaag en/of vermy word.