Onkruid in die grondsaadbank gaan jou vroeër én later geld kos

Gepubliseer: 1 September 2025

346
Dr Charlie Reinhardt,
SAHRI, Universiteit van Pretoria en onafhanklike konsultant

Sade is die belangrikste manier waarop onkruid vermeerder en versprei. Enkele onkruidsoorte plant ook voort deur middel van bolle, knolle en steggies. Daar is honderde miljoene sade per hektaar in grond teenwoordig, waarvan waarskynlik minder as 1% in ’n bepaalde groeiseisoen gaan ontkiem en ontwikkel tot gevestigde saailinge. Een raaigrasplant produseer byvoorbeeld ongeveer 1 000 sade, en 500 plante/m2 (’n matige infestasie) kan teoreties 500 000 sade produseer, dit wil sê 5 000 000 000/ha (5 biljoen). Indien slegs 1% daarvan sou ontkiem en vestig sal daar 50 miljoen saailinge/ha, oftewel 5 000 plante/m2 wees. In die geval van ’n breëblaaronkruid soos Amaranthus hybridus (Kaapse misbredie) sal daar minder plante per vierkante meter wees as in die geval van raaigras, gestel 20/m2, maar elke plant kan 30 000 sade of meer vorm, dit wil sê 600 000 sade/m2 (6 biljoen/ha).

Neem in ag dat verskeie soorte onkruid op ’n bepaalde stadium in ’n gewasland groei; gevolglik word daar elke jaar biljoene on­kruidsade tot die grond toegevoeg of as’t ware in die grondsaadbank gedeponeer. Anders as met ons persoonlike bankrekenings, wil ons in die geval van die onkruidsaadbank poog om meer te onttrek as wat gedeponeer word. Hierdie strewe is die basis vir effektiewe onkruidbestuur: Hou onkruidgetalle laag sodat daar minder sade tot die saadbank toegevoeg word.

Datura-saailinge (stinkolieboom) wat dalk 100 jaar oud kan wees indien die ouderdom van sade bygereken word.

Voordat onkruidsade gestort word, is dit onderhewig aan beweiding deur diere en versameling deur mense vir gebruik as voedsel. Na storting is sade bo-op of in die grond blootgestel aan verskeie faktore wat dit kan vernietig, onder meer diere soos voëls en muise asook mikrobes (bakterieë en swamme). Sonlig en hitte ver­nietig ook sade. Verspreiding van sade vind plaas weens wind- en wateraksie, en mense, implemente en diere kan sade oor lang afstande versprei. Daar bestaan nie ’n enkele onkruiddoder wat verhoed dat onkruidsade ontkiem nie – grondsteriliseringsmiddels doen dit wel, maar word nie as onkruiddoders geklassifiseer nie. Sekere onkruiddoders, wat voor opkoms toegedien word, se onkruid­dodende werking tree kort na ontkieming van sade in werking om die groei van saailinge te inhibeer.

Datura-vrug met sade wat toksiese verbindings bevat en die rede is dat sade nie in graanbesendings verdra word nie. Die sade kan na berig word vir langer as 100 jaar in grond kiemkragtig bly.

Benewens hul groot getalle is nog ’n be­langrike rede waarom daar gesukkel word om onkruid onder die knie te kry die lang tyd wat sade in die grond kiemkragtig bly. Daar is die gesegde wat lui: “Een jaar se onkruidsaad is sewe jaar se onkruidbeheer.” Die verklaring vir hierdie groot waarheid is dat onkruidsaad vir jare en selfs dekades kiemkragtig in die grondsaadbank kan oorleef. Hoe dieper sade in die grond geplaas is, hoe veiliger is dit teen vernietiging. Alhoewel sade nie diep in grond behoort te ontkiem indien die saailinge nie genoeg energie gaan hê om die oppervlak te haal nie, kan sade vlakker gebring word deur grondbewerking.

Klein sade ontkiem gewoonlik die beste op of naby die grondoppervlak terwyl groot sade weens hul groter energiebronne oorsprong gee aan saailinge wat van dieper af kan opkom. Kleinsadiges soos Amaranthus (misbredie) en Conyza (skraalhans) ontkiem op of naby die grondoppervlak, terwyl grootsadiges soos Datura (stinkolieboom) en Xanthium (kankerroos) van dieper af (±100 mm) kan opkom. Navorsing het gevind dat skraalhanssade wat 10 mm diep in grond geplaas is nie ontkiem het nie, terwyl daar maksimum ontkieming was met sade bo-op die grond­oppervlak.

Geleidelike (sporadiese) ontkieming
Anders as gewassade, wat geteel is om vinnig en gelyk te ontkiem, is onkruidsade se ontkieming sporadies weens die eienskap van dormansie (rustoestand) wat ’n natuurlike eienskap van wilde plantsoorte is. Geleidelike (sporadiese) ontkieming is ’n oorlewingstrategie van wilde saadplante wat die kans vergroot dat minstens ’n deel van die sade aan gunstige groeitoestande blootgestel sal word. Hierdie aanpassing sal nie vir gewasplante werk nie, want die oesproses sou ’n aardigheid wees! Dit het dan ook duisende jare van seleksie deur mense gekos om hierdie eienskap by gewasplante uit te teel.

Onkruidsade se dormansie-eienskap bemoeilik doeltreffende onkruidbeheer omdat sekere soorte tot laat in die groeiseisoen kan ontkiem, vestig en saad kan stort. Veral vooropkomsonkruiddoders se werking kom in gedrang want die later opkomende on­kruidplante ontsnap die werking van hierdie middels wat geleidelik verswak is na toe­diening vroeg in die seisoen. Voorbeelde van onkruide wat seisoenlank kan vestig danksy saaddormansie is Tagetes minuta (kakiebos), Ipomoea purpurea (purperwinde), Amaranthus hybridus (Kaapse misbredie), Conyza spp. (skraalhans), Lolium spp. (raaigras) en Digitaria sanquinalis (kruisvingergras). Kankerroos (Xanthium strumarium) het twee sade in elke vrug, waarvan die groter saad direk na volwassenheid ongeveer 90% kiemkragtig is, terwyl die kleiner saad dan skaars 20% kiemkragtig is – die kleiner saad neem langer om maksimum kiemkrag te bereik. Wandelende Jood (Commelina benghalensis) is bes moontlik die enigste plant ter wêreld met twee soorte blomme, waarvan een bogronds aan stingels gedra word, terwyl die ander soort ondergronds aan risome gedra word.

Commelina benghalensis (wandelende Jood) is uniek omdat dit bogrondse (pers van kleur) enondergrondse blomme (kakie van kleur) dra waarvan die sade verskillende temperatuurbehoeftes vir ontkieming het.

Die sade, wat in die twee soorte blomme gevorm word, verskil fisies en fisiologies – die bogrondse sade vertoon die sterkste dormansie en ontkiem die beste by ’n ma­tige temperatuur (18/25 °C min/maks), terwyl die ondergrondse sade minder dormant is en die beste ontkiem onder warm toestande (21/28 °C min/maks). Sulke saadeienskappe is bevorderlik vir seisoen lange ontkieming en vestiging, daarom is sulke soorte onkruid moeilik om te beheer.

Die sporadiese opkoms van onkruid veroorsaak dat daar plante van verskillende groottes/ouderdom op ’n bepaalde tydstip in ’n land voorkom. Dit bemoeilik onkruidbeheer want onkruiddoders werk die beste op jong plante (saailinge) terwyl volwasse plante swakker of glad nie beheer word nie. Hierdie situasie is bevorderlik vir die ontwikkeling van weerstand teen onkruiddoders aangesien toediening op ’n té laat stadium as’t ware “onbedoelde onderdosering” behels omdat verdunning van die onkruiddoder in groot plante hul kans op oorlewing verhoog. Dis ’n wetenskaplike feit dat beide onder- en oordosering bevorderlik is vir die ontstaan van weerstand teen onkruiddoders.

Grondmonsters effekief ingespan
Daar is maniere om grond te toets vir die teenwoordigheid van onkruidsade en hul kiemkragtigheid. Die soorte en getalle on­kruid teenwoordig in grondmonsters kan in potproewe in ’n kweekhuis bepaal word. Dormansie en sporadiese ontkieming kan ook gemonitor word. Dié kennis kan gebruik word om beheerstrategieë en -praktyke te verfyn.

Hierdie prosedure kan ook gebruik word om die teenwoordigheid van gifplante en/of uitheemse indringerplante waar te neem wat waardevol sal wees in beoordeling van veldwaarde en -drakrag. Sulke toepassings is ver­al handig om beoordelings te doen voordat die groeiseisoen begin, wanneer daar min tot geen lewende plante sigbaar is op lande of in weiveld, byvoorbeeld gedurende die winter in die somerreënstreek en die somer in die winterreënstreek. Grondmonsters wat goed verteenwoordigend van ’n land of plaas is maak dit moontlik om verskeie gewaslande of plase gelyktydig onder een stel omgewingstoestande in ’n kweekhuis te ondersoek.

Tans in Suid-Afrikaanse landbou word daar vir die saamstel van ’n onkruidbeheerprogram staatgemaak op kennis van die hi­storiese onkruidsituasie op ’n gewasland, maar dikwels beskaam sulke aannames weens die onvermoë om te weet hoe die onkruidsaadbank daar uitsien kort voordat die volgende gewas gevestig word en voor bestellings vir onkruiddoder geplaas word.

Die onkruidspektrum en relatiewe getalle van onkruidsoorte kan baie verskil van wat dit in die voorafgaande seisoen was. Weens hul erg skadelike impak op gewasopbrengs en -kwaliteit, verdien onkruid ’n plek in die beoordeling van grondgesondheid, wat tans hoofsaaklik op grondeienskappe, plantvoe­ding en mikrobes gefokus is. Sade verteenwoordig die ontstaan van onkruidpro­bleme en die grondsaadbank is waarin kennis daarvan – en doeltreffende beheer daaroor – opgesluit is. Per slot van sake maak ons mos erns met presisieboerdery, of hoe?

Dr Charlie Reinhardt kan gekontak word by 083 442 3427 of dr.charlie.reinhardt@gmail.com.