
SA Graan/Grain-medewerker
Grondbewerking is ’n duur en tydsame proses. Daar is verskeie metodes om grond te bewerk: party is biologies en ander is meganies. Meganiese grondbewerking word gedoen om gunstige toestande vir die groei van plantwortels te verseker. Dit behels goeie opname en berging van water, suurstof en voedingstowwe – alles wat deur die plant vir ’n goeie opbrengs benodig word.
Grondverdigting is ’n belangrike aspek wat oeste verlaag en risiko’s verhoog. Weens die intensiewe bewerking van lande is trekkerspoorverdigting ’n wesenlike probleem. Dit kan relatief maklik met beheerde spoorverkeer opgelos word, maar die korrekte grondbewerking moet steeds toegepas word. Dit behels hoofsaaklik om die korrekte diepte van bewerking asook die korrekte tipe bewerking toe te pas.
Die grond se kleipersentasie is in vele gevalle die bepalende faktor om primêre grondbewerkingsdiepte te bepaal. Hoe hoër die kleipersentasie, hoe vlakker kan bewerk word; hoe laer die kleipersentasie, hoe dieper moet die grond bewerk word.

Profielgate is waardevol
Wanneer grondbewerking toegepas word, is dit noodsaaklik om te bepaal wat daarmee bereik wil word. Dit is belangrik dat die aksie die eerste keer reg uitgevoer word en dat daar gekontroleer moet word of die regte resultate verkry is. Grawe dus ’n profielgat voor die bewerking gedoen word om die doelwitte vir die bewerking te bepaal. Nadat die implement die aksie uitgevoer het, moet daar weer ’n profielgat gegrawe word om seker te maak dat die aksie doeltreffend was. Dit neem wel tyd, maar dit is dubbel en dwars die koste en moeite werd.
Om die hele plaas vol profielgate te grawe is onnodig, en dit is hier waar grondklassifikasiekaarte van groot waarde is. Grawe ’n profielgat in die dominante grondsoorte en kyk vir die teenwoordigheid van verdigte sones. Die vereiste grondbewerking mag tussen verskillende grondtipes verskil en grondkaarte kan gebruik word om te bepaal watter lande diep gewerk moet word en watter lande vlakker gewerk kan word.
’n Profielgat na afloop van die oes is nie soveel werd as een in die somer nie, omdat wortelontwikkeling goed tydens die groeiseisoen geëvalueer kan word. Die gewas se wortels sal dan aandui wat verkeerd gedoen is. As die wortels vinnig plat draai, is daar fout, byvoorbeeld verdigting of ’n smeerlaag. Hierdie beperkende faktore het ’n negatiewe effek op wins. Produsente moet ook grondvog evalueer, meet hoe diep dit is en waar dit verskil. Dit wys onder meer bewerkingsfoute uit as grondvog in die dieper grondlae nie benut word nie. Derdens moet gekyk word hoe diep kleilae en beperkende lae soos klip, gruis of oubank voorkom.
In hierdie nat seisoen gaan die bewerkingskeuse deurslaggewend wees. Party gronde gaan te nat wees om te werk en ander gaan weer kliphard wees. Pasop om die té nat gronde te bewerk. Implemente gaan nie dieselfde opbreekpatrone as normaalweg toon nie. Verder gaan die nat gronde maklik smeerblaaie vorm en skottelimplemente gaan sonder twyfel hierdie nat gronde smeer.
Tandimplemente is dikwels minder doeltreffend in nat gronde. Die opbreekpatroon van tandimplemente kan wesenlik verskil, en die gebruik van verkeerde skare kan ’n smeerlaag laat vorm.

Veerbelading en bewerkingspoed
Kontroleer of die veerbelading nog volgens spesifikasies is en moet nie dink nuwe implemente is reg gestel nie. Vere word pap en verloor hul weerstand, wat dan die hoek van die tand verander en sodoende die opbreek van die grond verminder. Meer nog, dit vreet die skare op en verbruik ekstra diesel. Die tydige vervanging van die skare is noodsaaklik – as te lank gewag word om skare te vervang, kom slytasie van die tande se onderkante voor. Bewerkingsdiepte is dan ook nie meer wat dit moet wees nie.
Bewerkingspoed is ook van deurslaggewende belang. Maak seker wat die vervaardigers se vereiste is en volg dit na. As daar te stadig of te vinnig gewerk word, word die implemente se opbreekpatrone verander. As te vinnig met ’n tandimplement gewerk word, gooi die tand die grond uit en veroorsaak dit ’n sloot agter die tand wat die grond vinnig laat uitdroog.
Probeer verder om die grond weer na die bewerking te seël. Voorbeelde hiervan is ’n roller, ’n veer-eg of sommer ’n sleepyster. Kontroleer net dat die grondoppervlak amper gelyk is, maar steeds so dat die water maklik die grond sal infiltreer.
Wanneer kalk gestrooi word, verseker dat dit goed met die grond vermeng word. ’n Skottelimplement verrig die taak goed, maar die implement se beperkings moet in ag geneem word. As ’n reël is kalkvermenging met tandimplemente swak.
As dit moontlik is, probeer ’n aksie wat die grond goed los maak, maar die stoppels bo-op die grond hou. Hierdie deklaag het vir seker meer voordele as nadele.
Daar is definitief meer aspekte as wat in hierdie artikel genoem word; praat met ’n landboukundige. Hulle kan help om die regte bewerkings vir elke plaas aan te beveel en te help dat die regte aksie reg gedoen word.
Indien meer inligting benodig word, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.


























