Op soek na ’n plaasvervanger vir terbufos

Gepubliseer: 29 Augustus 2025

721
Jeanne van der Merwe, SA Graan/Grain-medewerker

Die kabinet het in Junie ’n verbod op die gebruik, verkoop en invoer van terbufos goedgekeur.

Die aankondiging is wyd verwelkom deur akti­vistegroepe wat oor die algemeen gekant is teen potensieel toksiese landbouchemikalieë, maar volgens alle aanduidings is die Departement van Landbou nie van plan om dié waardevolle middel eensklaps aan die mark te laat onttrek nie.

“Die Departement van Landbou sal die konsultasieproses rondom die verbod lei, in lyn met sy 2010-plan om giftige insekdoders en plaagdoders oor ’n tydperk uit te wis en ook te werk daaraan om veiliger alternatiewe vir terbufos te identifiseer,” lui die kabinetsver­klaring van 11 Junie 2025.

Volgens die Departement van Landbou kan produsente egter steeds die middel gebruik volgens registrasievoorskrifte.

“Die Departement van Landbou werk daaraan om die kabinetsbesluit te implementeer. Die tydlyne vir implementering sal met tyd aangekondig word, sodra ons die interne proses gefinaliseer het.

“Die uitfaseringsproses sal die kabinetsbesluit moet oorweeg, sowel as voorraad in die waardeketting, die beskikbaarheid van alternatiewe en ’n oorgangstydperk. Konsultasies oor hierdie kwessies duur voort en die besluit sal met tyd aan belanghebbendes en die publiek gekommunikeer word.”

Op ’n vraag of die Registrateur van Wet 36 van 1947 die registrasie van plaasvervangers sal versnel, was die antwoord dat die Registrateur reeds die hersiening bespoedig van alternatiewe om terbufos te vervang.

Aalwurmskade in ’n mielieland – een van die plae waarvoor terbufos veral in die weste se sandgronde onontbeerlik is. Foto: Crop Protection Network

Potensiële alternatiewe
Die Registrateur het op 16 Julie by monde van die bedryfsorganisasie CropLife SA die gewasbeskermingsbedryf versoek om sy departement in kennis te stel van enige hangende aansoeke vir die registrasie van potensiële alternatiewe vir middels wat terbufos bevat, of van enige aansoeke wat hulle beoog om in die nabye toekoms in te dien wat die middel kan vervang.

’n Aantal gewasbeskermingskundiges het aan SA Graan/Grain te kenne gegee dat daar nie tans ’n goeie plaasvervanger vir terbufos bestaan nie, maar dat die bedryf hard op soek is na plaasvervangers.

Roleen la Grange, regulatoriese bestuurder by CropLife SA, sê dit is tans onmoontlik om te sê watter produkte oorweeg word, of wat sulke produkte uiteindelik sal kos.

“Die inligting oor enige spesifieke aktiewe bestanddele wat in die plek van terbufos gebruik kan word, is vertroulik totdat die registrasieproses voltooi is. Dit is omdat die moontlikheid bestaan dat die Registrateur ’n aansoek kan afkeur; hy mag vind dat die data wat die aansoeker ingedien het oor die produk se werking nie voldoende bewys is dat dit wel werk soos die aansoeker sê nie.

“Maatskappye gaan waarskynlik nie be­kend maak watter middels hulle ondersoek as proewe nog onderweg is nie, byvoorbeeld om te voorkom dat ander maatskappye dieselfde ontwikkelingswerk doen, of hulle mag vind dat die produk nie effektief is nie, of dat dit gepaard gaan met onaanvaarbare risiko’s.

“Of die registrasiehouer hierdie inligting beskikbaar stel al dan nie, hang af van die registrasiehouer.”

Sarah le Grange, bestuurder van bedryfskakeling en die voedselwaardeketting by Villa Crop Protection, sê die soektog na alternatiewe of vervangings van middels is dikwels tydrowend, omslagtig en kan duur wees weens die groot hoeveelheid navorsing, toksikologiese en ander studies, asook veld- en residuproewe wat met registrasie gepaard gaan.

“Vir registrasie van produkte met reeds geregistreerde aktiewe bestanddele is minstens een produksiesiklus se veldproefdata en residustudies nodig om aan die Registrateur die nodige bewys te lewer dat die produk effektief en veilig is vir verbruikers. In praktyk is ’n mens egter selde so gelukkig om binne ’n jaar al die nodige data wat aan al die registrasievereistes voldoen te genereer. Dit neem dikwels langer om al die nodige inligting te versamel.

Die Departement van Landbou is nie van plan om terbufos eensklaps aan die mark te onttrek nie, ten spyte van aktivistegroepe wat oor die algemeen gekant is teen potensieel toksiese landbouchemikalieë.

Ontwikkelingsroete bepaal koste en tyd
“Die ontwikkelingsroete wat gevolg word, sal grotendeels die ontwikkelingskoste en -tydsduur bepaal. Om ’n bestaande produk se etiket uit te brei om die nuwe gebruike te registreer, sal minder kos en vinniger wees as om ’n aktiewe bestanddeel wat nog nie in
Suid-Afrika geregistreer is nie, te ontwikkel en registreer. ’n Nuwe aktiewe bestanddeel hou natuurlik weer die voordeel in dat ons nuwe toerusting vir beheer van die plae bykry.

“Wat registrasie van alternatiewe middels verder kan bemoeilik, is dat daar nie noodwendig altyd ’n ‘pasgemaakte’ alternatiewe produk is wat al dieselfde plae beheer as die produk wat uitgefaseer word nie.

“Tensy jy beskik oor ’n produk met ’n nuwe aktiewe bestanddeel (met ander woorde een wat nog nie in Suid-Afrika geregistreer is nie) wat al minstens ván die plae beheer wat die uitgefaseerde produk beheer, moet jy maar werk met aktiewe bestanddele in produkte wat reeds geregistreer is.

“In die geval van terbufos sal ’n mens dus kyk watter ander bestaande produkte geregistreer is vir beheer van die betrokke plae, of produkte met aktiewe bestanddele wat moontlik effektief kan wees teen die plae, soos byvoorbeeld in wetenskaplike publikasies of ander bronne aangedui. In die geval van terbufos, sal dit byvoorbeeld aktiewe bestanddele wees wat sekere aalwurms en grondinsekte kan beheer.

“Die middels wat tans geregistreer is vir gebruik teen die plae waarvoor terbufos aangewend word, sluit ’n aantal toksiese bestanddele in wat in elke geval teen 2035 uitgefaseer moet word, of aktiewe bestanddele wat nie ’n baie gunstige toksikologiese of omge­wingsprofiel het nie, of moontlik minder effektief is as terbufos. Sou jy hierdie bestanddele ignoreer, het jy waarskynlik ’n handjievol oor om van te kies.”

Dit is volgens Le Grange feitlik onmoontlik om met die inligting wat tans beskikbaar is te sê wat dit produsente sal kos om terbufos met ’n alternatiewe produk te vervang. Dit sal afhang van onder meer die produkkoste asook die aantal toedienings en gebruiksfrekwensie wat sal nodig wees om teikenplae effektief te bestry met die nuwe middels. “Dit is tans nie algemeen bekend watter produkte dalk reeds in die ontwikkelings- en registrasiefase is, en wat die produkkoste en toedieningsaanbevelings gaan wees nie.”

Tog het die Registrateur verskeie opsies om die slakkepas van nuwe produkregistrasies te versnel in belang van voedselsekerheid.

“Teoreties is dit moontlik om die jare wagtyd voor ’n ingehandigde dossier geëvalueer word, te verkort indien die Registrateur van mening is dat dit voorkeur moet kry bo ander produkte wat wag vir registrasie.

“Die Registrateur is ook by magte om met ’n sekere minimum hoeveelheid data ’n produk tussentyds met voorwaardes (conditionally) te registreer. In so ’n geval sal die registrasievoorwaarde insluit dat die verskaffer byvoorbeeld twee jaar kry om sekere nodige en ontbrekende data in te dien, waarna daar besluit kan word of die produk op die mark kan bly.”

Le Grange sê effektiewe kommunikasie tussen die gewasbeskermingsbedryf en die produsente-organisasies sal onontbeerlik wees in die soektog na alternatiewe wat ekonomies sin maak vir die bedrywe.

Daar sal ernstig besin moet word oor insetkosteberekeninge en gelykbreekpunte vir geaffekteerde gewasse in verskillende produk­siestreke om te bepaal of die plaasvervangers volhoubaar en ekonomies sinvol is.