Geloof, dissipline en betrokkenheid IS PILARE VAN SUKSES

Lani Viljoen, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 29 Augustus 2025

389
Golwende kanolalande op Tierfontein met die Klipheuwel-windplaas by Caledon in die agtergrond.

Graanproduksie is een van Suid-Afrikaanse landbou se kernpilare – dit verse­ker voedselsekerheid en lewer ’n beduidende bydrae tot die ekonomie. Vanjaar is die 24ste jaar wat Graan SA se Graanprodusent van die Jaar-toekenning daar is om erkenning te gee aan die uitnemende graanprodusente van die land en om suksesvolle graanproduksie ten toon te stel.

In die prentjiemooi Overberg, skuins tussen Greyton en Caledon, boer Jean van Niekerk op Tierfontein. Hy was laasjaar een van die drie finaliste in die Graanprodusent van die Jaar-toekenning.

Volgens Jean sal hy drie dinge uitsonder wat lei tot sukses as ’n graanprodusent. Eerstens glo hy dat geen produsent sonder geloof kan boer nie. Hier haal hy Prediker 11 aan.

Tweedens moet finansiële bestuur met dissipline gehandhaaf word vir finansiële sukses. Jean haal ook graag sy pa se wyse woorde aan, in hier­die geval: “Spaar ’n vuurhoutjie, en koop ’n plaas.” In boerdery is dit dikwels ’n geval van “volop of alles op”. Produsente moet gereed wees om dit te absorbeer wanneer die moeilike tye kom.

Wat kanola betref, wissel hulle triasien-tolerante, Clearfield- en konvensionele kultivars af. Hier staan Jean (regs) saam met Thys Lourens in ’n kanolaland wat aan die begin van Augustus al hoër as heuphoogte gestaan het.

Die derde geheim is eie betrokkenheid. ’n Mens moet self die leisels hou en jy het medewerkers nodig wat jy kan vertrou. Jean en sy regterhand op Tierfontein vir die afgelope ses jaar, plaasbe­stuurder Thys Lourens, plant en spuit alle gewasse self. Hulle verbou kanola, gars en koring in ’n wisselboustelsel.

Wanneer een koringplantjie uitgetrek word om na die wortels te kyk en daar kom ’n erdwurm saam, beklemtoon dit sommer hoe belangrik grondgesondheid in dié boerdery geag word.

Uitdagings
Volgens Jean is een van die grootste uitdagings vir hom as produsent in die winterreënvalstreek, weerstandbiedende raaigras, wat beskou word as die nommereen- weerstandbiedende onkruid wêreldwyd. Die groot swaai na geen- of minimumbewerking die afgelope paar dekades het raaigras se biologie soos ’n handskoen gepas. Die groot probleem vir kleingraanprodusente is om ’n on­kruidgrassoort wat tussenin ’n ander grassoort (kleingraan) groei, op ’n selektiewe wyse te beheer, sonder risiko vir die gewas.

Kanolawisselbou is maar die enigste oplossing vir onkruidbeheer: Jean het gevind dat ’n goed bestuurde wisselboustelsel ’n merkwaardige daling in die voorkoms van onkruid tot gevolg gehad het. Aangesien die meeste siektes gewasspesifiek is, werk die afwisseling van gewasse boonop om siektedruk te verminder.

Die feit dat seker chemiese middels van die mark geneem word het ’n uiters groot invloed op graanproduksie – ook in die Suid-Kaap. Dit noop produsente om “slimmer te spuit”. Jean werk nou saam met sy chemiese verteenwoordiger om te soek vir ander middels wat dieselfde effek kan hê as produkte wat nie meer gebruik mag word nie. Hy noem wel dat onkruiddoders hierdie seisoen besonder effektief was.

Chemiese beheer op Tierfontein word gedoen met ’n hoogloopspuit met ’n koolstofveselspuitbalk (carbon boom). Hierdie nuwe ontwerp is ligter, meer stabiel en lei tot egalige toediening en beter bedekking. ExactApply op die spuit maak gebruik van PWM-tegnologie (pulswydtemodulasie), wat die spuituitset beheer deur spuitstukke vinnig aan en af te skakel en konstante druk en druppelgrootte handhaaf ongeag die spoed. Volgens Jean bied dit ’n wesenlike besparing, omdat daar nêrens dubbel gespuit
word nie.

Nog ’n enorme uitdaging is die kosteknyptang, met die winsmarge in graanproduksie wat net al hoe kleiner raak en wins­gewendheid onder druk plaas. Produsente herstel al hoe moeiliker na ’n swak jaar. Koringproduksie word verder bemoeilik deur die vervoerdif­ferensiaal sowel as die tyd wat dit neem om tariewe in te stel, en dan moet produsente boonop meeding in ’n wêreld waar ander lande hul boere subsidieer.

Oor die algemeen lyk die seisoen in die Overberg besonder goed vanjaar. Die reën was tot in Augustus baie meer egalig verspreid as die vorige paar seisoene en die koue het die koring goed gedoen.
Jean saam met sy dogter Heleni (links) en sy vrou, Ilze, tydens die Graanprodusent van die Jaar-funksie verlede jaar.

Keuses vir groei
Kultivarkeuse word gemaak na aanleiding van opbrengs. Kultivars word verder gekies volgens weerstand teen siektes asook groei­lengte, met kort en lang groeiers wat om die helfte geplant word.

Drie noodsaaklike dinge vir goeie plantproduksie is koolstof in die grond, water en son. Grondgesondheid is dus vir Jean uiters belangrik. Geenbewerkingspraktyke het die koolstof in die grond na 2% laat styg en vogbewaring help verseker, wat dit net makliker maak om deur ’n droë jaar te kom. Sy opbrengs is definitief ook hoër sedert begin is met bewaringsboerdery.

Jean pas sedert 2013 geenbewerking toe. Behalwe vir die duidelike voordele, skep dit ook probleme, maar niks wat nie met goeie bestuur hanteer kan word nie. Die oesreste wat agterbly, bied byvoorbeeld die ideale omgewing vir insekte soos koffiepitte, duisendpote, isopode en slakke wat almal humusverteerders is – en natuurlik ook die gewasse vreet.

Alhoewel daar heelwat uitdagings met slakke was in die Overberg-area hierdie seisoen (toringslakke en naakslakke), het Jean dit nie erger as gewoonlik ondervind nie. Hy plant sonder om slakpille te strooi. Hulle strooi sodra ongeveer 60% van die plantjies op is, en moniteer dan verder die lande om weer te strooi indien nodig.

Ten spyte van die uitdagings, meen Jean bewaringsboerdery is hier om te bly. Hy baal en verkoop wel van sy gars- en koringstrooi, aangesien hy ’n goeie mark daarvoor het. Dit help ook met die lande waar baie dik stoppels agterbly en die plantproses bemoeilik.

Daar is dele van sy grond wat nie gesaai kan word nie, daarom het hy vee, maar hy sien homself hoofsaaklik as ’n graanprodusent. Die diversifikasie wat die veefaktor bring is belangrik, maar vir hom is die skape bysaak. Hulle sit die vee net vinnig op die gestroopte lande sodat hulle dit nie vastrap nie en gebruik die voordeel dat die skape nie gevoer hoef te word nie.

Alhoewel Jean homself as ’n graanprodusent sien, is die diversifikasie wat die veefaktor bring steeds vir hom belangrik.

Grondgesondheid
Dit is vir hom uiters belangrik om die grond nie uit te put nie. Hy probeer om elke drie jaar ’n derde van die grond na oestyd te ontleed en daarvolgens word voedingstowwe soos nodig teruggesit en kunsmis variërend toegedien.

Met eie proewe is gevind dat 50% stikstof met plant en die res later teen sesblaarstadium vir hulle die beste werk. N-toetse word gedoen, en as die potensiaal daar is word weer stikstof toegedien.

Daar word altyd op dieselfde lyn geplant, gespuit en bemes om oorvleueling uit te skakel. Tegnologie en presisieboerdery maak ’n groot verskil. Alhoewel die oorskakeling van gratis sein na RTK-sein byvoorbeeld koste inhou, het dit ’n groot besparing tot gevolg. Net so het die presisiestrooi van kunsmis met ’n strooier met seksiebeheer die gevolg dat geen wesenlike hoeveelhede kunsmis meer “verlore raak” soos in die verlede nie.

Op ’n persoonlike noot
Jean is ’n groot voorstander van en is nou betrokke by ge­organiseerde landbou: Hy is ondervoorsitter van die Caledon-Noord-boerevereniging en is reeds vandat hy begin boer het lid van Graan SA. Hy voel dat geen produsent kan bekostig om nie deel van georganiseerde landbou te wees nie.

Beide Jean en sy vrou, Ilze, het die Graanprodusent van die Jaar-ervaring as positief beleef. Die blote feit om as finalis gekies te wees, gee erkenning aan wat oor jare met die boerdery bereik is.

Jean se visie vir die landbousektor in Suid-Afrika is dat nuwe jong produsente landbou met passie en ywer sal aanpak. Hy glo dat – ten spyte van die uitdagings – daar vir hulle ’n blink toekoms wag.

Lees hier meer oor Jean van Niekerk se boerderypraktyke: https://sagrainmag.co.za/2024/10/02/gsa-vereer-uitnemendheid-in-sa-landbou/

Hy verbou koring, gars en kanola op ongeveer 1 800 ha droëland.