1977

Gepubliseer: 29 Augustus 2025

599

Beste Grootneef

Die een popgroep uit die 70’s en vroeë 80’s wie se musiek immergroen bly, is die een wat jy weerskante toe kan sê en spel – ABBA! Vir hul tyd was hulle kookwater, ongeag hul snaakse skoene – maar wanneer een van hul treffers nou nog oor die draadloos speel, begin ’n mens onvermydelik tydhou met die gemaklike ritme wat sang, klavier en kitaar optower. Tot Tommie die worshond se stert swaai op die ritme van “Waterloo”.

Een oggend op pad dorp toe speel die omroeper van die Vrystaat-stasie ’n spesifieke treffer oor die radio en noem dat dit reeds in 1977 vrygestel is. Ek tel toe sommer so in die ry op my vingers – ’n hele 48 jaar gelede! Toe was ons nog jonk en mooi, nou is ons net mooi. Soos die Engelsman op die dorp sê: “Same smile, but slightly younger teeth.”

Waar op aarde was ons in 1977? Dit voel soos ’n leeftyd gelede. Om te onthou is soos ’n waterloop – as jy die keerwal met ’n graaf oopspit, loop die water gemaklik in die rigting van die bedding vol van “onthou-jy-nogs”.

1977 – ons was op hoërskool, salig onbewus van wat in die wêreld om ons gebeur het. Die fokus was merendeels op braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolets. Met ’n week van Maandae tot Vrydae in Opsaal-seunskoshuis en naweke op die plaas. Sorgloosheid in aksie, met die ergste uitdaging die wiskundejuffrou wat ons probeer leer het dat jy in minder as nul kan tel, en wat dan boonop – moedeloos maar dapper – die vierkantswortel aan die klompie plaaskinders probeer verduidelik het.

Draadlose in die koshuiskamers was taboe, maar in die koshuis se eetsaal was ’n radiogram met ’n draaitafel waarop jy plate kon speel. Dis nou ná die middag se sport en voor aandete. En nie te hard nie. Langs dié draaitafel is ek die eerste keer aan die ABBA-kwartet bekendgestel. Tóé al kon jy nie anders as om met voet of duim tyd te hou nie. Selfs pa Toit, die koshuisvader, het dit verdra wanneer hy daar verbygestap het.

Die sorgelose bestaan van skooljare in die 70’ en 80’s voel vanoggend bitter lank gelede. Van die grootste onthou-oomblikke was toe Vrystaat die Curriebeker in 1976 gewen het en die sport­geleenthede wanneer die Bloues en die Rooies mekaar gepak het. Dit was woes. Voor die jaarlikse stryd het ons klomp koshuis­seuns sit en tokse se punte skerp vyl vir beter vastrap op ’n Rooie, sou hy waag om aan die verkeerde kant van ’n skrum te loop lê.

Donderdae was kadette, met die meisies wat Jeugweerbaarheidsklasse moes doen en die seuns wat in kortbroek-browns gedril het. Pa Toit het die kadetorkes afgerig, met simbale, dromme, beuels en trompette die straat af. Hier en daar was ’n trompet heel van die noot af, agter die orkesleier met sy wit stok aan. Die drillery was nie noodwendig met militêre presisie nie. Die jong, parate onderwyser met die unieke naam Taragompie het bevele uitgeblaf – voorwaarts mars, omkeer en halt, stuit een, twee! Daar was ook ’n skietpeleton.

Nuusberigte het nou en dan deurgesyfer van ’n grensoorlog anderkant die kaplyn. Selfs nou en dan van skermutselings in Angola. Gaandeweg het nuus van die grens meer gereeld begin vloei. Ook in die Volk se blad is van tyd tot tyd daaroor berig.

In matriek of op 17, welke eerste gebeur het, het elke seun sy oproepinstruksies van die SAW ontvang met kennis van wanneer waar aangemeld moes word vir twee jaar se diens­plig. Dit het ’n nuwe emosie gebied. Om ’n magsnommer te ontvang met ’n basis waar aangemeld moet word, het die klompie matriekseuns van Opsaal-seunskoshuis heel opgewonde gehad: Wie is waarheen opgeroep – infanterie, artillerie, pantser of die lugmag? Ou Mielie wou weet wat en waar is die Geniekorps. Die vrolike vooruitsig van om nie skool toe te gaan nie, het die botoon onder die matriekseuns gevoer met net ’n eindeksamen om te oorbrug voor ’n nuwe begin met regte browns.

Min het ons groepie matrieks geweet dat een van die vrolikes onder ons, Edgar, op die grens aan flarde geskiet sou word. Van koshuiskinders deur die vuurdoop tot ’n geharde soldaat in daardie jare, het ’n skrale nege maande geduur.

Daarom voel 1977 vanoggend so ver in die verskiet. Want skooldae langs die some van die Valsrivier was ’n ewigheid weg van die vlam en vuur waar gesneuweldes geval het, en siekes en verminktes ontruim moes word.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.