RISIKO’S wanneer in DROË GROND geplant word

Gepubliseer: 5 Augustus 2025

733
Prof Gert Ceronio,
Fakulteit Natuur- en
Landbouwetenskappe, Universiteit van die Vrystaat

Bewerkbare grond maak ongeveer 9 tot 12% van die totale landoppervlakte in Suid-Afrika uit, waarvan die grootste gedeelte onder droëlandgewasproduksie is. Droëlandgewasproduksie is uiters sensitief vir klimaatsverandering en -variasie. Mie­lies, sojabone en sonneblom in die somerreënvalgebied en koring en gars in die winterreënvalgebied van Suid-Afrika neem die grootste droëlandproduksie-areas in beslag.

In hierdie gebiede, met die uitsondering van areas onder besproeiing, is gewasse afhanklik van seisoenale reën. Een van die belangrikste besluite vir droëlandprodusente is wanneer om te plant. Dit word grootliks bepaal deur grondtemperatuur en grondvog. Laasgenoemde is meer bepalend in oppervlakgronde (plantsone) en word beïnvloed deur die bewerkingsisteem (konvensionele of bewarings/geenbewerking), grondtekstuur en die belangrikste, aanvang van die reënseisoen.

In afwagting op die reënseisoen sal sommige produsente dit waag om graansaad in droë grond te plant in die hoop dat reën spoedig na plant sal volg om ontkieming en opkoms te bevorder. Die strategie word gewoonlik uitgevoer in gebiede met a) ’n kort plantvenster; b) waar hitte-eenhede ’n uitdaging is; c) waar die ondergrondvog beperkend is; d) waar produsente die groeiseisoen wil verleng om hoër opbrengste te realiseer; of e) waar groot oppervlaktes met beperkte toerusting en arbeid hanteer moet word.

Alhoewel dié praktyk sekere voordele inhou, soos vroeër plantdatums met ’n gepaardgaande langer groeiseisoen en hoër opbrengste, hou dit ook aansienlike agronomiese en ekonomiese risiko’s vir die produsent in. Dié risiko’s sluit onder meer in dat saad nie ontkiem nie (stik) of oneweredig opkom indien onvoldoende reën val. Die saad/saailing kan verder aan hittestremming blootgestel word, korsvorming kan voorkom of die saad/saailing kan deur insekte en knaagdiere beskadig word.

Onvoorspelbare reënvalpatrone en klimaatsverandering kompliseer produsente se besluitneming. Soms vind die vroeë reën wat voorspel word nie plaas nie of vroeë reën val wel, maar dit word opgevolg deur droogteperiodes met gepaardgaande bonormaal hoë temperature – veral in die westelike graanproduksie-areas van die somerreënvalstreek. In die proses word produsente gekonfronteer met vrae soos die volgende:

  • Moet daar enigsins geplant word?
  • Moet geplant word ongeag die grondvog?
  • Moet daar vir die reën gewag word?
  • Moet die grond bewerk word om onkruide te beheer en terselfdertyd dieper nat/klam grond met die droë bogrond te vermeng in ’n poging om te kan plant?

In hierdie artikel word gepoog om produsente bewus te maak van die potensiële risiko’s wanneer daar in droë grond geplant word voor die reënseisoen ’n aanvang neem.

Agronomiese oorwegings
Ontkieming en vestiging
Hoë ontkiemingspersentasies, eweredige opkoms, vroeë vestiging van saailinge en eweredige stand (intraryspasiëring) is deurslaggewend vir suksesvolle gewasproduksie. Wanneer die saad in die grond geplaas word, kan die sade óf dormant bly óf onvoldoende grondvog opneem wat tot geen of vertraagde ontkieming kan lei. Die uiteinde hiervan is onegalige stand en saailinggroei.

Sade van mielies, sojabone en kleingrane moet onderskeidelik 30%, 50% en 35 tot 45% van hul eie massa in water opneem om te kan ontkiem. Van die drie gewasse is sojabone die sensitiefste tydens ontkieming wanneer onegalige grondvog in die plantsone voorkom. Dit kan toegeskryf word aan die hoë tempo van imbibisie of wateropname en die harde, dun en broos saadhuid wat maklik kraak en toegang tot patogene gee. Hoe langer saad, veral sojabone, in die plantsone lê voordat dit ontkiem, hoe groter is die risiko vir grondgedraagde siektes. Alhoewel mielies en kleingrane meer verdraagsaam is, neem hul groeikragtigheid af wat kan lei tot swak opkoms. Swak opkoms veroorsaak weer onegalige stand en nie alle gewasse is in staat om hiervoor te kompenseer nie. Dit is veral opsigtelik by kortgroeiseisoen­omstandighede, byvoorbeeld laat plant. Verder kan onegalige stand tot variasie in plantgrootte lei (sonneblom is ’n goeie voorbeeld), wat op sy beurt tot omval van plante en gevolglik ’n laer opbrengs asook ’n verhoogde voorkoms van onkruide kan lei. In teenstelling hiermee kan eweredige stand van byvoorbeeld sonneblom ’n groot in­vloed op opbrengs uitoefen en ’n bydrae van tot so hoog as 20% teweegbring.

’n Verdere gevolg is waar die meeste sade ontkiem, maar ongelyk opkom en tot onegalige groei lei. Mielies met ’n goeie stand maar wat ongelyk opkom wat tot onegalige lantgrootte lei, kan opbrengsverliese van meer as 5% toon.

Produsente moet bewus wees van potensiële risiko’s om in droë grond te plant voor die reënseisoen begin.

Grondtemperatuur en mikrobiese aktiwiteit
Tydens die plantproses word die grond versteur. Al word daar van drukwiele agter die planter gebruik gemaak, droog die grond makliker uit as gevolg van hoë temperature wanneer daar in droë gronde geplant word, veral in die sanderige, westelike gedeeltes van die somerreënvalstreek. Gevolglik is die grond uiters droog en warm wat die kiem- en groeikragtigheid van sade kan verlaag.

Sojabone het ’n bykomende risiko met betrekking tot stikstofbinding deur Rhizobium-bakterieë. Rhizobium-bakterieë se aktiwiteit en effektiwiteit is gekoppel aan die beskikbaarheid van grondvog en die heersende grondtemperatuur. Tydens droë en warm toestande neem suksesvolle inokule­ring drasties af met gevolglike verlaging in beskikbare stikstof aan die sojaboonplante gedurende die groeiseisoen. Dit beïnvloed opbrengste nadelig.

Sonneblom is ook sensitief wanneer dit laat (einde Desember en begin Januarie) geplant word, veral in die sanderige gronde van die Wes-Vrystaat en die Noordwes-provinsie. Tydens sulke toestande kan grondtemperature in die boonste 1 tot 2 cm maklik bo 50 °C styg – self so hoog as 70 °C – wat kan lei tot swak opkoms. Die kritieke maksimum
temperatuur vir opkoms van sonneblom is 43,5 °C en temperature bo dié drempelwaarde benadeel die opkoms van die gewas negatief. Hierdie toestande kom veral voor wanneer daar in gronde met onvoldoende grondvog geplant word.

Die goue reël bly om eerder so na as moontlik aan die streek se optimale planttyd in grond met optimale grondvog te plant.

Plae (knaagdiere, insekte en siektes)
Saad wat vir lang periodes in droë grond lê voor dit reën is blootgestel aan verskeie plae. Knaagdiere kan die saad vernietig en insekte soos draadwurms, snywurms, bontmieliekewers en Harpalus-kewers kan die stadig ontkiemende saad en saailinge
be­skadig of vernietig. Saadgedraag­de siektes, maar veral grondgedraagde patogene, kan saad en swak opkomende saailinge infekteer, wat uiteindelik tot ’n swak/onegalige stand kan lei.

Gewasse wat tydens droë toestande gevestig is, kan later in die seisoen meer vatbaar wees vir siektes. Voorbeelde hiervan is mieliesaailinge wat droogte­stremming ondergaan het en meer vatbaar is vir Fusarium-wortelvrot. Sojabone wat aan droogtestremming blootgestel word, is weer meer vatbaar vir swamme wat siektes soos saailing­verwelk (Phythium) en wortelvrot (Rhizoctonia) kan veroorsaak.

Korsvorming en droëtussenlaaggrond
Korsvorming is ’n bykomende risiko wat kan voorkom indien daar in droë grond geplant word. Die voorkoms van reën in die somerreënvalgebied is meestal in die vorm van donderbuie: dus ’n hoë hoeveelheid reënval in ’n beperkte tyd. Die impak op verskillende gronde is duidelik sigbaar, veral indien dit deur warm, droë toestande opgevolg word wat aanleiding kan gee tot korsvorming. Die gevolg is dat die saailinge nie deur die kors kan breek indien dit nie met ’n roltandeg opgehef word nie. Sonneblom en sojabone is uiters sen­sitief vir dié toestande. Indien die kors vir sojabone nie opgehef word nie, kan die hipokotiel van die sojabone breek en tot afsterwing en standverliese lei. Standverliese, indien nie te ernstig nie, word egter gedeeltelik of ten volle oorkom deur sojabone met ’n onbepaalde groeiwyse wat oor ’n goeie kompensasievermoë beskik.

’n Bykomende risiko is wanneer voldoende reën voorgekom het om ontkieming en opkoms te bewerkstellig, maar die reënbui was onvoldoende of daar het nie opvolgreën voorgekom om die profiel dwarsdeur te benat nie. Die bogrond is nat/klam, gevolg deur ’n droë laag en dan weer nat/klam grond. In sulke toestande kan wortelontwikkeling nie plaasvind nie – veral sekondêre wortelontwikkeling by kleingrane.

Klimaatsrisiko’s
Droëlandprodusente baseer plantdatums of die mees geskikte tyd om te plant op ondervinding, weervoorspellings en geskiedkundige weerpatrone. Ongelukkig kom daar al hoe meer klimaatsvariasies voor en blyk voorspellings vir die aanvang van die reënvalseisoen meer onvoorspelbaar te wees. Die grootste enkele risiko of gevaar wat met vroeë droëgrondaanplantings geassosieer word, is die voorkoms van ’n valse of swak voorspelde aanvang van reën. Dit kan misleidend vir produsente wees en daartoe aanleiding gee dat hulle voortydig plant, dus voor die reënseisoen ’n aanvang geneem het. Verskeie “klimaatslim” toepassings soos seisoenale voorspellings kan ingespan word, maar ongelukkig is die akkuraatheid van die platforms soms swak. Soos wyle prof Jimmy de Jager altyd gesê het: “Die weer beheer!”

Produsentbesluitneming en risiko-aanvaarding
Om gewasse voor die aanvang van reën te plant dra ’n hoë risiko. Dié besluit word direk of indirek beïnvloed deur ekonomiese druk, grondtoestande, agronomiese oorwegings, die grootte van aanplantings, heersende klimaatstoestande sowel as die produsent se aptyt vir risiko. Vroeë aanplantings bied wel strategiese voordele, maar dit is ook belaai met risiko’s wat die ontkieming van saad, opkoms, plantestand en graanoes kan beïnvloed.

Uit ’n agronomiese oogpunt kan die plant van graangewasse in droë grond ontkieming vertraag of negatief beïnvloed. Dit kan verder die stand negatief beïnvloed en daartoe lei dat die gewas later in die groeiseisoen meer vatbaar vir insekte en siektes is.

Ekonomies gesproke kan aanplantings in droë grond lei tot oorplant van die gewas met ’n gevolglik verkorte groeiseisoen en groot finansiële verliese (saad, arbeid, brandstof, slytasie en laer opbrengste).

Ten slotte
Die goue reël bly om eerder so na as moontlik aan die streek se optimale planttyd in grond met optimale grondvog te plant. Indien die aanvang van reën later as die optimale plantdatum is, plant dan eerder later as ’n geforseerde vroeë plant. Die risiko van swakker opbrengs en ekonomiese verlies as gevolg van ’n later eerder as ’n vroeë plantdatum is kleiner as om in droë grond te plant en die risiko te loop van ’n swak stand en die moontlikheid van oorplant.

Indien die produsent moet oorplant, gaan dit ’n later plantdatum wees met gevolglike ekonomiese verlies van oorplant asook laer opbrengs as gevolg van minder hitte-eenhede in die geval van byvoorbeeld mielies. Indien laat oorgeplant word en die hektare baie is, kan toerusting en trekkers ’n beperkende faktor word. Om in droë grond te plant is uitsluitlik die produsent se keuse en berus op omgewings-, grond-, klimaats-, ekonomiese en persoonlike oorwegings.