
SA Graan/Grain-
medewerker
By droëlandgewasverbouing speel water en die beskikbare vog in die grond die belangrikste rol om ’n goeie oes te verseker. Grond en die grondfisiese eienskappe wat die water stoor en water aan plante beskikbaar stel, is ’n gegewe en is gewoonlik belangriker om ’n oes te verseker as die grondchemiese eienskappe van die grond. Produsente moet sorg dat die grondchemie reg is, maar sonder water vir die plant kan daar nie produksie verwag word nie. Dit maak dus sin om lande volgens hul potensiaal te bestuur wat gewas, bemesting en plantestand betref.
Met rekordhouding kan heelwat produsente hul hoër produserende gedeeltes uitwys, maar as hierdie kolle nie afgebaken en gekwantifiseer is nie kan daar nie veel met die inligting gedoen word nie. As die potensiaal van die kol nie bekend is nie, hoe kan dit dan reg bemes word?
Grondeienskappe
Dit is bekend dat gronde oor kort afstande beduidend kan verskil en derhalwe ook die potensiaal van dié kolle. Hierdie verskille is bloot omdat die grondvormingsfaktore soos klimaat, lewende organismes, moedermateriaal, topografie en ander drasties kan varieer.
Wanneer daar byvoorbeeld van ’n Avalon- of Hutton-grondvorm gepraat word, is dit nie te sê dat daar van ’n hoë- of laepotensiaalgrond gepraat word nie. Die grondfisiese kenmerke, soos kleipersentasie, slikpersentasie asook die effektiewe diepte van twee Avalon-gronde, kan opmerklik van mekaar verskil. Die gevolg van die verskille kan die een ’n hoëpotensiaalgrond en die ander moontlik net ’n gemiddelde of dalk marginale akkerbougrond maak.
Om dus te sê hierdie rooi grond is beter as daardie geel grond is nie noodwendig korrek nie. Dit is belangrik om eerder aandag aan tekstuur, struktuur, vlekke, hardheid, waterabsorpsie en gronddiepte te gee om sodoende die potensiaal van die grond te bepaal en te bestuur.
Die kleur van die grond is ’n aanduiding of dit ’n droë, vogtige of nat versuipgrond is. Die tekstuur van grond dui op die verhouding waarin sand, slik en klei voorkom en word grootliks weerspieël deur die kleipersentasie wat weer ’n invloed op die werksdiepte en -metode sal hê. Verder het die klei- en slikinhoud van grondlae ’n invloed op waterbeskikbaarstelling en houvermoë.
Grondstruktuur het te make met die natuurlike sameklewing van gronddeeltjies om groter dele of struktuureenhede te vorm. Dit gaan gepaard met hoër kleipersentasies. Gronde met ’n uiters hoë kleipersentasie het ’n negatiewe invloed op wortelontwikkeling en waterinfiltrasie. Grond met ’n besonder sterk struktuur kan selfs wortels breek of beskadig aangesien hierdie gronde rek en krimp.
Waterabsorpsie van die grond dui op die spoed waarmee die grond water kan opneem en watter persentasie van die beskikbare water sal afloop na ’n reënbui. Hoe meer water opgeneem en gestoor word, hoe beter sal die oeste wees. Maak dus tyd om hierdie aspek op die plaas te bestuur.
Gronddiepte is net so noodsaaklik as waterabsorpsie. Dit maak nie saak of daar van effektiewe diepte, gronddiepte of effektiewe worteldiepte gepraat word nie – dit kom daarop neer dat ’n hoëpotensiaalgrond diep genoeg moet wees om genoegsaam water op te gaar en aan plante beskikbaar te stel tydens periodes waar reënval nie in die plante se behoeftes kan voorsien nie.
Ten einde ’n ideale akkerbougrond te wees, moet grond voldoende water kan opneem, voldoende water kan stoor en die water kan vrystel sodat plante optimaal kan groei.
Deur net na die grond te kyk en volgens die kleur te beoordeel, is dalk nie meer ’n goeie praktyk nie. Laat gronde korrek karteer sodat die grondpotensiaal korrek bereken kan word. Daar is talle landboumaatskappye en individue wat hierdie taak kan verrig. Met hierdie inligting is dit moontlik om die doeltreffendste bemestingsplan te bepaal. Deur hierdie ontleding een keer te doen en al die inligting in te win, is sekerlik een van die beter beleggings wat ’n produsent ooit sal maak.
Grondontledings
Met hierdie seisoen se hoë opbrengste en volop reën is dit nie die jaar om grondontledings oor te slaan nie. Grondontledings is die basis vir bemestingsbeplanning. Sonder die inligting is volgende jaar se oes op risiko. Onthou net: Te min is sleg, maar te veel is net so sleg.
Presisieboerdery is vir seker meer winsgewend, hoe daar ook al na die saak gekyk word. Naas grondkartering is chemiese grondkartering deurslaggewend. Net die toediening van kalk op die regte plekke maak ’n reuseverskil aan opbrengste.
Maar wat kry ’n mens alles uit ’n grondontleding en hoekom moet al die toetse gedoen word? In Tabel 1 word die meeste ontledingsresultate aangedui asook waarvoor hulle aangewend word.
Met hierdie ontledings kan die meeste besluite korrek geneem word, maar onthou dat dit afhang daarvan of die korrekte grondmonsters geneem is. Die doel van die grondmonster sal die metode waarvolgens dit geneem word, bepaal. Grondmonsters word gewoonlik ná die oes geneem omdat die lande dan kaal is, maar ook sodat dit met historiese grondontledings vergelyk kan word.
Neem van monsters
Probeer die volgende doen as jy self die monsters neem:
- Gebruik ’n plaaskaart met duidelike landname en dui aan in watter rigting geloop is om die monsters te neem.
- Meng submonsters van die bogrond (0 tot 25 cm) en ondergrond (25 tot 75 cm) deeglik in ’n skoon mengemmer.
- Probeer om die monsters op dieselfde diepte as in die verlede te neem.
- Hou bogrond- en ondergrondmonsters apart en merk dit duidelik.
- Grondmonsters kan ook op ’n presisierooster geneem word waar monsters se GPS-posisie bepaal word vir latere verwerking.
Dit is belangrik dat hierdie monsters dan na ’n geakkrediteerde laboratorium gestuur word om sodoende die regte ontledings terug te kry.
Hierdie taak kan ook uitgekontrakteer word. Daar moet net seker gemaak word dat die kontrakteur weet waar om die monsters te neem en dat dit reg genommer word.
Die doel van die monsterneming sal ook bepaal hoe groot die ruit van die opnames moet wees. Dit maak sin om die monsters op ’n 100 m-ruit te neem, maar die koste moet in aanmerking geneem word.
Onthou net as die basiese inligting reg is, kan daarop gebou word; maar indien die fondasie verkeerd is, gaan die huis definitief skeef wees.
Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.


























