Suid-Afrikaanse vervaardigers het vanjaar weer hul implemente en masjinerie met trots op NAMPO 2025 vertoon. Hierdie toerusting kan hul man in die mark staan en is in sekere gevalle selfs ’n tree of wat voor hulle internasionale eweknieë.
Soos verlede jaar is daar heelwat ooreenkomste tussen die verskillende vervaardigers, waarvan die eerste is dat hul poog om die doeltreffendheid van hul kliënte te verbeter. Of dit nou skare, spilpunte of dalk ’n planter is – almal is op effektiwiteit en doeltreffendheid ingestel.
Hierdie plaaslike vervaardigers ken Suid-Afrika en die uitdagings wat Suid-Afrikaanse produsente ervaar. Dit gee hulle ’n voordeel omdat hulle implemente kan ontwerp wat
spesifieke behoeftes aanspreek. Van die implementvervaardigers pas dan ook buitelandse tendense aan om die Suid-Afrikaanse toestande die beste te pas. Hulle put voordeel uit die kennis van produsente en ontwikkel saam slim planne om probleme op te los. Tydens die vervaardiging van die produkte word daar van gevorderde tegnologie gebruik gemaak met die oog daarop om betroubaarheid en ’n lang lewensduur te verseker. Plaaslik vervaardigde onderdele behoort in die meeste gevalle maklik bekombaar en redelik bekostigbaar te wees.
RTE
Ripper Tillage Equipment is ’n onderneming wat implemente in Hennenman in die Vrystaat vervaardig en vandaar versprei. Hulle sien hulself as leiers in grondbewerkingstoerusting en streef daarna om ’n rol te speel vandat die grond bewerk word totdat die saad geplant word. Die bou van implemente wat by produsente se behoeftes aanpas, is iets waaroor hulle sterk voel. Vanjaar by NAMPO het hulle windbrekerimplemente ten toon gestel – vir seker iets om te ondersoek. Vir meer inligting besoek www.rippertillage.co.za.


Rovic
Rovic vervaardig hul implemente hier aan die suidpunt van Afrika vir die Afrika-mark. Tans is hulle betrokke by die vervaardiging van verskeie produkte wat die hele graanproduksiesiklus dek. Of jy grond wil bewerk, wil plant of wil spuit, hulle het die nodige toerusting en van die beste tegnologie in die wêreld tot hul beskikking. Vanjaar het hul Suid-Afrikaanse ontwerpingenieur vir ’n hele paar nuwe implemente en toevoegings gesorg. Hulle nuwe skare, spesifiek vir hul produkte ontwerp, is uniek. Dan het hulle ook ’n nuwe inlyn ripper, die Ruppell, bekendgestel. Vir meer inligting aangaande hulle produkte besoek hul webwerf by www.rovic.com.
Roff Milling
Roff Milling was nog ’n interessante uitstaller by NAMPO. Produsente vergeet soms dat die graan wat hulle produseer, verwerk moet word. Dis hier waar Roff Milling hulle tot diens kan wees. Die verwerking van graan is ’n ingewikkelde proses, maar die bemarking van die verwerkte produk vereis dat jy ’n produk lewer wat die verbruiker verkies. Roff Milling, met hul plaaslik vervaardigde produkte, bedien die groot meulens asook die kleiner opkomende gemeenskapsmeulens. Die fabriek in Kroonstad vervaardig pasgemaakte produkte vir hul kliënte deur van die beste vervaardigingstegnologie gebruik te maak. Hierdie meulens is ’n goeie belegging. Besoek gerus hul webwerf by www.roff.co.za.

Stärk
Stärk-landbou-implemente is ’n nuwe groep implementvervaardigers. Die jong groep vervaardig betroubare, sterk en bekostigbare implemente, onder meer rolmoere, beitelploeë en rippersaadbedimplemente. Hierdie implemente is so ontwerp dat dit uiters goeie grondopbreking bewerkstellig, maar steeds ’n relatief lae kilowatt se trekkrag vereis. Hulle vervaardig ook die Bremuda-breëvlaksnydis. Implemente in die Stärk-stal is ordentlik in die praktyk getoets en heelwat verbeterings is oor tyd aan die implemente aangebring. Meer inligting omtrent die produkte kan op hulle webwerf bekom word: www.starkfab.co.za.
Van Zyl Staalwerke
Van Zyl Staalwerke is vervaardigers van hoëgehaltevee- en saaitoerusting. Soek jy na graanhanteringstoerusting, ’n sleepwa, ’n rolmoer of ’n landroller? ’n Beitelploeg, gewasskoffel of ’n roltandeg? Die kans is goed dat dit by Van Zyl Staalwerke te vinde is. Hulle vervaardig ook veehanteringstoerusting, wat lekbakke en voerringe insluit. Loer op hulle webwerf by www.vzsgroup.co.za.


Bok Implemente
Met hul nuwe strooier en kettingdis het Bok Implemente behoorlik by NAMPO gebokspring! Indien ’n produsent op soek is na ’n hoëspoed- kompakte snyeg, onthou gerus van Bok Implemente se KD-reeks. Hulle vervaardig nie net hoëspoed- kompakte snyêe van uitstaande gehalte nie, maar ook kwaliteitimplemente vir primêre grondbewerking. Die reeks inlyn skeurploeë is implemente om mee rekening te hou. Hul produkte is betroubaar, gebou om te hou, vereis min onderhoud en is boonop doeltreffend en bekostigbaar. Kry meer inligting oor Bok Implemente by www.boki.co.za.


Badger
Heelwat produsente is op soek na nuwer planters met beter tegnologie. Badger staan sy plek vol in hierdie kategorie. As jy jou kunsmistoediening wil optimeer, is hulle nuutste pasgemaakte oplossings iets om te oorweeg. Die uniek ontwerpte kunsmistoedieners kan reeds tydens grondvoorbereiding ’n presiese deel van die produsent se bemesting toedien. Badger bemark ook hul eie planter, hoofsaaklik op die somersaaigebiede gefokus. Alle presisietoerusting word op hierdie planter aangebring en dit kan opgestel word om presies binne elke produsent se stelsel te pas. Presisietoerusting kan oor tyd vervang word met nuwer tegnologie. Vir meer inligting en video’s oor Badger se implementereeks, besoek www.badgerag.co.za.
Suid-Afrikaans vervaardigde toerusting is beslis iets om in gedagte te hou wanneer produsente toerusting moet vervang.

















