Hoe ry boere sit-sit so?

Gepubliseer: 4 Augustus 2025

413
Valerie Cilliers,
SA Graan/Grain-
medewerker

Lang werksure en presisie is twee kante van dieselfde munt as dit by die bestuur en hantering van landboumasjinerie kom. Wanneer die operateur gemaklik is, verbeter produktiwiteit, akkuraatheid en veiligheid. ’n Mens kan sê die hele produksiesiklus vind daarby baat.

Die bedryf het reeds ’n lang pad gestap in die verbetering van operateursgemak, en vervaardigers soos Case IH, Valtra, John Deere en New Holland is aan die voorpunt van hierdie innovasie. Met kenmerke soos ergonomiese sitplekke, gevorderde tegnologie, verbeterde sigbaarheid en intuïtiewe kontroles, stel hul masjinerie nuwe standaarde vir gemak en doeltreffendheid.

SA Graan/Grain het by hierdie maatskappye gaan aanklop om uit te vind hoe vervaardigers die welstand van operateurs deur innoverende tegnologie prioritiseer.

Case IH
Jean Pieterse, gekonnekteerdedienste-bestuurder by CNH Industrial, verduidelik dat die maatskappy se FieldOps Steiger-kajuit ontwerp is met die operateur se gemak en doeltreffendheid as prioriteit. “Die kajuit is ontwerp om die operateur se werksruimte logies en toeganklik te maak. Alle kontroles is binne gemaklike reikafstand geplaas, en die ergonomiese uitleg beteken dat die operateur minimale liggaamsbeweging nodig het om kernfunksies te aktiveer en uit te voer. Die kajuit bied ’n wye sigveld, wat voordelig is vir presisiebedrywighede soos spuitwerk waar akkurate waarneming van spuitbalke noodsaaklik is,” verduidelik hy.

’n Verstelbare stuurkolom en stuurwiel, sowel in hoogte as diepte, verseker dat elke  operateur sy ideale werksposisie kan instel. Hierdie verstelbaarheid, gekombineer met ruim spasie en logiese kontroles, skep ’n gebruikersvriendelike werksomgewing wat spanning en moegheid verminder.

Nog ’n uitstaande kenmerk van die kajuit is die volledig verstelbare sitplek met aktiewe skokbrekers. Van die modelle voorsien ’n sitplek met verhitting en masseerfunksie, ideaal vir kouer winteroestye en vir lang, intense werksdae. Hierdie kenmerke help om spierspanning en rugmoegheid te verminder, wat direk bydra tot operateurswelstand en volgehoue konsentrasie.

Case IH se Patriot 50-reeks-spuit is toegerus met twee gevorderde skerms vir verbeterde beheer en operateursgerief.

Die kajuit is verder toegerus met vol outomatiese klimaatbeheer, wat die temperatuur in die kajuit konstant hou ongeag buitetemperature. Dit verseker dat operateurs in alle seisoene gemaklik bly. Die kajuit is ook merkwaardig stil, wat geestelike moeg­heid verminder en ’n meer gefokusde werks­omgewing skep.

Die Patriot 50-reeks-spuit met die Field­Ops Steiger-kajuit is nuut toegerus met twee gevorderde skerms: die Raven Viper 4+ en die Pro1200-monitor. Hierdie stelsels bied onder meer ISOBUS-beheer, outomatiese balk­hoogtebeheer en die vermoë om spuit­parameters soos liters per hektaar en druk vanuit die kajuit aan te pas. Hierdie funksies laat operateurs toe om presisiebedrywighede akkuraat en maklik te bestuur sonder onno­dige afleiding of fisieke inspanning.

Op die hoogloopspuite pas die 30-m-spuitbalk sy hoogte outomaties volgens die terrein aan. Dit verseker konstante spuittoediening sonder dat die operateur te veel aandag hoef te gee.

Die Steiger-kajuit op die 50-reeks-spuit maak ook voorsiening vir spoedbeheer en spuitaktivering met die druk van ’n knoppie, wat eenvoudiger en vinniger reaksie op ver­anderende werkstoestande moontlik maak. Met ’n enkele knoppie kan die hoogloopspuit ook tot stilstand gebring word of agteruit beweeg. Pieterse verduidelik dat hierdie funksie nie net tyd bespaar nie, maar ook veiligheid verbeter.

Valtra
“Ons is uiters trots op hoe gemaklik en veilig ons trekkers is,” sê Bronwyn Cilliers, hoofbe­stuurder van Valtrac. “Valtra-trekkers is ontwerp met gemak, ergonomie en gebruiksgemak as sentrale pilare, wat verseker dat operateurs hul beste werk kan lewer, selfs tydens lang dae in die veld.”

Valtra se verbintenis tot operateurs­gemak is duidelik in die vyfde- en sesdegenerasie-opdaterings, wat ’n balans tussen gevorderde tegnologie en praktiese ontwerp bied. Valtra-trekkers plaas operateursgemak eerste deur ergonomiese ontwerpe wat fisieke en kognitiewe spanning verminder. ’n Sleutelkenmerk is die volledig verstelbare stuurkolom en stuurwiel, wat wegkantel om maklike toegang tot die kajuit te bied. Hierdie ontwerp verbeter nie net toeganklikheid nie, maar verseker ook optimale sigbaarheid, wat noodsaaklik is vir presi­sietake.

Die Valtra-trekkers se unieke TwinTrac-omkeerstelsel stel operateurs in staat om met selfvertroue vorentoe én agtertoe te werk.

Die slim A-pilaar-skerm, ’n opdatering in die vyfde generasie, plaas noodsaaklike inligting presies waar die operateur dit nodig het. “Die kajuit se uitleg is intuïtief, met die SmartTouch-funksie in Versu-modelle wat die beheer van kontroles vereenvoudig en operateurs in staat stel om take met gemak en akkuraatheid uit te voer,” verduidelik Cilliers.

Die kontrole-arm is toegerus met ’n stuurstok ( joystick) en bied vinnige toegang tot funksies, wat operateurs help om gefokus te bly sonder onnodige inspanning.

Valtra-trekkers is ontwerp om gemak te bied, ongeag die omge­wing. “Ons trekkers bied hoë padspoed met ’n hoë vragkapasiteit en vering wat sorg vir ’n gladde ry-ervaring op rowwe terrein,” sê Cilliers. Die kajuit­suspensie, pneumatiese voorassuspensie en lugveringbe­stuurdersitplek absorbeer skokke van ongelyke oppervlakke, wat dit nie net meer ge­maklik maak vir die bestuurder nie, maar ook die elek­troniese komponente van die trekker beskerm. Hierdie kenmerke is veral waardevol in Suid-Afrika, waar produsente dikwels met uiteen­lopende en uitdagende terreine werk.

Sigbaarheid is ’n verdere sterkpunt, met uitstekende uitsig in alle rigtings, ondersteun deur LED-dagryligte vir verbeterde veiligheid. Opsionele syvensterveërs en tien lugopenings in die dak hou vensters misvry, selfs in vogtige of stowwerige toestande. Die unieke TwinTrac-omkeerstelsel met sy agterste stuurwiel voorsien sigbaarheid deur die agterste windskerm soortgelyk aan ’n stroper, en stel operateurs in staat om met selfvertroue vorentoe én agtertoe te werk.

“Ons trekkers is ontwerp om operateurs te ondersteun sodat hulle langer kan werk sonder om uitgeput te voel,” sê Cilliers.

John Deere
Hein Snyman, streeksproduksiespesialis by John Deere, verduidelik dat die maatskappy se benadering tot operateursgemak gebaseer is op eenvormigheid en standaardisering van hul kajuite oor verskillende masjiene. “Ons het ’n besluit geneem om die kajuite van ons trekkers, stropers en spuite eenvormig te hou sodat ’n operateur gemaklik van die een masjien na die volgende kan beweeg. Hierdie ontwerpfilosofie beteken dat funksionaliteit deurlopend dieselfde is, met slegs enkele verstellings wat tussen modelle wissel. Dit verhoog werksdoeltreffendheid en verminder leerkurwes en bedryfsonsekerheid,” verduidelik Snyman.

John Deere se ActiveSeat™ 2 bied uitmuntende operateursgerief met gevorderde skokabsorberingstegnologie.

Wat sitplekgerief betref, spog John Deere se toppakkette met leersitplekke, aktiewe suspensie, verhitting en selfs ’n masseerder. “Hierdie eienskappe is veral belangrik siende dat operateurs ge­middeld agt tot twaalf uur per dag in die kajuit spandeer,” voeg hy by. Die ActiveSeat™ 2-sitplek, wat in die 7R-, 8R- en 9R-trekkerreekse sowel as John Deere se stropers en spuite pryk, se suspensie werk geïntegreerd saam met die wiel- en voorassuspensie om vibrasies op ongelyke grond te absorbeer.

’n Unieke kenmerk van die John Deere-kajuite is die toevoe­ging van drie voetrusplekke in die kajuit – links, regs en heel regs vir wanneer die stoel gedraai is. Volgens Snyman verminder dit spanning op die operateur se rug en die terugvoer van klante bevestig die waarde van hierdie ontwerp. “Baie van die ander verskaffers het reeds begin om ons voorbeeld te volg deur ook voetrusplekke te installeer,” sê hy.

Die nuutste G5-kajuitskerm van John Deere bied ’n 25 cm-skerm­oppervlakte en lewer grafika en teks van hoë gehalte. Die kontrole-arm wat saam met die stoel beweeg, maak dit maklik om kontroles en die raakskermradio met die druk van ’n knoppie te verstel.

Vir optimale operateursgemak doen John Deere uitgebreide navorsing met klantefokusgroepe in Duitsland en die VSA. Hierdie groepe bestaan uit sowat 30 persone wie se terugvoer oor nuwe tegnologie en ontwerp in produk­ontwikkeling geïntegreer word. “Eers wanneer daar 90% klantetevredenheid bereik is, word ’n produk vrygestel – ’n proses wat gemiddeld vyf tot sewe jaar duur,” verduidelik Snyman.

New Holland
New Holland het met die ontwerp van hul nuutste trekkers en selfaan­gedrewe toerusting operateursgemak ’n kernfokus gemaak, vertel Jaco du Preez, bemarkingsbestuurder by New Holland. “Produktiwiteit en pre­stasie is onomwonde verbind aan die welstand van die persoon agter die stuur,” voeg hy by.

New Holland se Horizon™ Ultra-kajuit, soos te sien in die T7 Heavy Duty-reeks, is spesifiek ontwerp met die operateur in gedagte. Met ’n interne geraasvlak van net 66 dB, die stilste in sy klas, word uitputting oor lang skofte beperk. Die kajuit se ergonomiese uitleg en die SideWinder™ Ultra-armleuning en CommandGrip™-beheerhandvatsel plaas alle beheer maklik binne bereik van die operateur.

Die IntelliView™ 12-skerm bied ’n geïntegreerde koppelvlak vir masjienbestuur met die druk van ’n knoppie. Dit vereenvoudig nie net die operateur se taak nie, maar help ook om akkuraatheid en werksdoeltreffendheid te verbeter.

New Holland se Horizon™ Ultra-kajuit is een van die stilste kajuite op die mark.

Vir produsente en operateurs wat daagliks in stof, hitte of koue moet werk, het New Holland gesorg vir hoëkapasiteit- outomatiese klimaatbeheerstelsels wat die kajuittemperatuur konstant hou. Boonop is Kategorie IV-filtrasiestelsels beskikbaar in sekere modelle, wat volgens ISO 23875-standaarde ontwerp is om fyn stof, spuitnewels en allergene te beperk.

Die Auto Comfort™-sitplek in die T7- en T8-reekse is ontwikkel om operateurs oor lang werksdae gemaklik en verfris te hou. “Hierdie sitplek verstel outomaties volgens gewig, absorbeer skokke en bied funksies soos verwarming, ventilasie en ’n 30°-draai vir maklike agtertoe kyk,” verduidelik Du Preez. Volgens hom help hierdie kenmerke om spier- en skeletspanning te verminder, veral met herhalende draaibewegings tydens implementhantering.

Waarom operateursgemak saak maak
Die fokus op operateursgemak deur maatskappye soos Case IH, Valtrac, John Deere en New Holland is nie net ’n luukse toevoeging nie, maar ’n noodsaaklikheid in moderne landbou. Lang werksure in ongemaklike omgewings kan lei tot fisieke en emosionele uitputting, wat die risiko van foute en ongelukke verhoog. Ergonomiese ontwerpe, verstelbare sitplekke en stuurwiele, klimaatbeheer en intuïtiewe tegnologie verminder spanning en verbeter konsentrasie. Dit lei tot hoër produktiwiteit, beter presisie in take soos spuit en saai, en uiteindelik ’n beter opbrengs vir produsente.

Boonop dra gemaklike masjinerie by tot die veiligheid van ope­rateurs. Kenmerke soos verbeterde sigbaarheid, outomatiese verstel­lings, stil kajuite en voetrusplekke verminder uitputting, wat ope­rateurs in staat stel om hul take met groter gemak en selfvertroue uit te voer. In ’n bedryf waar tyd en akkuraatheid geld is, is die belegging in operateursgemak ’n strategiese besluit wat die boerdery se wins­grens verhoog.

Namate die landbousektor in Suid-Afrika aanhou meganiseer en produksiekapasiteit uitbrei, sal belegging in operateurgesentreerde masjinerie toenemend belangrik raak om beide produktiwiteit en gesondheidstandaarde op plaasvlak te verbeter.