NDVI: sleutel tot jou boerdery se volle potensiaal

Gepubliseer: 2 Julie 2025

236
Bernhard Smit, digitaledienste-spesialis, Syngenta Cropwise

Satellietbeelde en -inligting vorm deel van die raamwerk vir gewasmonitering. Die gewasgroei-indeks (normalised difference vegetation index of NDVI) is ’n standaardindeks wat gebruik word om die mate van gewasgroei en biomassa te beskryf. NDVI word bereken deur te vergelyk hoe plante naby-infrarooi lig (NIR-lig) teenoor rooi lig weerkaats.

Gesonde gewasse of gewasse met ’n hoë biomassa het ’n hoër chlorofil­inhoud wat veroorsaak dat meer NIR-lig weerkaats word, maar rooi lig steeds geabsorbeer word. Satelliete gebruik laasgenoemde inligting om dan die NDVI te bepaal, waarvan die waardes tussen 0 en 1 lê.

Waardes tussen 0,05 en 0,2 dui areas met kaal grond aan (voor plant of na oes). Sodra gewasse begin opkom, sal die NDVI toeneem (0,3 tot 0,4). Toe­nemende gewasgroei deur die seisoen veroorsaak ’n verdere verhoging in die NDVI of biomassa (0,4 tot 0,9).

Die duur en mate van die piek van die grafiek in Figuur 2 dien as ’n aanduiding van die opbrengspo­tensiaal van die gewas. Sodra gewasse bladgroen verloor en ryp word, neem die NDVI af en kan dit gebruik word as ’n riglyn vir oesgereedheid. Cropwise gebruik die tendens van die NDVI om al vanaf ses weke na opkoms vir die produsent ’n opbrengsskatting te gene­reer wat daagliks aangepas word tot en met oes.

Figuur 1: Die gewasgroei-indeks, oftewel NDVI.
Figuur 2: Gewasgroei-indeks (NDVI) teenoor tyd.

Oor die algemeen gebruik produsente NDVI-beelde om swakker kolle in lande weens insekinfestasie, voedingstekorte, onkruide of variasie in opkoms uit te wys, soos in Figuur 3 uitgebeeld. Hierdie kolle kan dan gebruik word om optimale besoekpunte te identifiseer wat tyd spaar en onnodige landbesoeke vermy. Die NDVI-beelde kan selfs gebruik word om opslaggewasse of onkruide van ’n vorige seisoen te identifiseer wat strategies bestuur kan word of om variërende toedieningskaarte te genereer om elke hektaar van die land volgens sy potensiaal te bestuur.

Figuur 3: Spilpunt-swakkol-NDVI

Verskeie satellietdienste voorsien NDVI-beelde, met Sentinel, Landsat en Planet wat die mees algemene verskaffers is. Sentinel het ’n resolusie van 10 x 10 m en voorsien elke vyf dae beelde, terwyl Planet ’n 3 x 3 m-resolusie het en daagliks beelde voorsien. Daaglikse beelde bied meer geleenthede om wolkvrye beelde te genereer in vergelyking met die Sentinel-satelliete wat elke vyf dae beelde voorsien. ’n Hoër resolusie verseker ook dat enige afwykings vroeër en fyner geïdentifiseer kan word.

Saam met die NDVI, bied die satellietbeelde ook ander indekse aan om die biomassamateriaal in ton per hektaar, die voginhoud van die gewas en die grondvog te bepaal.

Satellietbeelde vorm slegs ’n deel van die verskeie funksies wat op Cropwise Operations, Syngenta se digitale landboutoepassing, beskikbaar is. As ’n sentrale spil vir boerderybestuur en gewasmonitering, laat dit produsente toe om al hul boerderydata op een plek saam vat deur integrasie met masjinerie, weerstasies en ander platforms. Die platform verseker produsente het toegang tot intydse data om besluit­neming te ondersteun, produksie te verbeter en koste-effektiewe bestuur toe te pas.

Bereik jou boerdery se volle potensiaal deur gebruik te maak van NDVI-beelde en Cropwise Operations. Om meer inligting te verkry besoek www.cropwise.com/south-africa.