Te midde van die gewoel, blink trekkers en besige landbougeselsies, het die Alpha Insure-vroueprogram ’n plek van rus, bederf en inspirasie vir die skoner geslag by NAMPO gebring. Hier is kos en musiek gemaak, stories vertel en saam gelag tydens vier besonderse dae wat die dames beslis nie sal vergeet nie.
Met Alpha Insure as trotse hoofborg en Voelgoed Media-redakteur Venessa Schoeman aan die stuur van sake, het die program vanjaar ’n sterbelaaide verhoog gehad.

Een van die week se hoogtepunte was beslis Lynette Beer, geliefde motiveringspreker, skrywer en lewensafrigter, wat haar gewilde vierkleur-temperamentmodel met die tema “Ek is lief vir jou, maar jy irriteer my so” op vermaaklike wyse aangebied het. Sy het vooraf aan SA Graan/Grain vertel: “Verhoudings maak saak en ons is almal verskillend bedraad. Dit word net soveel makliker as ons mekaar se temperamente verstaan.”
Liesel Krause-Wiid, predikant en motiveringspreker, het die gehoor bemoedig om aan te hou droom en hulle gawes te gebruik om ’n verskil te maak. “Dit is ’n groot voorreg om met die vroue van NAMPO te kan gesels,” het sy gesê. As Bosveld-kind en stokperdjieboer buite Pretoria, lê die landbougemeenskap haar na aan die hart.
Die immergewilde Jak de Priester en Antoinette Pienaar, die Karoo se eie kruiekenner, het die gehoor bederf met stories oor die Karoo se mense en dinge. Jak se sielvolle musiek was beslis ’n hoogtepunt van die week se program.

Louis Loock, voorheen van Romanz, en Cobus Snyman van Die Broers het klassieke en popmusiek saamgesnoer in ’n vertoning wat die gehoor op hul voete gehad het. Tussendeur het aktrise en motiveringspreker Lindie Strydom asook TV-aanbieder en aktrise Mandi Baard die gehoor bemoedig en laat lag met hulle bekende warmte en wysheid.

Vir die fynproewers was daar ’n spesiale bederf toe sjef Tiaan Langenegger, die eerste Kokkedoor-wenner, sy resepte en kombuiswenke met die dames gedeel het. En as kersie op die koek het Willie Strauss, akteur, sanger en selferkende tuiskok, sy kabaretvertoning Tong in die Quiche aangebied — ’n heerlike kombinasie van kos, musiek en stories wat die gehoor aan die lag én in vervoering gehad het.
’n Program soos dié is natuurlik nie moontlik sonder betroubare borge en organiseerders nie. ’n Groot dankie aan Alpha Insure, Afgri, Swartland Winery, Scania, Zoerdoef, Graan SA, M4 Events, Voelgoed Media en GL Events wat gesorg het dat die vroue van die landbou hul eie spesiale spasie vir inspirasie kon hê.
NAMPO se vroueprogram het weer eens gewys: As boervroue saamkuier, word drome hernu en verhoudings versterk.
