Vee-afdeling lok selfs SA PRESIDENT

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 4 Junie 2025

176

Die vee-afdeling by NAMPO Park is jaar na jaar ’n trekpleister vir talle belang­stellendes. Vanjaar het selfs Suid-Afrika se eerste burger – in sy hoedanigheid as produsent – dié afdeling op Dinsdag 13 Mei besoek.

President Cyril Ramaphosa is teler en/of eienaar van minstens vier beesrasse: Ankole, Bonsmara, Boran en Nguni. Hy het met dr Oswald Jannasch, president van die Nguni-beestelersgenootskap, gesels en ’n boek oor hierdie ras gekoop voordat hy ’n draai gemaak het by die Boran-uitstalling.

Daar het hy met Francois Smit, president van dié genootskap, gesels en algemene inligting uitgeruil. Louis Steyl, uitvoerende hoof van die Bonsmara-telersgenootskap, het hom ook by dié uitstalling te woord gestaan. President Ramaphosa self is een van 354 geregistreerde Bonsmara-telers.

Volbespreekte uitstalruimtes
Wimpie Rossouw, wat die vee-afdeling al vir dekades lank met groot sukses bestuur, is besonder passievol oor sy taak. Hy vertel dat al die uitstalruimtes en afdakke vanjaar vol bespreek was – soveel so dat daar selfs ’n waglys was.

Die skaapkompleks is vanjaar opge­gradeer en Rossouw spreek sy waardering uit teenoor die uitstallers wat jaar na jaar groot moeite doen om hul uitstalareas te verfraai.

Rossouw is besonder gesteld daarop dat bek-en-klouseerprotokolle streng nagekom word sodat die veiligheid van alle diere op uitstalling gewaarborg kan word. Hy vertel dat alle vee met ’n geskiktheidsertifikaat van ’n veearts by NAMPO moet arriveer. Daarbenewens besoek twee veeartse daagliks die diere tydens die uitstaltyd wat die klem op biosekuriteit tydens dié skou beklemtoon.

Vanjaar was daar uitstallers van so ver as Upington in die Noord-Kaap, Rhodes in die Oos-Kaap en Komatipoort.

Kampioen
Die interrasbeesbeoordeling op die laaste dag van NAMPO lok elke jaar groot belangstelling van uitstallers, produsente en die publiek. Volgens Rossouw bied dit ook aan jong beoordelaars waardevolle blootstelling. Vanjaar is Poerie van Rooyen se Simmentaler as kampioenbul aangewys, terwyl Jan Bothma se Santa Gertrudis as kampioenkoei bekroon is.

President Ramaphosa het NAMPO in sy hoedanigheid as produsent bygewoon en het as beesboer groot belangstelling getoon in wat by die veekompleks aangebied is.
Die jaarlikse skaapskeerdemonstrasies deur die Nasionale Wolkwekersvereniging lok altyd groot belangstelling. Vanjaar kon besoekers selfs hul eie skaapskeervaardighede toets.
Ram van die Jaar (2025), Maximus van Heuningkrans Merino’s, hier by Reinhardt de Kock (Hanover), Theron Swanepoel (Smithfield), Eduard Prinsloo (eienaar, Smithfield) en Willa van Heerden (rasdirekteur).
Beoordelaars van die interrasbeeskampioenskappe hou ’n spanpraatjie voor die beoordeling begin.
Renier Olckers (regs) van Westhof Droughtmasters hier by Vers 13565 (18 maande) en Bul DO 01678 (19 maande). By hom is Darius Mienie, Lexi en Ragnar (5) Olckers.
Steven Maji van Grasmunt Drakensbergers by ’n spogbul wat aan die interrasbeoordeling deelgeneem het. Graad 10-leerders van St Paul’s High School in Taung het die verrigtinge kom dophou.
Jonas (30 maande) van die Freddie Markram Charolais-stoet in Kuruman het ook aan die interrasbeoordeling deelgeneem. Die hanteerder was Israel Molongwa.
Wimpie Rossouw van Ottosdal het vanjaar vir die 34ste opeenvolgende jaar as sameroeper van die vee-afdeling opgetree.
Bellino (4 maande), ’n miniatuurperd van Potchefstroom, het vanjaar talle “oe’s” en “aa’s” by Oesdaggangers ontlok. Kara Muller-van Schalkwyk (NWU-student) het nader kennisgemaak met dié klein ster.