Die 57ste NAMPO Oesdag is vanaf 13 tot 16 Mei 2025 deur Graan SA op NAMPO Park buite Bothaville aangebied. Met ’n rekordbywoning van 87 191 besoekers oor vier dae en met meer as 900 uitstallers, het NAMPO 2025 weer eens bewys dat dit die belangrikste konvergensiepunt vir die graanbedryf en die breër landbouwaardeketting is asook ’n kritieke betrokkenheidsplatform om oplossings en besprekings vir die landbousektor te ondersoek.
Verskeie uitstallers gebruik die NAMPO Oesdag as ’n platform om nuwe produkte en innovasies vir die landbousektor bekend te stel. Met lugverkeer van altesaam 377 vliegtuie en 69 helikopters wat hoofsaaklik uit die sakesektor kom, was die lug bo NAMPO so besig soos die park onder – ’n duidelike simbool van die reikwydte, relevansie en reputasie wat hierdie geleentheid oor dekades opgebou het.

“Ten spyte van die huidige oesdruk waardeur produsente in die gesig gestaar word, waar nat toestande uitdagings gebring het om die oes van die lande af te kry, was die skou ’n reusesukses. Die algemene stemming onder produsente was optimisties, en uitstallers het tevredenheid uitgespreek met die gehalte van die sake wat gedoen is. Die sterk teenwoordigheid van jongmense verseker ook dat landbou in Suid-Afrika ’n toekoms het,” het Danie Minnaar, voorsitter van Graan SA se Oesdagkomitee, gesê.

Terwyl besoekersgetalle ’n sleutelprestasie-aanwyser is, is die sake wat tydens NAMPO gedoen is, ’n selfs belangriker maatstaf van sukses. “Daar is geen twyfel dat verlede week se Oesdag betekenisvolle sakebetrokkenheid deur die hele waardeketting moontlik gemaak het nie,” het dr Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo (Pty) Ltd, gesê.
Benewens die toegewyde landboujoernaliste, het Strydom ook die toenemende teenwoordigheid van die hoofstroommedia opgemerk, wat gehelp het om die narratief rakende die rol en realiteite van die landbousektor te verbreed.

“NAMPO is nie net Graan SA se vlagskipgeleentheid nie. Dit word met trots besit deur ons lede – 7 670 kommersiële en 6 073 ontwikkelende produsente – en word gedryf deur Graan SA se toewyding aan produsente se winsgewendheid sowel as voedselsekerheid. Dit is ’n ruimte vir praktiese betrokkenheid, gedryf deur die behoeftes van produsente,” het Richard Krige, voorsitter van Graan SA, gesê. “NAMPO se doel bly duidelik: Dit is ’n neutrale, apolitieke platform wat kennisdeling, innovasie en kritiese dialoog moontlik maak om die hele sektor te bevorder – van grond tot silo.”


Die besigheid van produksie: innovasie, insigte en praktiese betrokkenheid
NAMPO se kernsterkte het sigbaar gebly in die duisende gesprekke wat uurliks plaasgevind het – tussen produsente wat kultivars vergelyk, navorsers wat proefresultate verduidelik, en diensverskaffers wat innovasies demonstreer wat ontwerp is om opbrengste en volhoubaarheid te verbeter. “Wat NAMPO onvervangbaar maak, is die geluid van produsente wat oor oesmasjienspesifikasies debatteer of notas uitruil oor insetkostestrategieë. NAMPO is waar produsente strategieë bespreek om toegang tot die beste saadtegnologieë te hê, waar hulle stropermodelle inspekteer, en waar oplossings gesoek word vir insetkostestygings, infrastruktuurbottelnekke en nuwe tegnologie,” het dr Tobias Doyer, hoof- uitvoerende beampte van Graan SA, gesê en bevestig dat hierdie gesprekke die hartklop van NAMPO is.
Die tema vir hierdie jaar – “Globale landbou, plaaslik!” – het deur die hele NAMPO Park weerklink toe globale landboutegnologie met plaaslike deursettingsvermoë saamgewerk het. Internasionale uitstallers van die VSA, VK, Turkye, Argentinië en Brasilië het saam met talle buitelandse besoekers by Suid-Afrikaanse innoveerders aangesluit om globale landbou plaaslik ten toon te stel. Presisietegnologie, masjineriedemonstrasies en insetinnovasies, vee-uitstallings en agronomiesentrums, 4×4-bane en gesinsvriendelike ervarings, ’n toegewyde vroueprogram en lewendige markruimtes, die Engen-trekkermuseum, Graan SA-museum en Boerepatente was aan die orde van die dag.

’n Platform vir geleenthede: betekenisvolle besprekings en doelgerigte verbintenisse
NAMPO 2025 sal ongetwyfeld nie net onthou word vir sy kommersiële sukses nie, maar ook vir die ongekende politieke aandag wat dit ontvang het. Gedurende die week is die skou bygewoon deur ’n reeks besoekers op kabinetsvlak, insluitend president Cyril Ramaphosa, adjunkpresident Paul Mashatile, verskeie ministers – onder wie John Steenhuisen (Landbou) en Dean Macpherson (Openbare Werke en Infrastruktuur) – sowel as vyf provinsiale LUR’e en verskeie ander politieke partyleiers. Hierdie besoeke, sommige formeel gereël en ander in ’n persoonlike hoedanigheid, beklemtoon hernieude nasionale belangstelling in die landbousektor.
President Cyril Ramaphosa het die geleentheid in sy persoonlike hoedanigheid as produsent bygewoon om sake te doen en met uitstallers oor die nuutste landboutegnologieë en -innovasie te gesels. Die amptelike regeringsafvaardiging, gelei deur adjunkpresident Paul Mashatile, het egter om ’n meer strategiese rede opslae gemaak: ’n hernieude nasionale dialoog oor landbou se sentrale rol in die ekonomie.
Die landbousektor het tydens hierdie gesprekke verskeie kritieke kwessies geopper:
- Volgehoue kommer oor landelike veiligheid
- Gebrek aan infrastruktuuronderhoud en -belegging
- Vertraagde regulatoriese goedkeurings vir gewasbeskerming en saadtegnologieë
- Die dringende behoefte aan sekerheid oor grondbesit en titelaktes
- Groter belegging in meganisering en digitale toegang
Die adjunkpresident het hierdie bekommernisse erken en met sterk steun gereageer. “Landbou is die ruggraat van Suid-Afrika se ekonomie,” het hy gesê en bevestig dat voedselsekerheid nie net ’n sosiale prioriteit is nie, maar ’n nasionale ekonomiese imperatief. “Ons streef nie na grondgrype nie. Ons fokus is op produktiewe grondgebruik, inklusiwiteit en transformasie wat groei ondersteun.”
Hy het verder belowe dat landelike veiligheid gefokusde aandag sal kry deur ’n nuwe taakspan wat tussen die regering en georganiseerde landbou bespreek word – ’n ontwikkeling wat deur Graan SA verwelkom word. Die opening van nuwe markte deur
bilaterale besprekings is ook as prioriteit uitgelig.
Dr Tobias Doyer was egter duidelik oor NAMPO se kerndoel: “Alhoewel ons geëerd was om verskeie politieke leiers te ontvang, bly dit van kritieke belang om te onthou dat NAMPO eerstens bestaan as Suid-Afrika se toonaangewende graanproduksie- en waardekettingekspo. Die werklike impak van die week lê in die besprekings wat plaasgevind het rakende gewasprestasie, insetkoste, infrastruktuurbottelnekke en toegang tot nuwe tegnologieë.”
Graan SA het herhaal dat betekenisvolle dialoog met die regering ononderhandelbaar is. “As ons nie met die regering praat nie, hoe gaan ons die probleme oplos? Ons lede eis oplossings, nie aanstellery nie,” het Krige gesê. “Landbou het die mag om die ekonomie aan die gang te kry – maar slegs as ons ons produsente beskerm, winsgewendheid handhaaf en verbeter, grondeienaarskap verseker en toegang tot die gereedskap wat volhoubare produksie dryf, verseker.”
“NAMPO se sukses lê in die platform waar produsente, navorsers, landboubesighede en tegnologieverskaffers bymekaarkom om kennis uit te ruil, innovasie ten toon te stel en voor te berei vir die uitdagings van die komende seisoen,” het Doyer bygevoeg.


NAMPO Kaap & ALFA volgende
Graan SA sien uit na NAMPO Kaap wat vanaf 10 tot 13 September op Bredasdorp aangebied word en NAMPO ALFA, die lewendehawe-, jag- & buitelewe-ekspo wat vanaf 16 tot 18 Oktober op NAMPO Park aangebied word.
2026 NAMPO Oesdag
NAMPO se datums vir aanstaande jaar is reeds vasgestel op 12 tot 15 Mei 2026 op NAMPO Park, buite Bothaville. Besoek www.nampo.co.za vir meer inligting of volg Graan SA se sosialemediaplatforms.







