’n Plaasbrein maak ’n slim plan

Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 4 Junie 2025

252

Wat het ’n outomatiese drukgang, ’n plaasrolstoel, ’n draadbinder en ’n groentefynmaker in gemeen?

Dit was alles deel van die 31 inskrywings in vanjaar se Boereplanne-kompetisie, aangebied deur Graan SA, Omnia en Landbouweekblad. Tydens die prysuitdelingsgeleentheid het elke borg die deelnemers bedank vir die innoverende planne wat ingeskryf is.

Richard Krige, voorsitter van Graan SA, het die wenners gelukgewens en hulle aangemoedig om aan te hou planne maak. “Ons het vanjaar uitstaande gehalte en innovasie hier gesien,” het hy gesê. Krige het bevestig dat die kompetisie later vanjaar ook by NAMPO Kaap sal plaasvind.

Richard Krige (voorsitter: Graan SA), Nico Jacobsz (wenner: afdeling A), Chris Burgess (redakteur: Landbouweekblad) en Louis Strydom (bemarkingsdirekteur: Omnia) by die prysuitdelingsgeleentheid.

Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia, het benadruk dat die sukses van die kompetisie afhanklik van die deelnemers self is. Hy het mense aangemoedig om in te skryf en bygevoeg dat hulle reeds uitsien na volgende jaar se inskrywings.

Donald Brink, verkoopsbestuurder van Omnia, het sy teleurstelling uitgespreek dat daar vanjaar geen inskrywings in die skole-afdeling ontvang is nie.

Die wenners was:
Afdeling A – Masjinerie, implemente en landboutoerusting (nuut)

  1. Nico Jacobsz – Outomatiese drukgang
  2. Rizané van Rooyen – Baalvervoerder
  3. Bertus Goosen – Dompelpompbeskermer

Afdeling B – Masjinerie, implemente en landboutoerusting (gemodifiseerd)

  1. Bertus Goosen – Vlotterkleppe
  2. Landon Compton – Ratel-ontbosser
  3. Bertus Goosen – Kleinvee-nekklamp

Afdeling C – Alle gereedskap, elektries en nie-elektries

  1. Bertus Goosen Hoëdruk-passtuksleutel
  2. Cornie Botes Skoonmaaktoestel vir ghriesnippel
  3. Adriaan Ferreira Waterafskeieroplossing

Afdeling D – Huis en tuin

  1. Gert van Tonder – Rot-en-meerkatroker
  2. Ronald Goldberg – Plaasrolstoel
  3. Bertus Goosen – Groente-en-vrugtefyndrukker

Afdeling E – Ope afdeling

  1. Gert van Tonder – Ou-oliegeyser
  2. Bertus Goosen – Skroefdraadskoonmaker
  3. Nicoline Goosen – Buitebandklamp

Afdeling G – Kommersiële afdeling

  1. Rynhardt Erasmus – Anaconda-boorgatlugpomp
  2. Michris J van Rensburg – Loopstoksaadplanter
  3. Gert Visser – Kantelwa
Rynhardt Erasmus van Pretoria se Anaconda-boorgatlugpomp is verlede jaar gepatenteer. Die pomp se ontwerp is die resultaat van ’n spanaksie tussen Rynhardt, sy pa, Adolph, en sy oom Nelius Snyman, in ’n poging om syferwater op hul plaas naby Hartbeespoort te pomp. Later het Rynhardt besef dat die pomp ook ideaal werk vir sy visboerdery. As beloning vir hul innoverende ontwerp het die driemanskap met hul eerste plek ’n uitstalruimte by NAMPO 2026 gewen.
Ronald Goldberg van Potchefstroom is ’n ou bekende in NAMPO-kringe. Hy vertel dat hy reeds ’n heupvervangingsoperasie ondergaan het en binnekort ’n tweede heup asook twee knieë moet laat vervang. Aangesien hy sukkel om op NAMPO Park rond te beweeg, het Ronald ’n plaasrolstoel uit afvalyster gebou. Die rolstoel is opvoubaar en prakties ontwerp vir gebruik op enige terrein. Hy het vir dié blink plan ’n tweede plek in afdeling D verwerf.
Michris Janse van Rensburg van Bultfontein skryf gereeld boereplanne in en sê dat hy daarmee help om sy kinders op universiteit te hou. Vanjaar het sy loopstoksaadplanter ’n tweede plek losgeslaan. Die buis van die planter word met grassaad gevul en die saad word vrygestel wanneer die stok teen die grond gedruk word.
Gert van Tonder van Reitz spog met twee eerste plekke – in afdeling D en E – vir sy rot-en-meerkatroker en sy ou-oliegeyser. Vir die roker het hy ’n blaarblaser aangepas om meerkaaie en rotte uit hul gate te rook. Die geyser gebruik slegs 440 ml ou olie om 40 liter water binne 15 minute tot 60 °C te verhit.
Bertus Goosen en sy dogter, Nicoline (19), van Matlakeng in Botswana, is lank reeds bekende gesigte by die Boereplanne-kompetisie. Vanjaar het Bertus tien planne ingeskryf en ses pryse gewen, terwyl Nicoline vier planne ingeskryf het, waarvan twee bekroon is. Bertus vertel dat mense hom gereeld nader met alledaagse probleme, waarvoor hy dan praktiese oplossings ontwerp. Nicoline, wat aanlyn studeer én boer, het haar eerste boereplan reeds op negejarige ouderdom ingeskryf.
Nico Jacobsz (regs) van Wesselsbron se outomatiese drukgang het ’n eerste plek in afdeling A behaal. Hy span nou saam met Landon Compton (20), wat ’n tweede plek in afdeling B met sy ratel-ontbosser behaal het, om hierdie planne by NPC Agri in Welkom te vervaardig. Landon is besonder opgewonde hieroor, aangesien hy na matriek onseker oor sy toekoms was.