Beste Grootneef
Jacobsbaai is bykans so ver wes as wat ’n mens met ’n motorkar kan ry. Dit is ’n versameling van vyf baaitjies wat wag vir die gety om in te kom en weer uit te vloei. Wanneer die maan vol is, ontvang jy die bonus van ’n springgety wat baie hoog instoot en weer baie laag terugsak.
Dit bly iets besonders om die inkom van ’n springgety te aanskou. Deel daarvan is om klein klipstapels te bou en dan te kyk hoe die water eers saggies, maar later beslis om en oor die bakens vorder, bykans met elke brander effe hoër. Totdat die springgety die strand verower het binne die perke wat Moeder Natuur gestel het met die ewige grens tussen oseaan en hoogwaterlyn.
Die lewe loop stilweg verby Jacobsbaai en sy mense. By die dorpie se ingang kan jy roosterkoek by die Karmenaadjie Padstal koop. By dié se voordeur is ’n kruiwa wat al beter dae geken het, met ’n waarskuwing daarby – “moenie suip en stoot nie”. Net oor die bult is daar die Stoepwinkel wat kontreilekkernye verkoop – heuning, konfyt, olyfolie en neute te kus en te keur. As jy effe meer tyd in die sak het, kan jy wag vir tuisgebak saam met moerkoffie of rooitee.
En dan langsaan – Ali die Pakistani, wat ’n bestaan maak baie ver van sy vaderland. In dié Weskus-dorpie klink sy hoflike Engels uit pas met aardse Afrikaans soos kreef, snoek en fynbos. Ver van ’n land oorvol mense wat fanaties oor hul krieketspan is en van kerrie met borrie hou. Besigheid word in kontant gedoen met vingers wat flink rande en sente vir kleingeld uitkeer. ’n Gesprek met Ali vorder nie maklik verder as “good morning” nie, of dalk ’n vinnige verwysing na die weer wat in die omte is. Jy kan egter sien dat Ali hou van wat hy doen, en doen waarvan hy hou. Koop en verkoop is in sy bloed.
Dit moes egter baie moed geverg het om die bekende van tuis vir ’n vreemde Weskus met ’n ander taal en kultuur te verruil.
En toe wonder ek sommer hoe dit met die klompie Suid-Afrikaners gaan wat die uitnodiging aanvaar het om die bekende vir ’n totaal onbekende in die VSA onder die vaandel van “vlugteling” te verruil. Sommige landgenote hoon hierdie groepie wat landuit is. Ander weer het ’n sagter oordeel vir die wat ’n ander heenkome gaan soek het. Wanneer ’n mens uitvra, is daar min, indien enige kennisse in die Suidland wat nie self ’n vriend of ’n kind het wat reeds elders ’n heenkome gaan soek het nie.
So seker soos Jacobsbaai se getye in- en uitvloei – so seker is dit dat mense die bekende vir ’n nuwe horison gaan verruil. Dis deel van die menslike natuur om grense te toets. Dink maar aan Marco Polo wat die syroete ontsluit het, of Bartolomeus Dias wat aangehou het totdat hy óm die suidpunt van Afrika kon vaar.
Daar is egter een groep wat maklik uit die oog verloor word, en dit is dié wat agterbly.
Jacobsbaai is deurkruis met stappaadjies deur fynbos wat die een baai met ’n ander verbind. Iemand op die dorpie het begin om elke dag op een van die roetes ’n gladde spoelklippie met ’n skets aan die een kant en ’n kort boodskap aan die ander kant te laat. Niemand weet wie die onbekende kunstenaar is nie. Ook nie waar die volgende boodskap gelaat gaan word nie. Die oggendstappie was nie net om son en see te ervaar nie, maar ook om op die uitkyk te wees vir die fonds van die dag op ’n skilderklippie. Op sommige daarvan was ’n skets van ’n blom, die veld of voëls in vlug. Op die teenkant, ’n mymering met ’n “elk is uniek” of “ek is eensaam”.
Met verloop van tyd het die posklippies se refrein laat deurskemer dat die persoon sonder naam intens na iemand verlang en moes agterbly.
Soms is ’n klippie per dag nodig om afskeid te neem van iemand wat aanbeweeg het. En te wonder of dié wat nie meer in die Suidland is nie, soms ’n klippie in die see gooi om dié wat moes agterbly, te gedenk. En of Ali se familie in Pakistan hom mis waar hulle in Kasjmir moes agterbly om aanvalle tussen Indië en Pakistan te trotseer.
Groete
Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.