Michael Allen en sy seun Gareth van G&M Farming Enterprises het met die gesogte titel as Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar 2024 weggestap. Hulle was ook al meermale wenners in Pioneer se Weeg-en-Wen-kompetisie en in 2010 is Michael aangewys as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar vir Mpumalanga.
Tydens die Graanprodusent van die Jaar-toekenning het Michael in sy toespraak gesê hulle boerdery is hul absolute trots, daarom probeer hulle alles na die beste van hul vermoë doen. Die grondslag van hul sukses, meen hy, is die erns waarmee hulle grondgesondheid bejeën en omdat hulle die gebruik van tegnologie omarm.
Die pa-en-seun-span boer die afgelope 17 jaar saam op die plaas Hartebeesfontein sowat 27 km buite Middelburg in Mpumalanga.
Michael het aan die Settlers-landbouskool gematrikuleer waarna hy ’n diploma in basiese landboumasjineriewerktuigkunde by die Bloemfontein Tegniese Kollege voltooi het. In 1981 begin hy saam met sy pa, Graham, op die plaas Hartebeesfontein boer.
“My oupagrootjie het in die Trichardt-omgewing begin boer,” vertel Michael. “Nadat Sasol my oupa Hilton in 1975 uitgekoop het, het my pa Hartebeesfontein gekoop. Ek het vir 13 jaar saam met hom geboer. Gareth het in 2007 saam met my begin boer en is nou die vyfde geslag Allen wat boer.”
Michael reken dat die geheim van hulle sukses meerledig is. Aan die een kant is hulle gelukkig om toegang te hê tot ’n magdom inligting wat deur die vorige geslagte in die plaasrekords opgeteken is, en aan die ander kant is daar kennis en ervaring wat al vir vier geslagte van die een geslag na die ander oorgedra word.

“Ek het goeie leermeesters in my pa en oupa gehad en ek hoop dat ek al die kennis en ondervinding net so aan Gareth kan oordra.”
Hy beklemtoon dat syfers en data absoluut noodsaaklik is vir besluitneming. “Ons het ware syfers op rekord sedert 1989. Wanneer ons na tendense wil kyk of vergelykings wil maak, kan ons teruggaan en inligting trek van wat 35 jaar gelede gebeur het.”
Wat verder bydra tot hulle sukses is hulle strewe na verbetering. “Ons daag onsself altyd uit om beter te doen. In die bedryf is daar baie mense met meer kennis as ons by wie ons kan gaan kers opsteek. Hulle kennis word vir ons ’n bate.”
Deurslaggewend tot hulle boerdery is die fokus op tegnologie. “Ek was een van die eerste boere wat reeds in die 1990’s ’n stropermonitor gebruik het. Sedertdien probeer ons aan die voorpunt van tegnologie bly, mits dit ons behoeftes aanspreek en voordelig vir ons boerdery is.”


Hy sê al is die koste van tegnologie hoog, bly dit vir hulle die moeite werd om daarin te belê aangesien hulle ongelooflike waarde daaruit put. “Die tegnologie help ons om data te genereer wat ons weer help om tendense, foute, suksesse en geleenthede te identifiseer. Ons kan gou sien en vergelyk of iets wat ons probeer die moeite werd is of nie.”
Tegnologie maak dit ook moontlik om presisieboerdery toe te pas. “Alles wat ons doen, is op presisie gebaseer. Ons grond is volgens ’n 2 ha-ruitpatroon (grid) gekarteer. Ons neem elke jaar grondmonsters volgens ’n 1 ha-ruitpatroon en pas ons kalk- en kunsmistoedienings variërend daarby aan. Plantestand word ook variërend aangepas na gelang van die grondpotensiaal.”
Hy noem dat hulle outomatiese GPS-beheer op al hul toerusting gebruik saam met die nuutste opbrengs- en moniteringstoerusting asook presisiespuite.
Die inligting wat hulle genereer help hulle om in pas te bly met die snel veranderinge en uitdagings in die bedryf. “Waar ’n mens in die verlede tien- en vyfjaarplanne gemaak het, het dinge so verander dat ons deesdae soms net twee tot drie jaar vooruit beplan. Jy kan nie anders as om meer gereeld jou planne te evalueer en te kyk waar jy moet aanpas of van rigting moet verander nie.”
Hulle beskouing van grondgesondheid het ook oor die jare verander en nuwe variëteite op die mark dwing hulle om verbouingspraktyke aan te pas. “Nuwe genetika stel ons in staat om ons rywydtes en plantestand aan te pas. Ons het ook ons siening en praktyke rakende plaagbeheer hersien. Omdat die spuite soveel groter en vinniger is, moes ons kyk na die hoeveelheid water wat gebruik word.”
Hoewel die aanpassings en veranderings met ’n prysetiket gepaard gaan, is dit ook reg om aan te pas en praktyke te verbeter, meen Michael. Op die ou einde gaan dit immers oor volhoubaarheid.
Die Allens plant 1 800 ha somergewasse, waarvan tweederdes witmielies en ’n derde sojabone is. Hulle het ook 460 vleisbeeste, hoofsaaklik om die weiding op die marginale grond te benut.
“Sojabone vorm ’n belangrike deel van die boerdery omdat dit stikstof in die grond vaslê wat die mielies se opbrengs ook verbeter. Deur mielies en sojabone in ’n wisselboustelsel te plant, kan ons dieselfde werktuie gebruik en hulle beter benut. Dit beteken dat ons meer grond met dieselfde masjinerie kan behartig,” sê Michael.

Grondgesondheid
Grondgesondheid is een van die kritieke pilare waarop die boerdery rus en daarom bestee hulle baie tyd en aandag daaraan om die grond op te bou.
“Hoë opbrengste is ons mikpunt, daarom probeer ons ons lande so homogeen as moontlik kry voor planttyd. Ons fokus daarop om min opbrengsvariasie aan die einde van die seisoen te meet. Kolle in die land wat swakker opbrengs lewer, bring die gemiddelde opbrengs af wat beteken dat die wins ook minder is.”
Volgens hom kan hulle ’n verbetering in die grondsamestelling en -digtheid sien sedert hulle meer intensief op hul grondstatus fokus. “Ons meet deesdae ’n gemiddeld van 1% humus in die grond.”
Die plaas bestaan hoofsaaklik uit rooi Hutton-grond wat op plekke oorgaan na Avalon-tipe grond met ’n gemiddelde klei-inhoud van 17%. Hierdie diep gronde van 1,5 m is uiters geskik vir mielie- en sojaboonverbouing.
Gereelde grondklassifikasie en -ontledings is handig wanneer hulle die seisoen se grondregstellings beplan. Die grond se chemiese status word bestuur deur bemesting en kalk variërend toe te dien.
“Ons goeie opbrengste is te danke aan die regte grondbewerking wat ons doen in oorleg met die deeglike kennis van die chemiese status van ons grond. Mikro-elemente word in ag geneem wanneer ons ons beplanning doen. Dit verseker dat ons plante die beste moontlike kans het om te floreer,” sê Michael.
“Ons wil graag ’n pH van meer as 6 en ’n fosfaatinhoud van minstens 30 dele per miljoen hê. Kalium word in die grond reggestel met bemesting sodat ons sowat 120 dele per miljoen realiseer,” verduidelik hy.
“Lande waarop ons mielies gaan plant, word vir twee seisoene deeglik bemes volgens die grondontledings wat gedoen is. Ons bemes nie die lande waarop die sojabone geplant gaan word nie.”
Hulle pas wisselbou toe deur al die lande in derdes op te deel. Tweederdes van die lande word met mielies geplant en ’n derde met sojabone. Die aangeplante weidings vorm nie deel van die wisselbou nie en word op meer marginale dele geplant sodat dit gebaal kan word vir veevoer in die winter.
Korrelkunsmis (4:1:2) word voor planttyd uitgestrooi en daarna word ’n vloeibare kunsmis (11:7:4) met die planter toegedien. Om te verseker dat die mikro-elemente in die kunsmis reg geplaas word, gebruik die boerdery Hidrospoor, ’n produk van Omnia, terwyl dolomitiese kalk net ná strooptyd variërend uitgestrooi word om die pH van die grond te neutraliseer.
Na stroop probeer hulle om ’n derde van die plantmateriaal weer terug te werk in die lande terwyl die ander op die oppervlak gelaat word om die grond te beskerm en vog te bewaar. “Ná die mieliestrooptyd gee ons kalk volgens die land se pH, waarna ons die mieliereste met ’n Case IH insny.”
Die beeste word na stroop vir ongeveer drie weke op die oesreste gesit om die stronke stukkend te trap en die pitte wat tydens stroop geval het, op te tel. “Ons pas ’n tipe drukbeweiding toe met die gebruik van skuifbare elektriese heinings en so verseker ons dat die beeste nie die grond vastrap nie. As die lande te nat is, jaag ons nie die beeste in die oesreste nie.”
Grondbewerkings
Vir die swaarder Hoëveldse grond verkies Michael om konvensionele bewerkings te doen. “Indien die vog in die grond dit daarna nog toelaat, sal ons ’n skeurbewerking met ’n 13-tand-Case IH 875-skottel-en-skeurploegwerktuig tot op 400 mm diep toepas. Daarna gebruik ons die Case IH Tigermate-saadbedvoorbereider ná die reën, en plant met ’n 24-ry-planter agterna.”
Michael verduidelik dat die bewerking om sojabone te plant, effens anders lyk omdat die grond in die voorafgaande twee jare wanneer hulle mielies plant, goed losgemaak word. “Ons sal regstreeks ná stroop weer kalk variërend op die lande toedien. Daarna word die reste ingesny. Ná die reën word ’n Case IH Tigermate-saadbedvoorbereider gebruik, en onmiddellik daarna word die sojabone geplant. Na ons die sojabone gestroop het sal ons weer kalk toedien.”

Ander praktyke
Die plaas kry gewoonlik 650 tot 700 mm reën per jaar. Vogbestuur is dus belangrik omdat hulle geen aanvullende besproeiing doen nie.
“Jy kan nie sojabone plant sonder genoegsame vog nie. Sojabone vereis drie maal meer vog as mielies om te ontkiem. Daarom is plantdatums deurslaggewend by sojabone. Ons probeer om tussen 12 en 25 November te plant en ons wag eerder ’n bietjie langer om te verseker dat die toestande heeltemal reg is voor ons begin sojabone plant.”
Die afgelope paar jaar het die gemiddelde opbrengs gewissel tussen 11 en 13 t/ha vir mielies en draai hulle duskant 2,5 t/ha vir sojabone. Hoewel hulle al 3,7 t/ha op sojabone gestroop het, is hul mikpunt ’n gemiddeld van 3 t/ha.
Mielies word in 760 mm-rye geplant teen ’n plantestand wat wissel tussen 52 000 en 78 000 plante/ha. Die sojabone word geplant teen ’n plantdigtheid van 270 000 tot 300 000 plante/ha. Hoewel dit ’n hoë plantestand vir droëlandtoestande is, vorm dit deel van hulle strategie om hoër opbrengste te behaal.
Michael gebruik ’n Case IH 8240 Axial Flow-stroper met ’n 12-ry-Geringhoff-plukkerkop vir mielies en ’n Mcdon Draper Flex-tafel met ’n Crary-windstelsel om sy sojabone te stroop. “Die windstelsel maak ’n verskil in hoeveel ons oes. Dit help veral by die kultivars wat laer groei. Daar stroop ons 150 tot 300 kg/ha meer as in die verlede.”
Dit is vir hom as produsent belangrik om heeltyd bewus te wees van nuwe produkte en landbouveranderinge om sy boerdery te bevorder. “Ons plant kultivar-, stand-, kunsmis-, siekte- en chemiese proewe. Dit help ons om besluite te neem ten opsigte van ons kultivarkeuse vir die volgende twee tot drie seisoene. Hoewel die proewe koste meebring, glo ons dat dit op die lang duur baie voordele vir die boerdery inhou.”
Volgens Michael is hulle vir jare al intensief betrokke by ’n studiegroep en hy meen die proewe wat deur die groep geplant word, is van onskatbare waarde.
Hulle kies kultivars deur te kyk na opbrengspotensiaal, staanvermoë en siekteverdraagsaamheid.
Wat hul masjinerie betref, meen Michael dit is noodsaaklik om toe te sien dat alle toerusting in ’n goeie werkende toestand is. Stropers word gemiddeld elke vyf tot ses jaar vervang, deels omdat die tegnologie voortdurend vernuwe en hulle wil seker maak dat hulle daardie voordeel benut. Trekkers word gemiddeld na tien jaar vervang.
Uitdagings
Soos elke bedryf het landbou sy unieke uitdagings. Volgens Michael is van die aspekte wat die meeste kopkrap veroorsaak hoë insetkoste, bemarking, sekuriteit en veldbrande.
“Dit is vandag duur om te boer. Hoe hoër jou insetkoste is, hoe hoër is jou uiteindelike risiko’s, want ons is nie verseker van ’n goeie oes aan die einde van die seisoen nie. Omdat baie van die grondstowwe en masjinerie ingevoer word, is die pryse hoog. Omdat ons ook daaraan glo om op ’n redelik gereelde basis ons trekkers en toerusting te vervang, is die kostestygings nogal opmerklik. Tegnologie is boonop duur. Die belangrikste is om die voordele wat ’n mens verkry teen die koste op te weeg en dan besluite te neem ten opsigte van uitgawes.
“Dit bly ’n uitdaging om voortdurend te verseker dat alles wat jy doen tot jou volhoubaarheid gaan bydra. Dit wat jy vandag doen moet op die lang duur voordelig wees en bydra tot jou nageslag se welvaart.”
Verhoudinge
Michael glo in persoonlike verhoudings met verteenwoordigers van landboumaatskappye. “’n Mens doen in die meeste gevalle besigheid met ’n ander mens.”
Hy beklemtoon dat vennootskappe met sleutelrolspelers in die graanwaardeketting uiters waardevol is.
“Ek is ’n groot voorstander van georganiseerde landbou en glo samewerking begin in jou eie kantoor, daarna brei dit uit na jou buurman en jou landbouvereniging, en uiteindelik na organisasies soos Graan SA. Ons kan nie sonder georganiseerde landbou boer nie en dit is ’n groot voorreg om deel daarvan te wees.”
Michael deel graag die kennis wat hy deur die jare opgedoen het met medeprodusente. “Deur die jare het ons baie ondervinding opgedoen met presisieboerdery. ’n Mens hoef nie met die volle toepassing te begin nie, maar my raad sou wees om met ’n outomatiese stuur en goeie opbrengsmonitor te begin. So kan die grond reg bestuur word. ’n Mens het die grond – dit is van kritieke belang dat ’n mens dit reg benut.”
Toekennings
Hulle boer nie met die oog op toekennings nie, maar volgens Michael is dit soms goed om erkenning te kry omdat dit bevestig dat jy op die regte pad is en dat dit wat jy doen, waarde inhou. Vir hom is die Weeg-en-Wen-kompetisie ’n maatstaf om sy boerdery se prestasie te meet. “Prestasie op lang termyn gee jou die geleentheid om jouself voortdurend uit te daag om volgende keer nog beter te vaar.
“Die Syngenta/Graan SA Graanprodusent van die Jaar-toekenning was vir ons ’n baie groot eer omdat dit een van die hoogste toekennings in die bedryf is. Ek boer al 44 jaar en hierdie toekenning is sekerlik die toppunt van my loopbaan.”