GRAANPRODUKSIE BO POLITIEK: die saad van stabiliteit

Gepubliseer: 4 Junie 2025

296
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

OP PAD HUIS TOE NÁ NAMPO 2025 HET EK GEDINK OOR WAT HIERDIE JAAR SE GELEENTHEID SO BESONDERS GEMAAK HET. DIE ANTWOORD LÊ NIE NET IN DIE GROOT AANTAL BESOEKERS NIE, MAAR IN DIE ONGEKENDE BELANGSTELLING VAN VERSKEIE POLITIEKE LEIERS, WAARONDER DIE PRESIDENT EN DIE ADJUNKPRESIDENT, DIE MINISTERS VAN LANDBOU ASOOK OPENBARE WERKE EN INFRASTRUKTUUR EN VERSKEIE PARLEMENTSLEDE.

Die boodskap was duidelik: Landbou maak weer opslae. Nie net op nasionale vlak nie, maar tot by die Withuis in Amerika waar NAMPO op die naam genoem is en onwillekeurig by groot politieke skuiwe betrek is.

Tog is dit belangrik om perspektief te behou. NAMPO is nie ’n politieke verhoog nie, maar eerder ’n strategiese spilpunt van vooruitgang in die landbousektor. Dit is ’n werkswinkel vir die graanbedryf – ’n dinamiese ruimte waar produsente, navorsers, besighede, landbouleiers, beleidsmakers en tegnologieverskaffers in gesprek kan tree oor die toekoms van voedselproduksie. Hier gaan dit oor meer as net landbou-uitstallings. NAMPO verteenwoordig ’n samekoms van kennis, innovasie en praktiese oplossings wat direk bydra tot die mededingendheid en volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse landbousektor.

NAMPO staan vir toegang tot die nuutste tegnologie – van presisieboerdery en digitale landbou-instrumente tot nuwe saadtegnologie en meganisasie-oplos­sings. Dit is ’n platform waar die stemme van produsente gehoor word, waar hulle kan leer oor markneigings, klimaatsverandering, beleidsontwikkelings en nuwe geleenthede in plaaslike en internasionale markte. Die samewerking en netwerke wat hier gebou word, vorm die ruggraat van ’n gesonde landbousektor wat kan aanpas en floreer in ’n steeds verande­rende omgewing.

Dit is dus nie net ’n plek van skou en handel nie, maar ’n spilpunt van ontwikkeling, gesprekvoering en strategiese beplanning. Dit bied die geleentheid om jongmense en nuwe entrepreneurs te inspireer en kennis oor volhoubare produksiepraktyke te deel. Dit alles dra by tot die veerkragtigheid van die graanwaardeketting. In hierdie konteks word dit duidelik: Geen politieke oomblik kan die diep en volhoubare impak van NAMPO vervang nie.

Daar kan egter nie van die politieke werklikheid in Suid-Afrika ontsnap word nie. Graanprodusente bevind hulle binne ’n landbou-onvriendelike omgewing met weinig regeringsondersteuning. Dit bly dus van kardinale belang dat Graan SA die kommunikasiekanale met die regering oop en aktief hou, aangesien dit ’n direkte invloed het op beleidsbesluite wat die graanbedryf raak.

Deur ’n oop dialoog te handhaaf, kan Graan SA die belange van produsente op nasionale vlak verteenwoordig, beleids­rigtings beïnvloed en proaktief reageer op uitdagings soos wisselvallige marktoestande, klimaatsverandering en regulatoriese hindernisse. Gereelde en konstruktiewe kommunikasie bevorder samewerking, wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van ’n volhoubare landboubeleid en voedsel­sekerheid in Suid-Afrika. Sonder hierdie benadering sou daar byvoorbeeld nie suksesse behaal kon word ten opsigte van die verbetering van Wet 36 van 1947 met die registrasie van nuwe chemiese middels nie, asook die dieselrabat en ondersteuning met invoertariewe nie.

Dit weerlê egter nie die feit dat daarteen gewaak moet word dat NAMPO en die saak van die graanprodusent nie instrumenteel gebruik mag word vir politieke gewin nie. NAMPO se geloofwaardigheid berus op sy konsekwente diens aan die landbougemeenskap. Daar moenie toegelaat word dat opportunistiese uitsprake van politici en sensasionele nuusopskrifte wat ge­moedere aanblaas, ’n skadu gooi oor die gees van eensgesindheid binne die landbousektor en die integriteit van ons orga­nisasie nie.

NAMPO 2025 het daadwerklik daarop gewys dat daar hoop en momentum in die bedryf is. Dit was ’n viering van vooruitgang, maar ook ’n herinnering aan die fokus wat nodig is om volhoubare groei te verseker. Die kernrede vir Graan SA se bestaan is die welvaart van ons graanprodusente en dít bly die fokus van NAMPO.

Te midde van die politieke geraas en mediastorms wat soms die werklikhede
van die plaas verdoesel, staan die Suid-Afrikaanse graanprodusent steeds sterk – met oë gevestig op die lande en hande besig met oes en aanplanting. Terwyl die laaste mielies, sonneblom en sojabone nou van die lande afgehaal word, word winter­gewasse in ander streke geplant en is beplanning vir die volgende seisoen reeds aan die gang. Hierdie sikliese ritme van plant en oes is die hartklop van ons land se voedsel­produksie. In dié konteks is dit noodsaaklik dat produsente hul energie fokus op dit wat werklik saak maak – die volhoubare en winsgewende produksie van graan.

Graan SA bly onwrikbaar in sy verbintenis om die belange van die graanprodusent te dien – op elke moontlike vlak, ook in die politieke arena. Terwyl produsente ploeg en plant, sal Graan SA die gesprekke voer, die beleid monitor en die pad oophou sodat produsente kan voortgaan om te doen wat hulle die beste doen – om Suid-Afrika te voed.