In ’n wêreld vol onrus, onsekerheid en uitdagings, kan graan- en oliesaadprodusente verseker wees dat hulle ’n stem in hul bedryf het: ’n stem wat nie geïgnoreer of stilgemaak kan word nie, ’n stem wat die passie vir boerdery vanuit die hartjie van die Jakarandastad oor die hele land uitleef. Graan SA het by sy jaarlikse Kongres sy bestaansrede herbevestig en versterk: om te verseker dat elke graanprodusent volhoubaar en winsgewend in Suid-Afrika kan vooruitboer.
Om dié doel te bereik is dit egter nodig om op grondvlak – of liewer plaasvlak – te verstaan wat die klip in die boer se skoen is. Om hierdie rede onderneem Graan SA se leierskap en personeel om een keer ’n jaar al die graanproduserende streke in persoon te besoek. Nie net word die streeksvergaderings gehou om blad te skud en gesig te wys nie, maar dit is ook ’n geleentheid vir elke produsent om sy unieke situasie aan die leiers, ekonome, navorsers, bemarkers en kundiges by Graan SA te stel en leiding te gee oor die uitdagings in die bedryf. Produsente kry dus kans om vrae te vra oor wat agter die skerms aangaan, en hul menings te lug oor die stand van sake in hul bedryf.

Tydens die jaar se 44 streeksvergaderings is 1 253 produsente in persoon “besoek”. Uiters belangrike en uitdagende kwessies soos grondonteiening en -hervorming, PCO-sertifisering (pest control operator), landbouchemikalieë wat verban is, en uitdagings met die koring-invoertariewe is geïdentifiseer tydens die vergaderings. Talle produsente sukkel ook om in die wisselvallige markte kop bo water te hou en op hoogte te bly van wat aangaan. Graan SA kon hier terugvoer gee oor die werking van die alternatiewe differensiaal wat tans getoets word op sojaboonkontrakte. Betreffende sojabone is die vraag ook gevra of die nuwe 100 ton-kontrak werklik nodig is en watter groeipyne in die mark verwag kan word.
Uit die besoeke aan produsente is die belangrikheid van verhoudings met die regering, bedryfsmedewerkers, agente en rolspelers beklemtoon. Dié verhoudings stel Graan SA in staat om namens die produsent te praat by onder meer bedryfsforums; die oesskattingskakelkomitee, die JSE, regeringsdepartemente, insetverskaffers, meule en perse asook verskeie ander rolspelers wie se besluite ’n impak op die produsent se bedrywighede het. Deur middel van Graan SA se hegte bande met ander landbou-organisasies en die regering kan belangrike sake maklik en vinnig aan die betrokke partye oorgedra word.

Die jaarlikse streeksvergaderings bied egter nie net geleentheid vir die produsent om probleme en uitdagings uit te lig nie, maar ook vir Graan SA om terugvoer te gee oor verskeie verwikkelinge die afgelope jaar in die bedryf soos die verspreiding van graansiektes, hommeltuig-besproeiingsregulasies, die positiewe effekte van die SACTA-heffings asook die nuutste pogings om spoorweë en hawens op te knap. Boonop kon goeie nuus gedeel word rakende Nexus Components en Corporate Guarantee se ledevoordele aan Graan SA-lede wat gemik is daarop om die druk op die produsent se sak te verlig.

Tydens die landswye besoeke het Graan SA hoegenaamd nie van opkomende boere in die Phahama Grain Phakama-program (PGP) vergeet nie. Hulle het hul eie unieke stel uitdagings. Vrae vanuit die streke rakende korttermyn- en oesversekering sowel as die regering se rol in PGP is beantwoord. Uit die PGP-besoeke het die behoefte na vore gekom om te kyk na tweedehandse toerusting wat meer bekostigbaar is. Daar is ook gevra hoe die inligting wat deur ekonome oorgedra word op plaasvlak benut kan word.
Na afloop van die streeksvergaderings het Graan SA ’n suksesvolle Kongres gehou waar verdere vrae beantwoord kon word en mandate gegee is aan die leierskap en personeel van die organisasie. Hier het produsente ook geleentheid gehad om regstreeks met die Minister van Landbou te gesels en om hul onderskeie uitdagings aan hom voor te lê.
Met produsente se liefde vir boer en ’n passie vir landbou gaan Graan SA voort om hul saak te bevorder en daarvoor te veg, beide agter die skerms en op plaasvlak, sodat graanprodusente ’n blink en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika kan hê.
Streeksvergaderings skep die geleentheid vir beide Graan SA en graanprodusente wat lede is van die organisasie om ingelig te wees oor die belangrikste en dringendste knelpunte in die bedryf. So maak Graan SA seker dat daar namens lede opgetree kan word.
