Bestuur waterafloop en -opgaring doeltreffend

Gepubliseer: 4 Junie 2025

188
Johannes van As, onafhanklike konsultant: Natuurlike Hulpbron-beplanning en Ontwerp, NRPD Consulting

Die swaar reën en vloede van die afgelope seisoen noop produsente om betyds die nodige voorsorgmaatreëls te tref. Uiters hoë reënvalintensiteite is gedurende die afgelope seisoen ervaar met die moontlikheid van intense droogtes wat weens klimaatsverandering kan ontstaan.

Bewaringsboerderypraktyke asook deeglike beplanning en instandhouding van stormwaterafloopstrukture, dreinering en opgaarfasiliteite is van kardinale belang om ons natuurlike hulpbronne te help bewaar en optimaal te benut.

Damuitloop
Graswaterbaan
Outomatiese stuurstelsel
Lidar-opmeting

Die doel van ’n oppervlakwaterafloopbeheerbeplanning het eerstens ten doel om waterafloop uit landerye sover moontlik te beperk – iets wat deur­slaggewend is in droë jare. Hier speel bewerking en plantrigting ’n belangrike rol. Tweedens, indien afloop onvermydelik is – soos tipies tydens hoë-intensiteit­reënbuie in die afgelope seisoen gebeur het – moet dit veilig sonder erosie na die naaste natuurlike loop gekanaliseer word. Hier speel kontoerwalle en -vore asook waterafleibane en retensie- of vloedbeheerdamme ’n groot rol.

Besparing van tyd met die beskikbaarheid van moderne toerusting en tegnologie maak dit vandag moontlik om plantrigting, kontoere, waterbane en dreineringskanale optimaal te beplan, te ontwerp en uit te pen. So kan reënwater ten beste in die grond gestoor word, dreineer word indien nodig, of oortollige afloopwater kan veilig en sonder erosie gekanaliseer word na ’n dam of na die naaste natuurlike loop.

So ’n beplanning begin by die beskikbaarheid van akkurate RTK-elevasie­hoogtedata wat gestoor is tydens ’n stroop-, planter­of spuitaksie, of andersins deur middel van ’n RTK- of LIDAR- topografiese opmeting. Die presiese koördinate en akkurate elevasiehoogtedata word dan gebruik vir model­lering, beplanning en ontwerpdoeleindes. Die voorgestelde plantrigtings en kontoere word as gidslyne verwerk en dan weer gelaai om dit op die land met outomatiesestuurtegnologie uit te merk.

Dreineringsprobleme is dikwels die gevolg van oppervlakstormwaterafloop na laagtepunte of duike in landerye. Hier speel plantrigting weer eens ’n belangrike rol. Oppervlakwaterafloopbeheerbeplanning behoort ’n prioriteit te wees en moet eer­ste aangepak word. Strategies geplaasde V-tipe oop dreineringsvore is ’n effektiewe manier om areas vinnig te dreineer of droog te lê om oesskade te vermy en opvolgbewerkings moontlik te maak.

Opgaardam
RTK-stelsel
V-vormige dreineringskanaal
’n Voorbeeld van hoe plantrigtings toegepas kan word.

As gevolg van die realiteit van meer gereelde en groter vloede is damveiligheid onder die vergrootglas aangesien die faling van ’n dam lewensverlies en groot skade aan infrastruktuur stroomaf kan aanrig. Bestaande damme moet deur ’n goedgekeurde, gekwalifiseerde persoon ondersoek en geëvalueer word om te bepaal of die dam veilig is al dan nie. Indien nodig moet maatreëls geïmplementeer word om die dam veilig te maak en te onderhou. So ’n inspeksie en evaluering van die dam behels onder meer ’n damfalings­analise en vloedlynbepaling, die kategorisering van die damveiligheid, ’n ondersoek van die damwal en fondasiemateriaal, die geometriese uitleg en huidige toestand van die wal en uitloop asook die vermoë van die uitloop om ’n een in 50 jaar- en 100 jaar-vloed veilig te kan akkommodeer.

Om saam te vat: Met die beskikbare tegnologie en die nodige kundigheid is dit noodsaaklik dat produsente eerder vroeër as later aandag gee aan die beplanning, doeltreffende bestuur en bewaring van ons belangrikste hulpbronne, naamlik water en grond, om in die toekoms volhoubaar verder te kan boer.

Vir navrae hieroor, kontak Johannes van As van NRPD Consulting by 078 8938 962.

’n Voorbeeld van holvoordreinering.
Oppervlakwaterafloop
’n Waterbaan-, kontoer- en plantrigtinguitleg