Kom bekyk dié nuwighede by NAMPO

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 9 Mei 2025

287

“Ek was daar, het dit gedoen, die T-hemp gekry.” Dié gesegde beteken dat jy nie weer hoef te gaan nie. Jy het dit een maal beleef en dit is genoeg. Dít is egter geensins op NAMPO Oesdag van toepassing nie.

Elke NAMPO is enig in sy soort en Graan SA se NAMPO-span werk hard om jaar na jaar van die geleentheid ’n unieke ervaring te maak. Dus, al was jy al daar en al hét jy die
T-hemp, kan jy beslis weer gaan!

Sedert NAMPO verlede jaar met ’n rekordgetal besoekers afgesluit het, is daar dadelik ingespring om die terrein voor te berei vir NAMPO 2025. Paaie is geplavei, nuwe geboue is opgerig en nuwe standplase is uitgemerk.

Nuwe projekte
Daar is hard gewerk en beplan om die volgende nuwe projekte die lig te laat sien:

  • Met sy ryk geskiedenis het Graan SA en NAMPO baie stories om te vertel. Die aanbou van die museum langs die BBP-lokaal bied Oesdaggangers die geleentheid om argiewe te besigtig en ’n goeie oorsig te kry oor Graan SA en die NAMPO Oesdag se herkoms en geskiedenis. Die museum is deur Santam opgerig en behoort vele voete te lok.
  • Met ’n waglys van uitstallers wat ook op NAMPO Park gesien wil word, is die uitbreiding van uitstalruimtes elke jaar ’n prioriteit. Daar is reeds nuwe standplase oorkant die Noordhek uitgelê om nuwe uitstallers te akkommodeer. Subaru se 4×4-baan sal ook baie nuuskieriges hierheen lok.
  • Kunsliefhebbers kan uitsien na ’n nuwe KamersMakers-mark met ongeveer 50 uitstallers van kuns- en kunsvlytprodukte wat in ’n tent van 200 m2 oorkant die Hopefield-saal (aan Shell se kant) te vinde sal wees. Hier kan jy alles van handgemaakte tot luukse leefstylprodukte kry, eg Suid-Afrikaans!
  • Nuwe standplase is langs die parkeerarea by die vliegveld (Hek 3) opgerig om die groot vraag na lugvaartverwante produkte te akkommodeer. Boonop het vlieëniers ook nou hier hulle eie verfrissingsarea.
  • In en op bestaande sale en standplase word plek gemaak vir ’n groot hoeveelheid landbouverwante, buitelewe- en motoruitstallers wat vir die eerste keer by NAMPO uitstal. As jy ’n Porsche-aanhanger is, behoort jy beslis ’n draai te gaan maak. Blaai gerus deur die hekprogram om uit te vind waar die groot verskeidenheid uitstallers gevind kan word.
  • Vir diegene wat NAMPO besoek om beesrasse te besigtig, is daar goeie nuus. Drie nuwe beestelers gaan by die vee-afdeling te sien wees. Die Wagyu Beestelersgenootskap, SA Braford Genootskap en die Chianina Genootskap van Suid-Afrika het reeds hul uitstalruimtes verseker.
  • Elektroniese borde is opgerig om inligting rakende uitstallings en promosies onder besoekers se aandag te bring asook die program van die dag.
  • ’n Afdak is teen die Santam-saal opgerig waar Bolt & Enginee­ring sweisdemonstrasies gaan doen.
  • Om die groot tekort aan akkommodasie tydens NAMPO hok te slaan, is ’n nuwe karavaanpark oorkant Hek 2 opgerig met 100 staanplekke en twee ablusieblokke.
  • Na oorweldigende belangstelling is die Plaaskombuis uitgebrei. Besoekers sal meer sitplek en ’n wyer verskeidenheid van kos­keuses hê, onder meer ontbyt.
  • Die NAMPO-app het ook nuwe funksies bygekry: Jy kan nou byna 900 uitstallers opsoek en jou roete deur die park maklik beplan.

Selfs sonder hierdie opwindende nuwe projekte is al die ou bekende NAMPO-trekpleisters genoeg rede om weer die Oesdag by te woon. Moet dit nie misloop nie.