Die 2025 Alpha Insure-vroueprogram beloof om ’n mengelmoes van interessanthede te wees. Met ’n nuwe hoofborg, ’n dinamiese programleier in Venessa Schoeman (redakteur van Voelgoed Media) en ’n “lekker” spyskaart, is die wit tent van GL Events langs die Shell-gebou die plek vir die skoner geslag om soggens te kuier. Hier gaan jy geïnspireer word, lekker lag en na mooi musiek en unieke stories luister. Daar gaan selfs ’n paar nuwe disse vir jou kombuisspyskaart wees.
Hier is die kunstenaars/gaste wat saam kom gesels en kuier:
- Jak de Priester se gewilde kykNET-kuierprogram, Koppietee-fontein, het hom diep in Suid-Afrikaners se harte laat kruip. Tydens die vroueprogram kuier hy op die verhoog as onderhoudvoerder saam met die Karoo-kruiekenner, Antoinette Pienaar. Jak sal ook liedjies deel oor die lewe, die liefde en die Karoo, terwyl Antoinette haar unieke uitkyk op die lewe met voordrag en vertelling gaan deel.
- Louis Loock, wat ’n lid was van die sanggroep Romanz, en een van die Broers, Cobus Snyman, laat klassieke en popmusiek ontmoet. Met bekende en beminde klassieke sowel as kommersiële liedere, gaan hierdie twee kunstenaars die gehoor op ’n musikale reis neem waar Louis bekende popliedjies met ’n klassieke benadering aanpak en Cobus op sy beurt die klassieke werke met ’n ligtemusiek-benadering aanpak.
- Lindie Strydom is bekend vir haar rol in die sepie, Egoli, maar deesdae word sy veral as motiveringspreker na funksies genooi. Haar passie om stories te vertel en ’n positiewe verskil in die lewe van ander te maak is aansteeklik.
- TV-aanbieder en aktrise Mandi du Plooy-Baard is veral bekend vir haar verskyning in verskeie sepies: Egoli, Getroud met Rugby en Diepe Waters. Hoewel Mandi ’n besige loopbaan het, is haar belangrikste fokus haar gesin, waar sy vrou is vir Schalk en ma van Sumé en Jeandré.
- Lynette Beer is ’n bekende motiveringspreker, skrywer en lewensafrigter. Haar vierkleur-temperamentmodel help mense om hulself en ander beter te verstaan en word gereeld gebruik in spanwerksessies om kommunikasie en persoonlike groei te verbeter.
- Liesel Krause-Wiid is ’n predikant, motiveringspreker en bemarkingsbestuurder van die Willa Krause-velsorggroep. Sy is passievol om mense nader aan mekaar en aan God te bring.
- Sjef Tiaan Langenegger het bekend geraak as die eerste Kokkedoor-wenner. Ná sy deelname aan dié realiteitsprogram het hy homself in die bedryf gevestig as TV-aanbieder. Tiaan gaan van sy resepte kom deel en ook hoe om die voorbereiding van geregte makliker te maak.
- Gesoute omroeper, skrywer, tuiskok, akteur en sanger Willie Strauss en sy begeleier, Henry-John Williams, kom ’n kabaretvertoning aanbied. Tydens Tong in die Quiche en Sinkhuisresepte – Die Kombuis berei Willie geurige geregte terwyl hy stories deel en musiek maak met ’n tikkie humor daarby.
Dankie aan die borge
Sonder borge sal die vroueprogram beslis nie kan plaasvind nie. ’n Besondere woord van dank aan die volgende instansies: Alpha Insure (die hoofborg van die vroueprogram), Afgri, Swartland Winery, Scania, Zoerdoef, Graan SA, M4 Events wat die programreëlings hanteer, Voelgoed Media en GL Events wat die tent vir die duur van die Oesdag beskikbaar stel.
* Met die ter perse gaan was die finale program nog nie gereed nie. Hou gerus die sosialemediaplatforms dop om te sien watter van hierdie gaste wanneer gaan optree.








