NAMPO gaan voort ten spyte van swaar reën

Rentia Mynhardt, SA Graan/Grain-redakteur
Gepubliseer: 8 Mei 2025

232

Graan SA en die NAMPO-bestuurspan het alle uitstallers, besoekers en vennote gerusgestel dat die 2025 NAMPO Oesdag steeds soos beplan van 13 tot 16 Mei op NAMPO Park sal voortgaan. Dit volg ná abnormaal baie reën in die Bothaville-omgewing aangeteken is en van die paaie in die omgewing gesluit was.

Die NAMPO-bestuur het vinnig opgetree om die impak van die reënval te hanteer: Spanne is ontplooi om oortollige water te dreineer, oppervlaktoestande te verbeter en logistieke riglyne waar nodig te implementeer om die park netjies en toeganklik te hou. Daar is hard gewerk om die terrein veilig en toeganklik te maak vir die duisende uitstallers en besoekers wat weer by vanjaar se geleent­heid verwag word.

Langtermynbeleggings in infrastruktuur by NAMPO Park – insluitend opgegradeerde paaie, dreineringstelsels en parkeerareas – is van onskatbare waarde in die handhawing van ’n funksionele en besoekersvriendelike terrein, selfs te midde van uitdagende weers­toestande.

Die terugkeer van warmer en droër weerstoestande het welkome verligting vir organiseerders en uitstallers gebring. Die program beloof om die volle NAMPO-ervaring te bied: van grootskaalse toerusting- en internasionale tegnologieuitstallings tot kundige gesprekke en waardevolle netwerkgeleenthede. Die geleentheid bly ’n hoeksteenbyeenkoms vir die landbougemeenskap.

NAMPO 2025 sal opnuut ’n viering van innovasie en veerkragtigheid in Suid-Afrikaanse landbou wees. Besoekers word aangemoedig om op hoogte te bly via Graan SA se amptelike platforms (sosiale media of www.nampo.co.za) vir die nuutste aankondigings rakende padtoestande en toegangsriglyne. Om lang toue by die hekke te vermy, kan kaartjies aanlyn gekoop word by www.opentickets.co.za.

Neem asseblief kennis dat die R30 tussen Bothaville en Orkney weer oop is nadat dit vir ’n ruk lank weens die swaar reënval gesluit was. NAMPO-bestuur bly in noue kontak met SANRAL-ingenieurs en provinsiale verkeersowerhede.

Binne NAMPO Park self droog die terrein goed uit, en die bestuur het bykomende dreineringsmaatreëls geïmplementeer om die pro­ses te bespoedig en die terrein vir die Oesdag voor te berei.

Die veiligheid van uitstallers en besoekers bly die hoogste prio­riteit, en daar word uitgesien na nog ’n suksesvolle NAMPO Oesdag.

Ten spyte van swaar reën gaan vanjaar se NAMPO Oesdag voort en word daar soos altyd uitgesien na ’n landbouskou sonder gelyke.