ʼn Kolletjie hoop

Gepubliseer: 8 Mei 2025

159

Beste Grootneef

Die herfs het haar met roesbruin blare in die laning bome kom tuismaak, met ’n oggendsonnetjie wat al hoe later kop uitgesteek het. En toe plotseling – ’n vars suidewindjie wat verklap dat die eerste sneeu op die Maluti’s geval het. Die nasomer het herfs geraak, met die bome se geel en die veld wat met winterskakerings begin spog het.

En toe kom die groot reën van April ’25. Reën wat ons nie dié tyd van die jaar ken nie. Die sluise van die hemel het behoor­lik oopgemaak met vloede wat van noord tot suid aangemeld is. Met ’n oes vol belofte op die land, maar dis te nat om in die lande te kom.

Die gesig van water wat in sekere distrikte mieliekophoogte deur lande gevloei het, was moeilik om te aanskou. Hoe lank menseheugenis is, weet nugter – maar baie van die ouer garde het vertel dat hulle nog nooit so ’n nat April beleef het nie. Een oom wat al menige seisoen sien kom en gaan het, vertel egter van “water in die bank” vir die volgende plantseisoen.

Dis so maklik om wanhoop te ervaar. Dis veel moeiliker om hoop te laat leef. Een positiewe opmerking, soos neef Derek Mathews na ’n dorre seisoen in die Noordwes “dat ons weer sal plant”, kan egter ’n groot impak maak. Want skielik is die fokus nie net op die onbegaanbaarheid van mielielande nie, maar ook op die belofte van ’n nuwe begin in ’n volgende seisoen.

En so ontstaan ’n kolletjie hoop. Met moed wat ’n buurman sý buurman inpraat wanneer dit moeilik gaan.

Hoop is nie te koop nie. Dis ook nie te verdien nie. Dis om uit te deel. Want dit loop saam met geloof. En soms is dit jou plig om ’n kolletjie hoop te skep wanneer iemand naby jou op moedverloor se vlakte is.

Pieta was so sterk soos ’n bees. Ons het saam ingeklaar vir diensplig en twee jaar beleef wat jy nie eintlik kan verduidelik aan iemand wat nie daar was nie. Hoe dit ook al sy – dit was net beter om Pieta aan jou kant te hê. Maar as die son gesak het, was Pieta so blind soos ’n mol. Pieta, sterker as Simson, het saans ’n skouer gesoek om aan vas te hou om nie koers te verloor nie. Soms het ek hom met ’n toutjie aan my vasgemaak sodat hy nie verdwaal nie. In die dag weer het Pieta kans gesien om van my toerusting op sy skouers te laai. En dit was die basis van ’n lewenslange vriendskap, om te weet dat ons nie altyd ewe sterk is nie, maar wanneer nodig, die een die ander kan ondersteun.

Soms moet jy ’n Pieta vir ander wees. Soms moet jy weer vir ’n Pieta onder jou vlerk neem om te sorg dat hy nie wegraak nie. Want ons weet nooit hoe lank ’n seisoen gaan duur nie. Enkele maande na ons uitgeklaar het, het Pieta vir altyd weggeraak nadat ’n vragmotor sy bakkie getref het.

Ou Neef, deel hoop uit solank jy kan. Elke seisoen kom tot ’n einde. Sommige vroeër as ander. Wees ’n kolletjie hoop vir jou buurman. Niemand weet wanneer die herfs winter word nie. Dit kan plotseling gebeur.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.