’N GEWONE PLAN? Nee, ’n boereplan!

Gepubliseer: 22 April 2025

253

Die Boereplanne-kompetisie lok jaarliks groot belangstelling by die NAMPO Oesdag. ’n Totale prysgeld van nagenoeg R50 000 is vanjaar op die spel.

Donald Brink, verkoopsbestuurder by Omnia, sê dat Bertus Goosen, ’n gereelde deelnemer van Botswana, weer sy planne na NAMPO Park bring. “Ek hoop van ons plaaslike produsente sien vanjaar kans om oom Bertus uit te daag,” voeg hy by.

Hierdie kompetisie, aangebied deur Graan SA, Omnia en Landbouweekblad, bestaan reeds 37 jaar. Die doel is om bona fi deprodusente die geleentheid te gee om aan hul eweknieë te wys hoe hulle ’n spesifieke probleem met ’n vindingryke plan oorkom het.

’n Boereplan is enigiets wat produsente self ontwikkel het om ’n spesifieke uitdaging die hoof te bied – of dit nou is om hul werk te vergemaklik of om ’n oplossing teen ’n meer bekostigbare prys as in die handel te skep.

Hierdie jaar is daar twee nuwe kategorieë om in deel te neem. Die eerste een maak voorsiening vir planne wat reeds kommersieel beskikbaar is. Die wenner van hierdie afdeling kom in aanmerking vir die spesiale Graan SA-prys van ’n 10 m x 10 m-uitstalruimte by NAMPO Oesdag 2026.

Dan is daar ook ’n spesiale video-afdeling vir planne wat te groot, te ver of onprakties is om fi sies op NAMPO Park uit te stal.

Belangrike datums
Inskrywings moet Graan SA voor of op Maandag 5 Mei 2025 bereik. Die finale sluitingsdatum is Maandag 12 Mei om 15:00. Teen hierdie tyd moet die fisiese plan en die voltooide inskrywingsvorm by die Omnia-uitstalruimte op NAMPO Park wees. Kommersiële planne (kategorie G) moet voor 1 Mei 2025 ingedien word en video-inskrywings (kategorie H) teen 25 April.

Beoordeling vind plaas op Dinsdag 13 Mei en deelnemers of hul verteenwoordigers moet persoonlik teenwoordig wees. Wenners word direk na die beoordeling aangekondig. Die prysuitdeling vind plaas op Donderdag 15 Mei om 12:00 by die Omnia-uitstalruimte.

Kategorieë vir inskrywings
Deelnemers kan in die volgende kategorieë inskryf:

  1. Nuut – masjinerie, implemente en landboutoerusting (insluitend digitale tegnologie)
  2. Gemodifi seerd – aangepaste masjinerie, implemente en landboutoerusting (insluitend digitale tegnologie, bv. slimfoontoepassings)
  3. Gereedskap – alle tipes gereedskap (elektries en nie-elektries)
  4. Huis en tuin – slim oplossings vir die huis of tuin
  5. Ope-afdeling – enige item wat nie hierbo genoem word nie met ’n vervaardigingskoste van minder as R5 000
  6. Skole-afdeling – enige inskrywing van ’n student/leerder wat aan ’n onderriginstansie verbonde is. Skoolprojekte van die vorige jaar mag ook ingeskryf word.
  7. Kommersieel – planne van nie ouer nie as twee jaar wat reeds kommersieel beskikbaar is. Hierdie inskrywings kom in aanmerking vir die spesiale prys van ’n NAMPO-uitstalruimte in 2026 (10 m x 10 m). Slegs een plan in hierdie kategorie. Deelnemers moet bona fideprodusente wees.
  8. Video-afdeling – vir planne wat te groot, te ver of onprakties is om fi sies op NAMPO Park uit te stal. Die prysgeld vir hierdie afdeling is effens minder as vir kategorie A tot F.

Belangrike bepalings
Elke deelnemer het die reg om sy uitvindsel na afloop van die NAMPO Oesdag as ’n volwaardige patent te registreer. Deelnemers in alle kategorieë behalwe kategorie G moet seker maak dat die plan wat hulle inskryf nie reeds kommersieel beskikbaar of gepatenteer is nie.

Hoe om in te skryf
Voornemende deelnemers kan ’n inskrywingsvorm hier aflaai en van Graan SA of Landbouweekblad se webtuistes. Alternatiewelik kan hulle Wim Venter van Graan SA kontak by 086 004 7246 (tydens kantoorure) of via e-pos by wim@grainsa.co.za. Voltooide inskrywingsvorms moet ook aan hom gestuur word.