
Ons lees in die Bybel dat as jy iets nodig het of wil hê, dat jy daarvoor moet bid. Jesus het in Lukas 11:9-10 gesê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek vind; en vir hom wat klop sal oopgemaak word.”
Tog lees ons van persone wat ernstig gebid het sonder dat die Here hulle gebede verhoor het. Eerstens lees ons in Deuteronomium 32:4 hoe Moses bid. Hy wou graag in die beloofde land ingaan, maar die Here het reeds tevore vir hom gesê dat dit nie gaan gebeur nie.
Numeri 20 vertel hoe Israel, terwyl hulle in die woestyn rondgeswerf het, by Meriba uitgekom het, maar daar was nie water nie. Soos by Horeb (Eksodus 17) beveel die Here vir Moses om voor die rots te gaan staan, maar in plaas van om teen die rots te slaan, met die rots te praat. Moses het egter nie gepraat nie, maar die rots twee keer met sy staf geslaan. Die Here was baie kwaad hieroor en het vir Moses gesê dat hy Kanaän nie sou binnegaan nie.
Jare later het Moses tot God gebid en gevra om saam met die volk in die land in te trek. Hy begin deur die Here te prys vir sy almag en grootheid voordat hy Hom vra om hom in Kanaän te laat intrek. Die Here het toornig geword en geweier.
Hier is twee sake wat ons aandag vra. Eerstens het die Here jare gelede al aan Moses gesê dat hy weens sy ongehoorsaamheid nie in die land sal intrek nie. Hy was self die oorsaak van sy lot. Tweedens was Moses selfgerig; selfsugtig. Niemand anders sou bevoordeel word indien hy sou kon saam trek nie. “Self” mag nooit die motivering vir ons gebede wees nie. Die Here verhoor nie selfsugtige gebede nie.
Paulus het ook gebid sonder dat sy gebed verhoor is. Dit gaan oor die baie bekende doring in die vlees. Paulus ervaar aanvalle vanaf Satan wat hom met die vuis slaan (2 Korintiërs 12:7-10). Drie maal het hy tot die Here gebid waarna die Here hom antwoord dat Hy nie die doring uit Paulus se vlees gaan haal nie. Drie is die getal van volheid.
Die Here gee ’n tweeledige antwoord aan Paulus. Hy sê: “My genade is vir jou genoeg…” Paulus skryf hierdie dinge sodat ons moet leer dat die Here se genade vir ons genoeg is. As daar dan iets is waarvoor ons onophoudelik moet bid, is dit vir die Here se genade. Dit is wat ons elke dag nodig het om deur storms en probleme te kom.
Verder sê die Here dat sy krag in swakheid volbring word. As ons swak is, word die krag van die Here openbaar – in Paulus se lewe en in ons s’n. Ons moet dus nie vra dat die Here al ons probleme moet wegneem nie, maar dat Hy ons die krag, genade en insig gee om dit te oorkom. In sy krag kan ons oorwin.