MINISTER GEE hoop tydens Graan SA se Kongres

Valerie Cilliers, SA Graan/Grain-medewerker

Gepubliseer: 15 April 2025

37

John Steenhuisen, Minister van Landbou, se aanlyn gesprek met afgevaardigdes by Graan SA se Kongres kan beskou word as ’n toonbeeld van die goeie verhouding wat die organisasie in ’n baie kort tyd met die minister kon bewerkstellig.

Derek Mathews, uittredende voorsitter van Graan SA,­het tydens die geleentheid beklemtoon dat dié oop deur wat Graan SA tans geniet, goud werd is vir die bedryf. “Vir die eerste keer in 30 jaar kan ons sê ’n minister dra ons sake opreg op die hart,” het hy opgemerk.

Die minister het sy waardering uitgespreek vir die rol wat die graanbedryf in Suid-Afrika se landbou-ekonomie speel. Hy het veral die bedryf se veerkragtigheid geloof. Hy het vertel van sy onlangse besoek aan Limpopo, spesifiek die Thabazimbi-omgewing, waar groot dele van graanoeste verlore gegaan het weens vloede. “Ons sien al hoe meer bewyse van klimaatsverandering in die ekstreme droogtes en vloede wat ons ervaar. Dit word al hoe noodsaakliker om innoverend te dink en aan te pas om volhoubaar te bly,” het hy bygevoeg.

Vennootskappe nou meer nodig as ooit
Hy het ook verwys na hoë insetkoste en die druk op produsente om winsgewend te bly. Hy het die belangrikheid van volhoubare boer­derypraktyke beklemtoon en gesê dat die internasionale mededing­endheid van Suid-Afrika se landbousektor ’n prioriteit moet wees. Samewerking tussen die regering, produsente en georganiseerde landbou is volgens hom nou nodiger as ooit.

Steenhuisen het sy voorneme bevestig om nou met Graan SA se leierskap saam te werk en bygevoeg dat daar reeds baie goeie vordering gemaak is. Volgens die minister is daar verskeie projekte in die pyplyn wat volhoubaarheid en verhoogde produksie ondersteun. Hy het Graan SA geloof vir hul rol in die ontwikkeling van opkomende produsente, aangesien die organisasie die belangrikheid van bemagtiging en transformasie in die sektor verstaan.

John Steenhuisen, Minister van Landbou, was ’n spreker tydens Graan SA se jaarlikse Kongres.

Produsente sê hul sê
Geleentheid is ook aan afgevaardigdes gegee om vrae aan die minister te stel. Grondhervorming en veral grond­onteiening sonder vergoeding was van die kwessies waaroor produ­sente bekommerd is. Die minister het gereageer deur te sê dat onsekerheid oor grondsake baie skade aanrig. Volgens hom bevat die wetgewing talle foute, veral met betrekking tot die pro­ses wat gevolg is om dit in werking te stel. Hoewel hy nie glo dat grootskaalse grondonteie­ning binnekort sal plaasvind nie, waarsku hy dat wetgewing nie vir ’n Mandela-tipe era geskryf moet word nie, maar eerder met die moontlikheid van misbruik in ’n Zuma-tipe era in gedagte.

Steenhuisen het verder beklemtoon dat die huidige wetge­wing buitelandse beleggings negatief beïnvloed. “Met ’n ekonomie wat net 0,6% groei, is investering uiters belangrik.” Hy glo dat wysigings aan die wetgewing nodig is om dit in ooreenstemming met die Grondwet te bring en het bevestig dat ’n hofaansoek ingedien is om die wetgewing te toets. Hulle wag tans op die uitspraak. Hy erken dat ont­eiening in die meeste moderne demokrasieë moontlik gemaak word, maar dat dit nie vir grondhervorming aangewend word nie. In hierdie lande word grond slegs onteien wanneer uiters noodsaaklike infrastruktuur gebou moet word.

Hy gee ook toe dat daar steeds groot ongelykhede in die sektor is, en dat produsente wat voorheen ekonomies uitgesluit was toegerus moet word om kommersiële status te bereik. “Die vraag is hoe raak ons ontslae van ongelykhede. Ek glo dat ons dit in die landbousektor reg hanteer. Bemagtiging en opheffing word deur die sektor self bestuur en nie deur die regering nie. Programme soos die wat Graan SA tans dryf is van onskatbare waarde.”

Beter veiligheid
Produsente het ook kommer uitgespreek oor graan- en veediefstal, werkloosheid en veiligheid op plase. Die minister het erken dat sekere probleme landbou direk raak, maar buite die sektor se beheer is. Hy het onderneem om saam met die Minister van Polisie en ander belanghebbendes te werk om landelike gebiede beter te beveilig. “Ek het dit tydens die staatsrede baie duidelik gestel dat diefstal in landelike gebiede en ver­al veediefstal as prioriteitsmisdade hanteer moet word.”

Uitbreiding van markte
Steenhuisen het aangekondig dat hy in die weke na Kongres verskeie lande gaan besoek om nuwe markte vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte te probeer vestig. Hy het beklemtoon dat geopolitieke faktore goed bestuur en versigtig hanteer moet word om die landbousektor se groei en mededingendheid te bevorder. In hierdie verband, sê hy, speel Graan SA ’n sleutelrol. Samewerking tussen alle rolspelers is noodsaaklik om ’n inklusiewe, veerkragtige en mede­dingende landbousektor te verseker.