Hoë vlak van invordering is ’n mikpunt

Johan Smit, besturende redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 15 April 2025

60

“Dit is van kardinale belang vir Graan SA en sy voortbestaan om ’n hoë invorderingsper­sentasie te behaal en om uiteindelik die bedryfsheffing te verlaag,” het Richard Krige in sy hoedanigheid as voorsitter van die Bemarkingswerkgroep aan die Graan SA-Kongres gesê.

Krige het verder daarop gewys dat in ’n seisoen waar graan- en oliesadeproduksie jaar op jaar afgeneem het, Graan SA se ledehef­fings met slegs 14% afgeneem het. Sou die organisasie egter daarin slaag om ’n 50%-invorderingspersentasie te bereik, sal dit moontlik wees om die bedryfsheffing vir lede te verlaag.” Volgens Krige het Graan SA in 2024 heffings op 29% van die oes ingevorder, terwyl ’n 31%-vlak vir 2025 begroot is. Drie nuwe insamelingsagente is vanjaar aangestel, naamlik Nu-Pro Feeds, Agriserve en K.O. Grains.

“Bekyk die lys van ons agente sorgvuldig. As jou graanhandelaar se naam op daardie lys ontbreek, moet ’n mens die vraag vra hoe ernstig hulle is oor jou toekoms en die toekoms van die graanbedryf,” het hy gesê.

’n Jaarlikse heffingsverhoging wat deur die Raad voorgestel is, is aan Kongreslede voorgelê vir goedkeuring. Die volgende heffingsverhogings is vir 2026 aanvaar:

  • Mielies (springmielies ingesluit), sonneblom, sojabone en grondbone: 10%
  • Sorghum, koring, gars en ander kleingrane: 9%
  • Kanola: 10%
Maak kennis met ons bemarkers

Streekkomitees
In ’n strewe om ledekommunikasie te optimaliseer, het Graan SA­besluit om streekkomitees te stig om te help om inligting van grondvlak tot by die Raad uit te kry en andersom. Lede is gevra om Graan SA uit te nooi om hul boereverenigingsvergaderings by te woon sou daar enige kwessies wees wat aandag verg.

“Wankommunikasie en ’n gebrek aan inligting onder lede is verantwoordelik vir die chaos in georganiseerde landbou, en ons is bewus daarvan dat daar nog baie werk vir ons voorlê,” het Krige bygevoeg en erken dat in sekere streke en boereverenigings, sommige lede minder ingelig is as elders.

“Aan diegene wat die inligting wat ons deurgee deel; baie dankie. Ons besef dat ons ons mense moet inlig anders sal hulle nie weet wat die organisasie doen nie en dan sal hulle nie vrywillige heffings wil betaal nie. Help ons asseblief en ondersteun ons om hierdie kommunikasielyne oop te hou,” het hy versoek.

Graan SA het ook erkenning gegee vir verskeie prestasies met betrekking tot die heffings:

  • Streek 11, met Gerrit Roos as verkose Raadslid, het ’n groei van 58% in heffingsinkomste op ’n jaar-tot-jaar-basis bereik. Die bemarker vir die streek is Werner Vos.
  • Die grootste invorderaar van somergraanheffings vir die jaar was Senwes.
  • SSK was die grootste invorderaar van wintergraanheffings vir die jaar.
  • Die grootste groei in jaar-tot-jaar-persentasie en randwaarde-invordering is deur Brisen Commodities behaal.