Kongres steeds ’n JAARLIKSE HOOGTEPUNT

Gepubliseer: 14 April 2025

156
Dr Tobias Doyer
HUB, Graan SA

GRAAN SA SE JAARLIKSE KONGRES IS ’N BELANGRIKE DATUM OP DIE GRAANBEDRYF SE KALENDER WAARNA ALMAL UITSIEN. DIT IS LEKKER OM GEDAGTES UIT TE RUIL, OU VRIENDE RAAK TE LOOP EN DIE GEMEENSKAP VAN DIE GRAANWAARDEKETTING TE BELEEF. KONGRES SKEP ’N GEVOEL VAN KAMERAADSKAP, SAMEHORIGHEID EN VERBONDENHEID ONDER ONS GRAANPRODUSENTE, WAT DAAGLIKS OP HULLESELF AANGEWESE IS OM BELANGRIKE BESLUITE OP HUL PLASE TE NEEM.

Dít is die lekker gedeelte en ’n voorreg. Vir ons is die belang­rikste egter om strategiese rigting te gee en die struikelblokke tot winsgewendheid en volhoubaarheid te identifiseer waarop ons ons gemeenskaplike aandag en energie moet fokus. Graan SA strewe nie net tydens krisistye om oplossings te verkry nie, maar werk konsekwent om mark- en besigheidsgeleenthede vir die graanbedryf te ontwikkel. Suid-Afrika beleef ’n groei- en werksgeleentheidkrisis. Sonder groei gaan ons sukkel om ons nasionale finansies te laat klop en gaan armoede en hongersnood ons sosiale bestel vernietig.

Die tema van die Kongres – “’n Produsent se reis van oorlewing tot voor­spoed” – was gepas na aanleiding van die moeilike produksiejaar van 2024. Dit ondersteun die beginsel dat diegene wat moeilike tye deurstaan en fokus op oorlewing deur by veranderende omstandighede aan te pas, hulleself posisioneer om weer voorspoed te ervaar. In aan­sluiting hierby het Todd Heap van Bayer benadruk dat landbouers innovasie, gevorderde genetika en biotegnologie moet aangryp om volhoubare produksie te verseker.

Belangrike aspekte soos langtermynbeplanning, beleggings in tegnologie, diversifisering en kennis van ekonomiese siklusse en kostestrukture het tydens die paneelbespreking onder die loep gekom. Paul Temple het graanprodusente aangeraai om produksiekoste sorgvuldig te monitor: “Boer met jou sakrekenaar.” Produsente moet dieselfde noukeurigheid aan die dag lê om koste te verstaan en te bestuur as wat finansiële instellings benodig vir kredietwaardigheid- en beleggingsbeoordeling.

Die stigting van Graan SA in 1999 het ’n soliede fondament vir die Suid-Afrikaanse graanbedryf gelê en elke Kongres dra by as ’n bousteen in die organisasie se vooruitgang. Die sukses van die onlangse Kongres is nie net die vrug van ’n jaar se werk nie, maar van jare se samewerking en deurlopende toewyding van elke lid en deelnemer. Kongres bied ’n waardevolle geleentheid om lede met deursigtigheid in te lig oor werksaamhede en die benutting van hul ledegeld. Dit stel lede in staat om wel­deurdagte besluite vir die toekoms te neem. Graan SA se bekwame personeel dien as die sement wat hierdie boustene jaarliks suksesvol saamvoeg deur die doeltreffende implementering van die mandate wat aan hulle toegeken word, en ons waardeer hulle toewyding.

Dit was ’n riem onder die hart dat die Minister van Landbou, John Steenhuisen, tyd ingeruim het om die Kongres toe te spreek ten spyte daarvan dat die dag met die begro­tingsrede in die Parlement saamgeval het. Die minister se oopdeurbeleid en bewustheid van die graanprodusent se uitda­gings het vertroue by Kongreslede geskep dat daar gestreef sal word om hul belange binne die regering van nasionale eenheid te bevorder.

Ons harte gaan uit na die graanprodu­sente wat die verwoestende effek ervaar het van die onlangse vloede in die Noordwes- en Limpopo-provinsies en waarvoor daar ’n noodtoestand verklaar is. Daar is verder met leedwese verneem van die heengaan van een van ons lede, Louis Scheepers, nadat hy deur ’n stroombreker geskok is weens hierdie nat toestande.

Namens ons lede en die Graan SA-personeel wil ek ons dank en waardering uitspreek teenoor Derek Mathews wat sy termyn as voorsitter van Graan SA voltooi het. Sy toewyding en volgehoue bydrae het ’n beduidende impak op die organisasie en sy medeprodusente gehad. Sy leierskap het nie net die bedryf bevorder nie, maar ook die samehorigheid en samewerking onder produsente en rolspelers in die waardeketting versterk. Ons waardeer sy toewyding en die passie waarmee hy sy rol vervul het.

Ek wil ook graag vir Richard Krige gelukwens met sy verkiesing as nuwe voorsitter van Graan SA. Met sy kennis en ervaring van die graanbedryf en ons organisasie, sien ons daarna uit om onder sy leiding saam te werk ter bevordering van ons lede se belange in die bedryf.

Die reis van oorlewing na voorspoed is nie net ’n individuele poging nie, maar ’n gesamentlike een – gedryf deur gedeelde doelwitte en wedersydse respek. Onder leiding van ons nuwe leierskap en met die deurlopende toewyding van ons lede, is ek vol vertroue dat die pad vorentoe op­windende geleenthede vir innovasie, groei en blywende sukses inhou.