Manna

Gepubliseer: 6 Februarie 2025

169

Beste Grootneef

Met die Israeliete se groot trek uit Egipte het hulle Moses gou herinner aan Egipte se vleispotte. Die slawedrywers was vergete.

En toe die wonderwerk van manna wat op die duine gestrooi word … spierwit genade, soet van smaak en genoeg vir elke dag. Die volk moes egter elke oggend vroeg die wit vlokkies bymekaarmaak. Soos die son oor die horison verrys het, het die manna weggesmelt en suur geword. Maar die belofte was daar van nuwe genade wat elke oggend in die dorre woestyn vir die volk uitgestrooi sou word.

Terwyl die oosterkim begin verkleur en voëls saggies die eerste lig begroet, word ’n nuwe dag vol geleenthede oor die aarde gestrooi, net soos manna op die duine vir Moses en sy mense, maar met die sagte voorwaarde dat ieder en elk ’n goeie rentmeester vir tyd gegun sal wees. Net soos manna weggesmelt het in die son se gloed, kan tyd ook wegvloei soos water in die sand as dit nie mooi opgepas word nie. 2025 lê uitgesprei soos ’n nuwe doek voor ’n skilder. Gebruik die tyd só dat dit in die galery van herinneringe as ’n meesterstuk sal uitstaan.

Ou Neef, soms bring toere op Vleisboek jou by onverwagte bestemmings. So besoek ek die ander dag ’n 1972-tydkapsule met musiek uit die jare toet. Wat die klankgreep doen, is om jou op ’n kort toer deur die maandelikse toptreffers van 1972 te neem – van Januarie tot Desember. En daar ontsluit 1972 se treffersparade ’n nostalgie wat skrik vir niks.

In die Republiek was daar in toeka se dae Springbokradio vir die meer avontuurlustiges, maar vir internasionale treffers moes jy op LM Radio inskakel. Dit was opsigself ’n hele operasie. Die radio se antenna moes voluit gerek word en met ’n stuk koperdraad aan ’n draadhanger teen die plafon gekoppel word. LM Radio, toe nog uitgesaai vanaf Lourenço Marques in Mosambiek, was op kortgolf, nie op FM nie. Die draadloos se stasiesoeker moes op ’n fyn nippertjie ingestel word om LM se radiogolf op te vang.

Die Republiek was ’n kokon, met min ruimte vir uitheemse klanke soos The Beatles of Elvis. Daardie tipe musiek kon mense selfs laat dans. En by die CSV is ons geleer dat dans nie sonde is nie, maar dat dit tot sonde kan lei. Dié dat volkspele toe so gewild was, want die passies was vir volk en vaderland: “Kom Patertjie” en al daai, dat die stof so staan.

Hoe dit ook al sy, met Vleisboek wat 1972 se klanke laat uitborrel, dag ek so by my kool – dis eintlik lekker en rustige musieke, niks in vergelyking met wat die jongetjies van vandag luister nie. Min of meer Skarumba-klanke wat in pas sal wees vir enige Oujaarsokkie in die stoor.

Nou ja, intussen het LM se stem stil geraak en is net Maputo oor. Die Republiek in die Suidland lyk en klink ook heel anders as toe. Dié dat die nostalgie my beetpak oor tyd wat verby is en oor toeka se klanke wat nou net ’n herinnering is van wat was.

Ou Neef, koop die tyd uit – dit gaan gou verby met dae, weke en maande wat in jare saamvloei. Beplan vir spesiale geleenthede, want dit gaan nie vanself gebeur nie. Nostalgie en die herinneringe aan daardie spesiale tye sal brandhout gee vir oudag se kaggel­vuurtjie van om te onthou hoe dit was.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.