Stephan van Middelburg en die goeie gades

Gepubliseer: 11 Desember 2024

118

Beste Grootneef

Ou Neef, Afrikaans is kookwater. By NAMPO Alfa loop ek my vas in die Ystervark-span. Hulle nering is om sleepwaens te bou. Die volgende modelle is te koop: die “Hardegat Bulletjie” vir ’n sleepwa wat skrik vir niks. Sou jy effe knapper wil gaan, is daar die “Klein Hardegat”. Die groter boetie van die wa is die “Rowwe Hardegat”. En as jy regtig bos wil gaan, is die “Verby Hardegat”-wa reg om gehaak te word. Hulle kan gevolg word by #moersterk. Jy kan dit eenvoudig net nie so in die rooi taal bemark nie!

Laas week kuier ek naby NAMPO met ’n paar vleismanne van die RPO. Daar ontmoet ek vir Stephan van Middelburg.

Sommer gou draai die geselskap in die koers van Middelburg se sout-van-die-aarde-mense wat in ’n klipharde wêreld ’n bestaan losboer. En oor hul goeie gades wat klein begin het met ’n kontreiwoldag, maar nou skaars kan voorbly met almal wat meer van die goue vag in die Karoo wil beleef. ’n Klein begin ten bate van die edel vesel – gemeng met passie – kan ’n droom laat leef.

Middelburg se wolspan is ’n toonbeeld van hoe ’n droom werklikheid kan word. Dit kom nie vanself nie – ’n droom is bloot die oomblik tussen slaap en wakkerskrik. Om dit na te jaag en lewend te hou verg harde werk en toewyding. Dit is ’n bewustelike besluit oor wat die ware Noord vir jou en die mense om jou sal wees. Beuselagtighede moet van die baan gehou word met die fokus op die wenstreep wat wag.

Om ’n droom te maak werk, neem energie. Maar wanneer jy die mylpaal bereik om jou droom te leef, gee dit ook mildelike aansporing wat alles die moeite werd maak. Dit gee die balans tussen om te hou waarvan jy doen, maar ook te doen waarvan jy hou. Daarsonder kan die lewe voel soos ’n kameel wat oor duine gesleep word.

Elke mens moet sy eie droom leef. Jy kan nie iemand anders se droom najaag nie. Soms moet jy egter uitreik na ander om ’n droom te verwesentlik. Rassie se rugbyglorie is ’n spansport.

Met die einde van 2024 in sig is dit ook tyd om stil te raak en voorraad te neem van die jaar se droomvangery. Is daar werk gemaak van ideale of is van die drome nog op vrye voet? Onthou, die jare tik af – wat jy nie nou vang nie, kan jou vir ewig ontwyk.

In Desember se feesdae wat voorlê, gedenk die jaar wat verby is. Dit is sand wat deur die uurglas gekantel het die ewigheid in. Jy kan dit nooit weer beleef nie.

Laai jou batterye met familie en vriende se gesellige samesyn, maar raak stil oor die jaar wat voorlê. Besluit watter drome jy gaan najaag. En as die klokslag die Nuwejaar aan­kondig, jaag jou 2025-droom na. Jy het net 365 dae om dit jou eie te maak.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.