Orion is terug

Gepubliseer: 2 Oktober 2024

322

Beste Grootneef

Vanoggend vroeg, net voor sonop, het Orion kom dagsê. ’n Helder konstellasie aan die oosterkim, vol belofte van die somer wat op pad is. Orion, die jagter, en Taurus, die bul, in ’n ewige wenteltog deur die ruimte.

In die someraande deel ons hul vonkel, maar in die droë, wit seisoen kuier Orion en Taurus in die Noordelike Halfrond se hemelruim om ook dáár die begin en die einde van seisoene aan te kondig.

Die Vrystaat trek tans swaar met droë grasvlaktes en die Noordwes-wind wat bykans daagliks die stof voor hom uitjaag. Nou en dan dwarrel ’n stofduiwel ook verby met sand en mielieblare wat hoog die lug ingesuig word. Die voet van die dwarrel mik hierheen en daarheen soos dit oor die vlaktes jaag, maar altyd soek-soek die ooste in.

Wanneer die wind om die huis se hoeke fluit, bly almal op die uitkyk of daar nie ’n rookwolk op die horison uitslaan nie. Die brande was vanjaar vernietigend – met die Noordwes-wind agter hom spring ’n brand met gemak bo-oor ’n pad. Die mens­gemaakte brandpaaie bied ’n smal buffer teen die verterende vlamme wat alles in ’n oogwink kan vernietig.

Die turfgronde se barste loop wyd en diep. ’n Kierie pas diep die bars in voor dit kante raak. Elke bars vertel van droogte en van die aarde wat na water smag.

Beeste kom aangedraf as hulle die wit bakkie oor die bult sien kom, soettand agter tef en lusern aan. Holtes in soutblokke vertel ’n eie verhaal van almal in die veld wat ’n southappie nodig het.

Die veld – en die diere van die veld – wag op die dans van die reën. Die mense wag vir oom Paul se verjaarsdag.

Mensehande kon ná die winter doen wat moontlik was vir die nuwe plantseisoen. In die store lê saad en kunsmis gereed. Die trekkers en planters is versien.

Op die suidestoepie lê Snuffels en dagdroom van die haas wat weggekom het, met agterpote wat nou en dan in die lug roei. En ek sit op die wit houtstoel en kyk na die weste of ’n wolkie so groot soos ’n man se hand nie dalk met ’n dreunsang wil begin nie.

Laurika se “Groete aan Mannetjies Roux” mymer deurentyd in die agterkop. “O stuur tog net so ’n bietjie reën, my oom het ’n tenk vol diesolien. En seën my ma en seën my pa, en my oom op sy plaas in Afrika.”

Ou Neef, mag die skaalbak van genade vanjaar ook Vrystaat se kant toe kantel met reën op die regte tyd.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.