GSA vereer uitnemendheid in SA-landbou

Alzena Gomes, skakelbeampte, Graan SA
Gepubliseer: 2 Oktober 2024

469

Graanproduksie is ’n noodsaaklike rat in Suid-Afrika se landboumasjien – dit onderhou lewensbestaan, verseker voedselsekerheid en lewer ’n beduidende bydrae tot die ekonomie. Vir 23 jaar is Graan SA se Graanprodusent van die Jaar-toekenning al aan die voorpunt om die room van die oes in dié sektor te vier.

Meer as net ’n simbool van erkenning, dien hierdie toekenning as baken van uitnemendheid vir graanprodusente, wat die belangrikheid van innovasie, volhou-
baarheid en veerkragtigheid in boerderypraktyke beklemtoon. In ’n land waar voedselsekerheid ui­ters belangrik is, verhef hierdie toekenning nie net uitsonderlike produsente nie, maar beklemtoon dit ook die toekoms van landbou in Suid-Afrika.

Viering van uitnemendheid en innovasie
Die Graanprodusent van die Jaar-toekenning is deur Graan SA ingestel om produsente te vereer en erkenning te gee vir hul uitsonderlike bydraes tot graanproduksie in die land. Hierdie produ­sente is baanbrekers wat die nuutste tegnologie gebruik, hulpbronne doeltreffend bestuur en volhoubare praktyke implementeer wat die omgewing beskerm en produktiwiteit verhoog. Aangesien graanproduksie uitdagings soos klimaatsverandering, stygende insetkoste en wisselende markte moet trotseer, beklemtoon die toekenning dat die toekoms van boerdery in innovasie en aanpas-
baarheid lê. Verder erken dit ook die belangrikheid van inklusiwiteit in landbou, ’n sektor wat histories deur ongelyke toegang tot hulpbronne beïn­vloed is. Deur produsente van alle agtergronde en streke te erken, stuur Graan SA ’n kragtige boodskap: Die toekoms van landbou in Suid-Afrika is inklusief en oop vir almal wat veerkragtigheid, innovasie en ’n verbintenis tot volhoubare praktyke toon.

Die Graanprodusent van die Jaar-beoordelingspan besoek die Van Niekerks op Tierfontein.

Die rol van volhoubaarheid in graanproduksie
Volhoubaarheid is nie ’n blote modewoord nie; dit is die fondament waarop moderne landbou gebou moet word. Die wêreld ervaar toenemende druk om ’n groeiende bevolking te voed terwyl die planeet se natuurlike hulpbronne beskerm word. In Suid-Afrika, waar grondagteruitgang, waterskaarste en klimaatsveranderlikheid groot uitdagings is, het volhoubaarheid in landbou deurslaggewend geword. Die Graan-
produsent van die Jaar-toekenning is nie net be­langrik om erkenning te gee aan die topprodusente nie, maar om die metodes te beklemtoon wat die weg kan baan vir volhoubare boerdery. Volhoubare landbou behels die gebruik van die beste beskikbare tegnologie, soos presisieboerdery, wisselbou, bewaringsbewerking en klimaatbestande gewasse. Hierdie tegnologieë stel produsente in staat om opbrengs te maksimeer terwyl die omge­wingsimpak so ver moontlik beperk word. Belangriker nog, dit help om watergebruik te verminder, grondgesondheid te handhaaf en koolstofvrystellings te verlaag om te verseker dat die grond produktief bly vir toekomstige geslagte.

Michael en Gareth Allen ontvang die Graanprodusent van die Jaar-beoordelingspan op hul plaas.

Inklusiewe praktyke in volhoubaarheid is ewe belangrik. Deur diversiteit in die landbou-arbeidsmag te bevorder en te verseker dat opkomende en kleinskaalse produsente toegang tot hulpbronne en kennis het, kan die landbousektor meer veerkragtig groei. Inklusiwiteit versterk ook die sosiale struktuur van landelike gemeenskappe, skep geleenthede en bevorder ’n meer samewerkende benadering tot voedselproduksie. Hierdie toekenning dien as ’n platform om hierdie volhoubare praktyke uit te lig en te bevorder, wat ander produsente aanmoedig om soortgelyke benaderings aan te neem. Die erkenning van produsente wat uitblink in die integrasie van tegnologie en omge-
wingsbewaring wys dat winsgewendheid en volhoubaarheid hand aan hand kan – en móét – gaan.

Inspirasie vir die jonger generasie van graanprodusente
Benewens die erkenning van topprodusente, speel die toekenning ’n belangrike rol in die inspirasie van die jonger generasie produsente. Landbou, veral graanproduksie, word dikwels beskou as ’n bedryf deurdrenk in tradisie. Hoewel daar groot waarde in die wysheid en praktyke is wat van vorige generasies oorgedra is, rus die toekoms van boerdery op innovasie en aanpasbaarheid. Jonger produsente, wat die verant-
woordelikheid sal oorneem om die nasie te voed, het rolmodelle nodig wat hierdie eienskappe uitbeeld. Die toekenning lig produsente uit wat die delikate balans tussen tradisie en tegnologie asook winsgewendheid en volhoubaarheid bemeester het. Dit dien as ’n kragtige motivering vir aspirantprodusente wat hul stempel in die landbou wil afdruk. Deur die sukses van ander te sien, word ’n kultuur van uitnemendheid bevorder en versterk die idee dat volhoubare praktyke nie net goed vir die omgewing is nie, maar ook die sleutel tot langtermynwinsgewendheid.

Die Graanprodusent van die Jaar-beoordelingspan lê besoek af by die Van Zyls.

Boonop bied die wysheid wat deur jare se ondervinding opgedoen is waardevolle lesse aan jonger produsente. Die toekenning beklemtoon dat die uitblinkers nie net dié met die meeste hulpbronne is nie, maar dié wat die beste gebruik maak van wat hulle het. Dit stuur ’n boodskap aan jonger produsente dat deursettingsvermoë, strategiese denke en ’n bereidwilligheid om verandering te omarm, deurslaggewend is vir sukses in die sektor.

Graan SA se Graanprodusent van die Jaar-toekenning, in samewerking met Syngenta as ’n jarelange vennoot en nou in sy 23ste jaar, staan as ’n bewys van die uitnemendheid, innovasie en volhoubaarheid wat noodsaaklik is vir Suid-Afrika se landbousukses. Deur
topprodusente te vier, werp die toekenning lig op die praktyke en beginsels wat die land se graanproduksie vir toekomstige geslagte sal dra. Aangesien Suid-Afrika deur die dubbele uitdaging in die gesig gestaar word om ’n groeiende bevolking te voed en sy natuurlike hulpbronne te beskerm, was die rol van volhoubare, inklusiewe landbou nog nooit so belangrik soos nou nie. Vir jonger geslagte dien hierdie toekenning as ’n inspirasie en uitdaging om steeds die grense van moontlikhede in graanproduksie te verskuif, en sodoende ’n veilige en volhoubare toekoms vir almal te verseker.

Geniet die uitstappie na ons 2024-finaliste en hou gerus die November-uitgawe van die tydskrif dop vir ’n kykie na die galatoekenningsaand vol swier en prag. Ons bedank hiermee ook ons jarelange borg, Syngenta, wat sedert die instelling daarvan bydra tot die sukses en voortbestaan van die gesogte toekenning. Ons stel met trots ons 2024-finaliste voor:

  1. Gareth & Michael Allen van Middelburg in Mpumalanga;
  2. Jean van Niekerk van Caledon in die Wes-Kaap; en
  3. Pieter van Zyl van Schweizer-Reneke in Noordwes.

Graanprodusent van die Jaar – Ontmoet die finaliste

Gareth & Michael Allen, Middelburg

Michael en Gareth (regs) boer op die plaas Hartebeesfontein in die Middelburg-distrik.

Michael Harrod Allen boer sedert 1981 op die plaas Hartebeesfontein in die Middelburg-distrik en het die voorreg gehad om 13 jaar saam met sy pa, Graham Harrod Allen, te boer. Michael het in 1994 die boerdery oorgeneem met ’n fokus op grondopbouing vir hoër opbrengste en teen 1999 het die boerdery reeds uitgebrei en het hy met basiese presisieboerdery begin.

Na ’n Amerikaanse toer in 2005, was Michael so beïndruk met dié produsente se manier van doen, dat hy al sy masjinerie na die Amerikaanse tipe toerusting begin verander het. Sy seun, Gareth Harrod Allen, het in 2007 die tradisie voortgesit en as vyfde geslag saam met sy pa op die einste plaas begin boer. Gareth het as ’n algemene plaasarbeider begin, basiese boerderyvaardighede aangeleer en ’n sterk werksetiek ontwikkel deur ’n vakleerlingskap. Deur noue en praktiese samewerking met sy pa, het Gareth vinnig besef dat dit noodsaaklik was om by elke aspek van die boerdery betrokke te wees.

Die Allens verbou mielies en sojabone op ongeveer 1 800 ha met ’n rotasie van tweederdes mielies en ’n derde sojabone op droëland. Hulle boer volgens ’n konvensionele bewerkingstelsel en praktyke en masjinerie is geskoei op die eweredige verspreiding van materiaal en verseëling vir vogbewaring. Landerye word volgens ’n tweehektaarrooster geklassifiseer om die opbrengspotensiaal te bepaal, waarop kultivarkeuses dan per land gebaseer word. Saadpopulasies en kunsmistoedienings word volgens grondpotensiaal bepaal. Opbrengsteikens word redelik konserwatief bepaal en steun op ervaring, langtermyngemiddeldes, voorspelde weerpatrone en die kennis van die variëteite wat geplant word, tesame met die bemestingsprogram.

Kultivarkeuses is een van die belangrikste faktore in die boerdery. Die grond is oor jare opgebou en die potensiaal is deur bewerking en bemesting verhoog – die verkeerde kultivar kan die boerdery duur te staan kom. Die Allens plant vinniger groeiende mielievariëteite. Al hoe meer va­riëteite wat eintlik vir besproeiing ontwerp is, word geplant vir hul hoër plantestandkapasiteit, hul vermoë om meer massa te dra en die feit dat dié variëteite vroeër geoes kan word. Vinniger variëteite bereik gewoonlik ’n volwasse stadium voor die hitte in Januarie/Februarie en die droë tydperk. Nuwe variëteite word in klein hoeveelhede getoets, en die gebruik van elke variëteit word stelselmatig oor die jare verhoog om prestasie te verseker. Die Allens het ook oorgeskakel na die vinnigste groeiende sojaboonvariëteite beskikbaar, aangesien vinnige variëteite volwassenheid bereik voordat die reën skaars word. Volgens eie ervaring, is dié variëteite ook minder vatbaar vir Sclerotinia.

G&M Farming Enterprises spesialiseer in veeproduksie met die fokus op speenkalfproduksie. Hul benadering beklemtoon sterk dieregesondheidsbestuur, hoëgehalteteelpraktyke en doeltreffende weidingstelsels om optimale groei­tempo’s by die kalwers te verseker. Deur mo­derne boerderytegnieke te gebruik en volhoubare praktyke te handhaaf, produseer hulle robuuste, gesonde speenkalwers wat markge­reed is en wat bydra tot die algehele wins­gewendheid en volhoubaarheid van hul boerderybedrywighede.

Soos reeds genoem, pas die Allens ’n konvensionele bewerkingstelsel toe. Hulle winters is droog en die somerreënval kan wisselvallig wees. Die grond moet dus so bewerk word dat indien te min reën ontvang word, enige reën wat wel val in die grond opgeneem en deur die plante benut word. In teenstelling, wanneer te veel reën ontvang word, word waterafloop deur die korrekte diep skeurploegbewerking (rip) voorkom wat ook die dreinering van oortollige vog toelaat en minimale versuipte gebiede skep. Grond word voorberei om die beste moontlike groei-omgewing vir die plante in alle scenario’s te skep. Die hantering van plantmateriaal is uiters be­langrik vir die Allens, wat nie materiaal in die winter wil verloor as gevolg van sterk winde of brande nie. Deur die materiaal reg te begrawe, word die afbreekproses in die grond aangehelp om so­doende die beste moontlike saadbed vir die volgende gewas wat geplant gaan word, te skep.

Die Allens plant vinniger groeiende mielievariëteite en kultivarkeuse is vir hulle uiters belangrik.
G&M Farming Enterprises spesialiseer in veeproduksie met die fokus op speenkalfproduksie.
Die Allens bedryf silo’s op twee plekke en gebruik hul eie vragmotors vir die meeste graanlewerings.

Presisielandbou word beoefen sover dit prakties moontlik en ekonomies lewensvatbaar is. Grondklassifikasie tesame met oesopbrengskaartdata word ingespan om die potensiaal van die grond te bepaal. Grondmonsters word na oes geneem om te bepaal hoeveel voedingstowwe uit die grond verwyder is om sodoende die kalk- en bemestingsbehoeftes volgens grondpotensiaal en opbrengsdata te bepaal. Bemesting, mieliesaad en kalktoedie­nings kan voortdurend gevarieer word terwyl dit volgens die vereistes en bepaalde opbrengspotensiaal toegepas word. Alle trekkers en toepaslike implemente is toegerus met outostuur- en baanbeheertegnologie met ’n RTK GPS-sein om oorvleueling te voorkom en produkverspilling te minimaliseer. Alle toedienings-, bewerkings- en oesdata word opgeneem en op ’n aanlynstelsel van Case IH gestoor.

Die bemestingsbeleid is geskoei op opbrengskaarte en grondpotensiaal soos bepaal deur grondklassifikasie, wat die Allens ‘n goeie idee gee van die opbrengspotensiaal of teikenopbrengste. Grondmonsters word vergelyk met vorige data om gebruikte grond­elemente te bepaal en tesame met opbrengsteikens word kalsium en magnesium toegedien waar nodig. Stikstof, fosfaat en kalium word met behulp van ’n gevarieerde toedieningskoers volgens die teikenoeste bepaal. Mikro-elemente word by korrel-
kunsmis gevoeg, maar sommige word ook met ’n rytoediening deur die planter toegedien. Kalktoediening vind direk na die oes plaas: Kalk word gemeng met die grond deur middel van bewerking en bemesting word voor die planter toegedien.

’n Wisselboustelsel word gevolg op rotasie van tweederdes mie­lies en ’n derde sojabone. Stikstof wat deur sojabone in die grond agtergelaat word, kan voordelig wees vir grondgesondheid en vir die inkomende mielie-oes wat geplant word sodra die eerste reëns in Oktober val. Onkruid- en siektebestuur vir die twee gewasse vereis verskillende chemiese toedienings, wat die risiko van weerstand verminder. Die sojaboonoes neem gewoonlik in Maart ’n aanvang: Benewens die feit dat dit ’n vroeër kontantvloei verseker, word die beskikbare grondvog so optimaal benut en laat dit die toe­diening van kalk toe tesame met die diep skeurploeg van die grond terwyl die toestande ideaal is. Voortdurende navorsing en proewe word op die plaas gedoen, met data wat aan belangstellende bure beskikbaar gestel word. Die Allens is altyd oop vir advies en idees wat boerderypraktyke kan verbeter.

Die plaagbeheerstrategie op hierdie plaas is omvattend en metodies. Vir die bestuur van algemene plae word kontrolestra­tegieë tydens planttyd toegepas om effektiewe uitroeiing in beide mielies en sojabone te verseker. ’n Opvolgtoepassing word na plant in mielies gedoen om beheer te behou, en indien nodig in sojabone. Deurlopende monitering gedurende die groeiseisoen verseker dat geen addisionele behandelings nodig is nie. Chemiese hantering en veiligheid word streng bestuur met noukeurige rekordhouding. ’n Selfaangedrewe spuit word gebruik vir opvolgtoedienings. Hommeltuie word benut om later onkruidbesmettings en besmette areas te verken, wat presiese en geteikende behandeling moontlik maak. Die plaas se onkruid-
beheerstrategie behels ’n deeglike keuse van produkte gebaseer op hul prestasie in hul spesifieke boerderypraktyke. Die Allens hou by presiese spuitprosedures en maak gebruik van goed gekalibreerde masjinerie om die risiko van weerstand te minimaliseer, alhoewel uitdagings steeds ondervind word.

G&M Farming Enterprises se finansiële bestuurpraktyke fokus op deeglike finansiële beplanning en effektiewe rekordhouding. Die sleutel tot hul sukses berus daarop om te verseker dat fondse beskikbaar is wanneer nodig, om markwaardes te evalueer om winsmarges te maksimeer en om aan te pas by moderne tegnologie om doeltref-
fendheid te verbeter. Hul benadering tot rekordhouding behels ’n toegewyde finansiële bestuurder wat nou saam met ’n ouditeur werk om daaglikse rekonsiliasie van finansiële transaksies en batewaardasies op datum te hou. Gerekenariseerde boekhoudingstelsels maak opdaterings van kontantvloei deurentyd moontlik en verskaf akkurate verslae, wat noodsaaklik is vir tydige en ingeligte finansiële besluite. Hierdie sistematiese benadering verseker dat finansiële besluite doeltreffend en gebaseer op betroubare data geneem word.

Die plaas se meganisasiebestuur fokus op deeglike instandhouding en doeltreffende wer­king van die toerusting. Alle dienste en herstelwerk aan trekkers word deur ’n handelaar gedoen, met gedetailleerde rekordhouding. Dieselgebruik word by elke vulpunt opgeteken, en alle trekkers is toegerus met ’n aanlyn, wolkgebaseerde en intydse moniteringstelsel wat werk, ligging, probleme en instellingsdata opneem. Die planter, stroper en grondbewerkingstoerusting word as noodsaaklik beskou – die Allens prioritiseer die gebruik van groter hoëprestasiemasjiene om seker te maak take word vinnig en effektief voltooi.

Alle toedienings-, bewerkings- en oesdata word opgeneem en op ’n aanlynstelsel van Case IH gestoor.

G&M Farming Enterprises het ’n sterk arbeidsmag wat ’n belangrike deel van hul daaglikse bedrywighede vorm, aangesien hulle aktief by werknemers betrokke is. Idees of alternatiewe metodes word ondersoek en geïmplementeer sou dit voordelig wees vir bedrywighede.

Die Allens se bemarkings- en verskansingspraktyke is ontwerp om munt te slaan uit hul nabyheid aan witmieliemeulens en sojaboonverwerkingsaanlegte. Deur vinniger variëteite te plant en effens vroeër te oes, kry hulle ’n vraagvoordeel, wat hulle in staat stel om vroeë premies vir hul produkte te verseker. Hulle werk tipies met lojale kopers en stel soms pryse voor die seisoen vas as marktoestande gunstig is. Hulle bly ingelig deur verskeie bronne te monitor, insluitende nuus, oesdata en weerpatrone, en monitor daaglikse CBOT- en Safex-pryse en -tendense. Strategiese beplanning word intern gedoen, maar hulle raadpleeg ook medeprodusente en makelaars vir addisionele insigte. Die Allens bedryf silo’s op twee plekke om stroperdoeltreffendheid te handhaaf en afhanklikheid van vervoerkontrakteurs te verminder deur hul eie vragmotors vir die meeste graanlewerings te gebruik. Hulle vermy gewoonlik langtermynberging om risiko’s te versag en te verseker dat hul graan op ’n optimale tyd geprys kan word.

Beide Michael en Gareth speel ’n aktiewe rol in georganiseerde landbou en is nou betrokke by hul plaaslike boere-unie as onderskeidelik voorsitter en sekretaris. Hul mening oor die landboubeleidsomgewing is optimisties en die Allens staan bankvas agter organisasies wat toegewyd is tot die bevordering van ’n gesonde landbou-omgewing. Ondanks uitdagings, is die Allens opgewonde oor ’n positiewe uitsig vir die toekoms van landbou, gedryf deur substansiële beleggings deur verskeie landbou-
maatskappye en -organisasies. Hulle het nog altyd geglo in die belangrikheid van passie vir hul boerderybedrywighede, die ondersteuning van hul gemeenskappe en deelname aan georganiseerde landbou.

Jean van Niekerk, Caledon

Jean het in 2003 die leisels oorgeneem en met Wolfkraal Landgoed voortgegaan, waar Jean tot op hede op die pragtige Tierfontein voortbou.

Die Tierfontein-opstal, geleë naby Caledon in die Overberg, is die tuiste van Jean en Ilze van Niekerk en hul twee dogters. Jean het in 1993 as bestuurder op Chavonnes, ’n graan- en skaapplaas in die Caledon-distrik, begin boer. Met twee landboudiplomas van Elsenburg-landboukollege, was daar na sy studies ’n loopbaangeleentheid op sy pa se plaas, alhoewel dié sterk daaroor gevoel het dat Jean eers by iemand anders onder-
vinding moes gaan opdoen. Dié wyse besluit het die jong Jean vinnig selfstandigheid geleer en ongelooflike insig gebied oor hoe ander produsente se opset lyk.

In 1995 het Jean en sy pa saam met graan en skape op Tierfontein, Lemoenskop en Boomplaas begin boer. Na sy pa se aftrede in 2003, het Jean die leisels oorgeneem en met Wolfkraal Landgoed voortgegaan.

Hy verbou koring, gars en kanola op ongeveer 1 800 ha droëland en plant verder lusern aan as weiding. Op van die plase word ’n stelsel van vyf jaar lusern, gevolg deur ses jaar se kontantgewasse toegepas. Op ander plase word gewasse sonder oorlê verbou, met die wisselboupatroon afhangend van die hoeveel onkruid in die onderskeie kampe. Die verskeidenheid van gewasse word aangeplant om risiko te verminder, met ongeveer die helfte koringaanplantings, aangesien dit ’n laer risiko as gars het en jaar op jaar meer voorspelbare opbrengste lewer. Kanola word grotendeels vir onkruidbeheer aan-
geplant. Jean kan uit ondervinding getuig dat ’n goedbestuurde wisselboustelsel ’n merkwaardige daling in die voorkoms van onkruid tot gevolg het. Aangesien die meeste siektes gewasspesifiek is, werk die afwisseling van gewasse ook om siekte­druk te verminder.

Die gronde se potensiaal word ten volle benut sonder om hulpbronne te ontgin en daar word hoofsaaklik op die regulering van die pH, fosfaat, stikstof, kalium en koolstof, gefokus. Kalk en fosfaat word veranderlik toegedien, terwyl stikstoftoediening deur die hoe­veelheid reën bepaal word. Geenbewerkingspraktyke het die koolstof in die grond na 2% laat styg en vogbewaring verseker. Oesreste word op die lande gelos om verder die biodiversiteit van die grond te bevorder, wat terselfdertyd tot die hoër koolstof-
inhoud bydra en kanse vir spoelskade verminder. Jean voorkom ook dat die grond se voedingstowwe uitgeput word deur 15% meer terug in die grond te sit as wat afgehaal word. Daar word altyd op dieselfde lyn geplant, gespuit en bemes om oorvleueling uit te skakel. Verder word ruitpatroonontledings gedoen. Jean beplan om in die toekoms opbrengskaarte te gebruik in die bestuur van grond as hulpbron om volhoubaarheid na te streef.

Jean verbou koring, gars en kanola op ongeveer 1 800 ha droëland.

Kultivarkeuse word gemaak na aanleiding van opbrengs, opbrengs, en nogmaals opbrengs! Kultivars word ook gekies volgens weerstand teen siekte en groei­lengte, waarvan kort en lang groeiers om die helfte geplant word. Grootskaalse proewe word in samewerking met saadverskaffers geplant en sluit ondersoeke na plantdigtheid en plantdiepte in. Meer onlangs is ook proewe rakende stikstoftoediening gedoen om die voordeligheid van toediening met plant teenoor die helfte met plant en die ander helfte as bobemesting, te bepaal. Opbrengsmikpunte word uit ’n realistiese oogpunt benader – nadat al die basiese beginsels toegepas is, is reënval steeds die finale faktor wat opbrengs bepaal. Uit jare se reënvalmonitering vergeleke met opbrengs, het Jean afgelei dat elke millimeter reën in die groeiseisoen tot ’n 12 kg opbrengsverhoging in die koringoes tot gevolg kan hê in ’n jaar met ’n gemiddelde reënvalpatroon. Hy ag dit belangrik om as produsent met ander kundiges saam te werk om sodoende nuwe kennis op te doen en voortdurend verbetering na te streef.

Plaagbeheer word toegepas vir wit- en bruinroes en Russiese koringluis op die koring, vir netvlek op die gars en vir slakke, Sclerotinia en ruitrugmot op die kanola. Plae en siektes word chemies beheer en met ’n hoogloopspuit met ’n koolstofveselspuitbalk toegedien. Hierdie nuwe ontwerp is ligter, meer stabiel en lei tot egalige toediening en beter bedekking. Kampe word weekliks geïnspekteer en gifstowwe word afgewissel weens weerstandbiedendheid wat kan opbou. Swamdoders word voorkomend gespuit, aangesien dit in dié gebied te nat kan raak om in die kampe in te kom. Jean plaas klem daarop om gifstowwe te gebruik wat sover moontlik nie skade aan die omgewing aanrig of voordelige mikrobes vernietig nie. Onkruid bly ’n uitdaging en gedurende die reënseisoen selfs meer – raaigras word weens weerstandigheid al hoe moeiliker om te beheer. Alhoewel helikopters ingespan word vir bespuiting in kampe wat té nat is, is dit nie naastenby so effektief nie. Hommeltuie se gebruik is ook uitgeskakel weens die oneffektiewe toediening in die omgewing, waar variërende hellings in ’n enkele kamp ondervind word.

Die veefaktor behels meer as 2 000 produserende ooie vir ’n wol- en vetlampro-
duksiestelsel met ’n totaal van gemiddeld 5 000 skape. Geen veld word vir weiding gebruik nie. Jean beplan om in die toekoms meer van sy produserende ooie te verminder en so­doende minder te voer. Veevoer is ’n groot uitgawe en dieselfde winsbedeling kan uit die veefaktor verkry word deur van aangeplante weiding gebruik te maak.

Die veefaktor behels meer as 2 000 produserende ooie vir ’n wol- en vetlamproduksiestelsel met ’n totaal van gemiddeld 5 000 skape.
Meganisasie word noukeurig bestuur, met diensintervalle wat op elke masjien aangedui word en dieselrekords wat op Africlock bygehou word.

Finansiële bestuur word met dissipline gehandhaaf vir fi­nansiële sukses. Maandelikse begrotings word opgestel en onbeplande uitgawes word in ag geneem. Jean het ’n kundige boekhouer met kennis en ondervinding van die boerderyopset in die distrik en die boerdery word as ’n besigheid bestuur. Alle beplanning word gebaseer op grond van vorige rekords, wat tweeweekliks nougeset nagegaan word. Jean bedryf ’n eenvoudige maar effektiewe sisteem. Tendense word sorgvuldig bestudeer en aankope word elektronies aangeteken. Sy daaglikse besluitneming is geskoei op sigbare suksesse van vorige rekords, met die begroting in ag geneem.

Meganisasie word noukeurig bestuur, met diensintervalle wat op elke masjien aangedui word en dieselrekords wat op Africlock bygehou word. Kleiner masjinerie word vervang as die onderhoudskoste te hoog raak, en planttrekkers word op 5 000 uur vervang. Stropers en platsnyers word elke tien jaar vervang, maar met die gebruik van kontrak-
teurs word die implemente se lewensduur verleng en word hul waarde langer behou. Oeskontrakteurs word slegs gebruik om risiko te verminder wanneer daar te min kapasiteit by die stropers is.

Wolfkraal Landgoed het ’n klein maar gedugte span voltydse arbeiders, met deeltydse arbeiders wat vir die skaap aangewend word. Dag-tot-dag-besluitneming in die skaap-
afdeling is die voorman se verantwoordelikheid en Thys Lourens, die bestuurder, is verantwoordelik vir die graan­aspek van die boerdery met alle finale besluite wat deur Jean geneem word. Die bestuurspan word jaarliks op ’n beroeps­gesondheid- en veiligheidskursus gestuur.

Jean bemark sy koringoes by WKG. Die kanola word direk by Soill bemark volgens hul minimumprysmetode. Na oestyd word die gars deur Nexgro bemark, BKB is verant-
woordelik vir die wolbemarking en eksterne raadgewers word geraadpleeg as deel van Jean se bemarkingstrategie. Hy glo in suksesvolle groepsbediening waar lede enerse besigheidsbeginsels deel.

Plae en siektes word chemies beheer met ’n hoogloopspuit met ’n koolstofveselspuitbalk.

As ondervoorsitter van Caledon-Noord se landbouvereniging, is Jean nou betrokke by georganiseerde landbou sowel as die plaaslike hoërskool se landbou-afdeling. Hy is in 2011, toe hulle nog met vleismerino’s geboer het, aangewys as die algehele wenner van die CMW-kuddekompetisie.

Jean glo dat bemagtiging suksesvol kan wees vir individue wat vertroud is met landboupraktyke om sodoende ingeligte besluite te neem, tesame met die betrekking van kundige produsente in die distrik. Georganiseerde landbou, as spreekbuis van die produsent by die regering, is belangrik vir toekomstige verteenwoordiging op nasionale vlak. Dienooreenkomstig is Jean oortuig dat graanboerdery selfs meer winsgewend kan wees met meer navorsing gerig op die teel van kultivars wat beter opbrengste lewer. Hy voel ook sterk oor die behoefte aan ’n oesversekeringsmodel, veral met lae wins­grense en onvoorspelbare weeruiterstes op die voorstoep. Vroeër jare het hoër winsgrense dit moontlik gemaak om na ’n misoes vinnig te herstel, maar vandag is dit bykans on-
moontlik en is staatsubsidie broodnodig om met buitelandse produsente mee te ding.

Langtermynbeplanning vir Wolfkraal Landgoed sluit in om ideaal gesproke minder van huurgrond afhanklik te wees. Jean se visie vir die landbousektor in Suid-Afrika is dat nuwe jong produsente landbou met dieselfde passie en ywer sal aanpak vir die geslagte wat kom. Vir elke nuwe individu wat die sektor betree, hoop het vir landbou in Suid-Afrika en terselfdertyd streef na volhoubaarheid, wag daar ’n blink toekoms.

Pieter van Zyl, Schweizer-Reneke

Pieter van Zyl en sy seun, PG (links), bedryf PGL Boerdery wat witmielies en sojabone op ongeveer 12 300 ha droëland, met ’n addisionele 6 200 ha wat vir weiding aangewend word, verbou.

Pieter van Zyl het in 1983 saam met sy pa tussen Wolmaransstad en Schweizer-Reneke begin boer. Sy liefde vir die boerdery het reeds op skool begin, en het hy die kans om 150 ha grond te huur met albei hande aangegryp. In 1984 is Pieter met Hettie getroud en met skoonpa Lodewyk Fourie se hulp het hy 1 500 ha grond van hom gehuur, met ’n deel van 25% van die oes as finansiering.

Later het Pieter, met skoonpa se hulp, grond gekoop, insluitend die plaas waar hy vandag nog boer. Ondanks die uitdagings van die droogte in die 80’s, het dit vir hom nuwe geleenthede gebring, en met harde werk het Pieter daarin geslaag om grond te huur en te koop. Sy seun, PG, het eers vir sewe jaar alleen geboer en in 2005 by die boerdery aangesluit. Hulle werk nou saam as vennote, waar PG die meeste van die dag-tot-dag-bestuur hanteer en 30% van die lande en toerusting besit. PG bestuur ook die dag-tot-dag-bedrywighede terwyl die pa-en-seun-span gesamentlik die beplanning en bemarking besit.

PGL Boerdery verbou witmielies en sojabone op ongeveer 12 300 ha droëland, met ’n addisionele 6 200 ha wat vir weiding aangewend word. Die Van Zyls boer op taamlike goeie gronde, maar dit het bloedsweet en genade geneem om deur die jare die swakker gronde opgebou te kry tot waar dit vandag is. Die veefaktor behels ’n kommersiële beeskudde vir speenkalfproduksie. Die Van Zyls het ook ’n wildstoet op Uurpan Lodge.

Witmielies en sojabone is hul eerste gewaskeuses en alhoewel graanpryse ’n groot rol speel, is die praktiese implikasie daarvan om praktyke en stelsels jaarliks te verander, nie altyd moontlik nie. Witmielies, die Van Zyls se hoofgewas, beslaan 60% tot 70% van die lande, terwyl die grond se chemie in balans gehou word deur wisselbou met sojabone. Van die huurlande met goeie chemiese balans word ook met sojabone afgewissel. Wanneer die ondergrondse vog of die graanprys laag is, verkies die Van Zyls om lande te laat rus eerder as om te plant. Sedert 2000 karteer hulle die gronde, met 25% van lande wat jaarliks gekarteer word met variërende toediening van kalk na behoefte. Chemiese aanbe­velings word aangepas gebaseer op hul langtermynkennis van die grond. Pieter en PG gebruik grondvog en stroperopbrengskaarte oor vyf jaar, grondtipes, weervoorspellings en hul eie insig om die bemestingsplanne vir die volgende jaar te bepaal.

Bewerkingspraktyke behels onder andere om direk ná strooptyd onkruid met hoogloopspuite te beheer om vog te bewaar. Met ’n Turbo Max-skottelimplement word vermorste saad lig ingesny om opslaggraan en onkruid gelyk op te kry. Daarna volg die ripper tussen die vorige jaar se rye, wat gebruik word om te voorkom dat die hele land gerip word. Die rippers het vooroopmakers, toemakers en rollers om ’n skoon saadbed te vorm, met stronke weerskante van die ry. Voorplanters plaas kunsmis op ’n diepte van 250 mm om dit by die nat wortels te kry en ’n goeie saadbed te vorm, waarin selfs met min reën suksesvol geplant kan word. Chemiese beheer word voor plant, voor opkoms en voor die agtblaarstadium toegepas om lande skoon te hou, met spore wat oopgelaat word om die bewerkings­proses te vergemaklik.

Bewerkingspraktyke behels onder andere om direk ná strooptyd onkruid met hoogloopspuite te beheer om vog te bewaar.
Hulle meganisasievloot vereis ’n omvattende stelsel om die trekkers, spuite en stropers te bestuur.

Presisieboerdery word al vir 25 jaar toegepas en was seker die mees suksesvolle stap met die grootste invloed op die Van Zyls se boerdery. Die variërende kalk, bemesting en saad, die regstel van spesifieke probleemkolle en die stuurstelsel is alles dinge waar-
sonder die graanprodusent nie meer kan nie, is Pieter se siening. Die bemestingsbeleid bepaal dat 25% van die lande elke jaar met kalk behandel word. Chemiese kunsmis word toegedien op grond van die plant se behoeftes en die voedingsonttrekking van die vorige jaar se oes. Witmielielande wat die volgende jaar met sojabone beplant word, kry ekstra fosfaat om die grond se behoefte aan te vul. Bemestingsaanbevelings word voorsien, waarna die Van Zyls dit aanpas gebaseer op hul eie kennis en ervaring van die grond.

Kultivarkeuse word geskoei op jarelange ondervinding, met droogtebestandheid, siekteweerstand, kwaliteit, en natuurlik opbrengs, die vernaamste faktore wat oorweeg word. Proewe word self jaarliks uitgevoer en die Van Zyls neem streeks- en omgewings­proewe in ag wanneer kultivars gekies word. Dekalb, Pioneer en ander bekende maatskappye neem ook deel aan boeredae, en chemiese proewe word gereeld deur bekende handelsname gedoen. Die Van Zyls vind dit moeilik om op grond van net een jaar se data groot veranderinge te maak en historiese data speel dus ’n belangrike rol. Met sojabone verkies hulle om vier verskillende soorte met verskillende groeilengtes te plant wat sodoende ook die stroopproses vergemaklik.

Pieter en PG stel realistiese opbrengsmikpunte deur die laaste vyf jaar se stroperop-brengskaarte saam met grondpotensiaalkaarte, beskikbare grondvog, langtermyn-
weervoorspellings en hul eie ervaring van die grond in ag te neem. Hulle ken hul grond goed en weet wat om in sekere jare te verwag. Wat wisselbou betref, plant hulle jaarliks tussen 30% en 40% sojabone op lande met die regte chemiese balans. Die wisselbou met sojabone en witmielies werk goed, aangesien albei Roundup Ready is, wat vroeër bewer­kings en plant moontlik maak en ’n groot verhoging in opbrengs tot gevolg het.

In die Van Zyls se graanboerdery is die belangrikste plae bolwurm, stronkboorder, snywurm en aalwurm. Hierdie plae word beheer deur middel van chemiese middels en BT-gene. Wat veiligheidsmaatreëls betref, word chemikalieë ten alle tye in geslote houers geberg, met duidelike waarskuwingstekens en etikette asook rekordhouding in ’n register. Die chemikalieë word toegedien deur middel van bespuiting en toedie-
ningsbakke wat op die planters aangebring is. Onkruidbeheer word veral toegepas op jongosgras en kankerroos op die mielies, en ook wilde-ertjie op die sojabone, met beheer wat toegedien word met die hoogloopspuit voor plant, voor opkoms, voor die agtblaarstadium of voor blom.

Die boerdery se finansiële sukses word toegeskryf aan korrekte plantpraktyke soos wisselbou en voortdurende aanpassing na gelang van veranderende omstandighede. Die Van Zyls evalueer grond, produkte en toerusting deurlopend, terwyl kostebestuur gefasiliteer word deur bestellingsisteme, WhatsApp-goedkeuringsgroepe en gereelde prysvergelykings. Graanbemarking word gedoen via verskeie platforms, met deeglike navorsing oor prystendense en oorweging van verskeie faktore wat pryse beïnvloed. Jaarlikse begrotings word opgestel wat alle aspekte van die boerdery dek en na elke seisoen word koste met vorige jare vergelyk om afwykings te identifiseer. Rekordhou-
ding is omvattend en sluit personeel, vlootlyste, versekering, grond en permitte in. Gereelde uitgawes soos olie, diesel en produksiemiddele word op rekenkundige rekords verwerk om historiese verbruikspatrone te skep vir beter bestuursbesluite en volume-aankope. Verskeie stelsels word vir die finansiële bestuur van die besigheid gebruik. Hierdie intydse bestuursinligting stel die Van Zyls in staat om meer berekende besluite te neem en beter pryse te beding deur onmiddellike toegang tot syfers en markdata.

Graan word opgeberg wanneer dit voordelig is, maar slegs ’n klein persentasie word in hul plaassilo’s gestoor.

Hulle meganisasievloot vereis ’n omvattende stelsel om die trekkers, spuite en stropers te bestuur. Volledige rekords van hul meganisasie word op ’n wagwoordbeperkte webwerf gehou, waar alle inligting oor voertuie en implemente gestoor word. Personeel wat met die vloot werk, het toegang tot hierdie vlootlys en die werktuigkundige monitor en bewaar alle waarborge, dienste en ander meganiese besonderhede van die vloot-
toerusting. Noodsaaklike toerusting, soos planters en presisietoerusting, kry voorkeur vir vervanging, veral wanneer beter produkte beskikbaar is. Die Van Zyls probeer groot trekkers, spuite en stropers vervang tussen 5 000 en 6 000 ure, afhangende van die winsgewendheid van die oesjaar en die transaksie. Groot trekkers word nie nood-
wendig almal in een jaar vervang nie, en daar word nie van kontrakteurs gebruik gemaak nie.

Pieter en PG het ’n sterk arbeidsmag op die plaas met ’n groot hoeveelheid deeltydse arbeiders wat wissel na gelang van die seisoen tydens plant- en oestyd. Oor die afgelope vyf jaar was die arbeidsomset minimaal. Die topbestuur neem aktief deel aan besluitneming en die res van die personeel word ingelig oor beplannings. Die Van Zyls en hul werknemers is vertroud met die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid en hulle het ’n maatskappy aan­gestel om hulle by te staan met opleiding en veiligheid op die plaas.

Die bemarking en verskansing van hul produkte is uiters afhanklik van korrekte inligting, wat daagliks verander. Om op hoogte te bly, versamel hulle inligting van groot internasionale en plaaslike bemarkers. Dit is vir hulle belangrik om ’n konsekwente standpunt in te neem, eerder as om daagliks van plan te verander. Hulle voer gereeld hul eie oesskatting uit en deel dit met medeprodusente. In ’n normale jaar verskans hulle ongeveer 30% van hul produkte voor en tydens planttyd, met verdere verskansing rondom Februarie, afhangende van die oesgrootte. Daar is hierdie seisoen vroeg begin om opsiekontrakte uit te oefen. Die kontrakte was kort (verkoop) op Corn en lank (koop) op Safex-witmielies. Die grootste uitdaging bly om wins te neem en die mark te verlaat. Verskeie inligtingsbronne word vir bemarking en verskansing gebruik. Bo en behalwe die internasionale en plaaslike bemarkers, gebruik hulle ook langtermynweervoor-
spellings en Graan SA se inligtingstukke. PG en hul rekenmeester, Heidi, speel ook ’n aktiewe rol in die bemarkingstrategie deur daagliks grafieke en inligting by te hou. Graan word opgeberg wanneer dit voordelig is, maar slegs ’n klein persentasie word in hul plaassilo’s gestoor.

Pa en seun speel ’n aktiewe rol in landbou-organisasies met leidende posisies in hul plaaslike gemeenskap. Benewens Weeg-en-Wen- en Groei-vir-Goud-toekennings, in 2018 en 2019 en met ’n mielie-opbrengs van 13,79 t/ha in 2020, is Pieter se betrokkenheid en prestasies in die sektor beklemtoon deur vele ander organisasies. Veiligheid in die distrik is vir die Van Zyls uiters belangrik, en daarom het hulle ’n moniteringsbesigheid en ’n plaaswag-sekuriteitstelsel begin, asook noodradio’s beskikbaar gestel vir kwalifiserende lede van die gemeenskap. Hulle gemeenskapsbe-
trokkenheid is verreikend. Jaarliks word die saad en chemie deur Bayer Dekalb, Pioneer en ander maatskappye kosteloos voorsien en die opbrengs word dan aan skole geskenk. Mediese dienste word gefasiliteer en sportgeriewe, soos ‘n sokkerveld op die plaas, word gebied om die welstand van hul personeel en hul gesinne te bevorder.

Wanneer dit kom by die beleidsomgewing, is Pieter ’n voorstander van sosiale en ekonomiese ontwikkeling. Hulle het ’n plaaswerkerstrust gevorm met ’n 30%-aandeel in hul delwerspermitte en het ook reeds ’n weidingsplaas van ongeveer 2 000 ha aan die staat verkoop. Pieter glo wel dat dit gepaard gaan met uitdagings, maar dat ’n winsde-
lingsmodel ’n beter benadering kan wees. Georganiseerde landbou, en Graan SA spesifiek, speel ’n deurslaggewende rol in die toekoms van hul boerdery. Dié lede-organisasie, as die enigste landbouspreekbuis wat help om die rigting van die graan-
bedryf te bepaal, help met sake soos nuwe tegnologie, uitvoerprobleme en die korrekte berekening van graanvoorraad. Hulle beskou die toekoms van landbou in Suid-Afrika as positief – met nuwe tegnologie en opkomende jong produsente is daar ’n blink toekoms vir die graanbedryf.


Vir die winsgewendheid van die bedryf is Pieter se visie gesetel­ in korttermynoplossings soos meer akkurate weervoorspel­lings, goedkoper insetkoste en verbeterde saadtegno-
logie. Op lang termyn is sy hoop dat groot internasionale maatskappye samewerkings-
ooreenkomste met produsente sal aangaan, waar die maatskappy insetkoste en salarisse voorsien, terwyl die produsent grond, infrastruktuur en bestuur bied. Dit sal die risiko vir produsente verminder en ’n meer volhoubare winsmodel skep.

Die Van Zyls se langtermynbeplanning vir die volgende vyf jaar fokus daarop om grondchemie te balan­seer, bemarking te verbeter, besparing op insetkoste te bewerk­stellig en die ontwikkeling van beter infrastruktuur vir graanproduksie. Verder sluit die beplanning die verruiling van gronde met laer poten­siaal vir gronde met hoër poten-
siaal in – met die uiteindelike doel om meer winsgewend te boer.