Dieselprys op laagste vlak in 15 maande

Gepubliseer: 2 Oktober 2024

53
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Vir die maand van Augustus 2024 het oliepryse gemiddeld teen $78,70/vat verhandel. Dit het gelei tot ’n verlaging in die brandstofprys vir September 2024. Die basiese dieselprys, oftewel die werklike koste van diesel, het tot R11,26/liter gedaal in September vanaf R12,05/liter in Augustus. Hierdie pryse volg op rekordpryse wat in 2022 gesien is, maar onlangs ’n afwaartse tendens toon weens laer oliepryse sowel as ’n sterker rand.

Werklike data vir die 2019/2020-seisoen toon dat brandstof naastenby 10% van produsente se totale koste uitmaak. Brandstofpryse het jaar op jaar vanaf September 2023 na September 2024 met 15% gedaal.

Hoe die dieselprys bepaal word
Die bepaling van die brandstofprys is nie ’n konsep waarmee die meeste Suid-Afrika­ners bekend is nie. Die aankoop van petroleumprodukte op die internasionale mark teen invoerpariteit en die vervoer daarvan is die grootste faktore wat die basiese brandstofprys opmaak. Hierdie twee faktore word sterk deur die internasionale olieprys en die rand/dollar-wissel­koers beïnvloed. Die regering voeg belasting en heffings by tot die basiese brandstofprys. Hier volg ’n uiteensetting van die groothandelprys van diesel 0,05% S van R19,59/liter (soos aangeteken op 4 September 2024).

Die “Ander”-segment bestaan uit die groothandelmarge, opberging en verspreiding asook die vervoermarge.

  • Basiese brandstofprys: R11,26/liter (57%)
  • Belasting en heffings: R6,07/liter (31%)
  • Ander: R2,26 (12%)

Grafiek 2 toon die prysverandering van die olieprys (indeksbasis), basiese dieselprys (werklike koste van diesel) en die groothandeldieselprys vanaf Februarie 2014 tot Augustus 2024. Die grafiek toon ’n duidelike korrelasie tussen die verandering in die olieprys en ’n gekorreleerde verandering in die basiese dieselprys. Die korrelasie tussen die olie- en groothandeldieselprys is 66% vanaf Januarie 2021 tot Augustus 2024. Die afwyking van die gelande dieselkoste en groothandeldieselkoste kan verduidelik word deur die veranderinge in heffings, belasting, vervoer en groothandelsmarges.

Grafiek 1: ’n Uiteensetting van die groothandelprys van diesel.
Bron: Sentrale Energiefonds en Graan SA
Grafiek 2: Grafiek wat die verandering in pryse van ruolie, gelande diesel en groothandeldiesel in indeksvorm aandui vanaf Februarie 2014 tot Augustus 2024.
Bron: Graan SA

Belasting en heffings
Die twee grootste heffings is die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefonds-heffing.

Die algemene brandstofheffing is ’n heffing op elke liter brandstof en het in die 2019/2020- fiskale jaar R80 miljard gegenereer wat gelykstaande is aan omtrent 6% van die totale nasionale belastinginkomste. Hierdie heffing vloei in die Nasionale Inkomstefonds in. ’n Gedeelte daarvan word geoormerk vir verdeling tussen Suid-Afrika se agt metro-munisipaliteite. In die 2019/2020- fiskale jaar is gesamentlik R13,2 miljard aan die munisi­paliteite uitbetaal.

Tans staan die Padongelukkefonds-heffing op R2,18/liter. Dit het vir die 2019/2020- fiskale jaar R41,2 miljard gegenereer.

Grafiek 3 toon die verhouding tussen die beweging van gelande koste van diesel en die beweging van heffings en belasting. In die jaar 2000 was die groothandelprys van diesel R3,00/liter. Van hierdie R3,00 was slegs 26% belasting. Die persentasie van heffings en belasting is groter in tye wanneer brandstofpryse laag is, maar die teenoorgestelde is ook waar.

Grafiek 3: Beweging van die gelande koste van diesel teenoor die totale heffing op diesel.
Bron: Graan SA

Grafiek 4 dui die toename in die basiese brandstofprys, die algemene brandstofhef­fing, die Pad­ongelukkefonds-heffing en ander bydraende faktore as gemiddelde jaarlikse indekse aan. Dit is duidelik uit die grafiek dat die belasting en heffings konstant sterk toeneem, ongeag die basiese brandstofprys. Die Padongelukkefonds-heffing het met 482% toegeneem sedert 2008 en die algemene brandstofheffing met 350%. Die basiese brandstofprys het in dieselfde tydperk met 187% toegeneem.

Grafiek 4: Die dieselprys as indeks voorgestel.
Bron: Graan SA

Gevolgtrekking
Vele verkeer onder die wanindruk dat brandstofpryse nie korrek aangepas word nie. Dit is egter nie die waarheid nie. Soos gesien in Grafiek 1, is daar ’n duidelike verhouding tussen die brandstofprys en die olieprys. Die groot teenstrydigheid is belas­ting en heffings en die beduidende effek wat dit op die groothandelprys van brandstof het. Hierdie effek kan deur produsente verminder word deur getrou boek te hou van die brandstof wat hulle verbruik om so die dieselrabat vir produsente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens af terug te eis. Die waarde van hierdie rabat wat teruggeëis kan word, is R3,66/liter.