NAMPO Kaap 2024 – ’n baken vir die landbougemeenskap

Graan SA en Bredasdorp Park NPC
Gepubliseer: 17 September 2024

117

NAMPO Kaap 2024, aangebied deur Graan SA in samewerking met Bredasdorp Park NPC, het nog ’n suksesvolle ekspo van 11 tot 14 September afgesluit. Die vierdag-geleentheid het 45 894 besoekers gelok en innovasies van oor die hele landbousektor ten toon gestel. Dit het sy posisie verstewig as ’n noodsaaklike platform vir bedryfslui, -rolspelers, produsente en die breër gemeenskap om die nuutste tegnologie te verken, huidige uitdagings te bespreek en die toekoms van landbou te vier.

Die ekspo, wat sy vyfde bestaansjaar gevier het, het met die tema “Landbou: die Ruggraat van Ekonomiese Groei” gefokus op die belangrike rol wat die landbousektor speel in die bevordering van beide die nasionale en globale ekonomie sowel as voedselsekerheid. Henk Aggenbach, voorsitter van Bredasdorp Park NPC, het die ekonomiese hupstoot wat die ekspo vir die streek bring, uitgelig: ’n geskatte R15 tot R25 miljoen is bygedra tot die plaaslike ekonomie en meer as 100 werksgeleenthede is tydens die ekspo in die Overberg-distrik geskep.

John Steenhuisen, die Minister van Landbou, het op Vrydag 13 September ’n blitsbesoek aan NAMPO Kaap gebring. Tydens sy kort toer deur die ekspo het die minister ’n paar sleutelgesprekke met vennote gehad, maar kon hy bowenal die gasvryheid en atmosfeer terdeë geniet.

’n Kenmerk van die geleentheid was die diversiteit van uitstallers en die programaanbieding. Met meer as 600 uitstallings en ’n nuwe rekord van 542 uitstallers, het NAMPO Kaap die nuutste tegnologie, masjinerie en landbouprodukte aan die Wes-Kaapse gemeenskap en ander besoekers gebied. Die uitbreiding van die uitstalruimte met 38 bykomende erwe het die verhoogde vraag na ruimte bevredig, terwyl die nuutste landboumasjinerie en -tegnologie, insluitend battery-aangedrewe voertuie, op ’n spesiale demonstrasiebaan ten toon gestel is.

Een van die hoogtepunte was die Skaaphond-ekspo, wat saam met die Suid-Afrikaanse Skaaphondvereniging aangebied is. Besoekers kon skouklasse en veilings bywoon, terwyl die Toyota- Nasionale Jongafslaerskompetisie ook vir groot opwinding gesorg het. Vermaak en kulturele vertoonvensters was verdere sleutelhoogtepunte, met daaglikse optredes deur die Suid-Afrikaanse Lipizzaners asook ’n lewendige Fynbosfees, wat die streek se unieke plantbiodiversiteit vertoon het.

Benewens tegnologie, het jeugbetrokkenheid die middelpunt ingeneem. ’n Spesiale skoolprogram wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou aangebied is, het praktiese leerervarings gebied aan 500 leerders van 30 skole om hul akademiese kurrikulums aan te vul. Die Overberg-streekjeugskou, wat op die laaste dag plaasgevind het, het geleenthede gebied vir jong deelnemers om hul vaardighede oor verskeie landboudissiplines ten toon te stel.

“Landbou strek verder as net produksie. NAMPO Kaap speel ’n sleutelrol in die bevordering van landelike ontwikkeling en sosiale groei. Deur ons produsente met moderne tegnologie en kennis te bemagtig, kan ons produktiwiteit en inkomste verhoog. Verder skep die integrasie van landbou met sektore soos hernubare energie en biotegnologie nuwe geleenthede vir ekonomiese diversifikasie en innovasie. Dit dra by tot ’n meer volhoubare en robuuste landbousektor vir die toekoms,” het dr Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO (Edms.) Bpk, gesê.

NAMPO Kaap 2024 het sy doelwit bereik om ’n platform vir netwerkvorming, innovasie en die uitruil van kennis te skep en bly ’n belangrike bymekaarkomplek vir Suid-Afrika se landbougemeenskap, wat beide huidige en toekomstige generasies produsente inspireer.

Die datums vir volgende jaar se NAMPO Kaap is vasgestel van 10 tot 13 September 2025 op Bredasdorp Park. Besoek www.nampokaap.co.za vir meer inligting of volg ons op sosialemedia-platforms.