Vroeë SONNEBLOM kan baie voordele vir produsente inhou

190

Sonneblom is een van die somergewasse wat die minste sensitief is vir plantdatum en daarom kan die gewas met groot sukses vroeg én laat in die hoofproduserende sonneblomgebiede aangeplant word. Suid-Afrika se somersaaigebiede plant jaarliks ongeveer 550 000 tot 600 000 ha sonneblom, waarvan die grootste gedeelte normaalweg in Januarie aangeplant word.

Die vraag moet egter gevra word of Januarie die ideale planttyd vir sonneblom is en of vroeë aanplantings meer voordele vir produsente kan inhou.

Wat sê produsente wat vroeg plant?
’n Paar sonneblomprodusente deel graag hul ondervindings met betrekking tot vroeë sonneblomaanplantings.

Vroeë sonneblomaanplantings produseer normaalweg hoër opbrengste as laat aanplantings en kan ook ander voordele vir produsente inhou.

Ferdi du Plessis van die plaas Kalkfontein in die Lichtenburg-distrik sê sonneblom is ’n uiters onderskatte akkerbougewas aangesien dit ’n laerisikogewas is wat ook redelik lae insetkoste vereis. Hy poog normaalweg om sonneblom vroeg te plant aangesien plante baat vind by ’n langer groeiseisoen, wat die kanse vir hoër opbrengs aansienlik verbeter. Volgens Du Plessis kan vroeë sonneblomaan­plantings in ’n normale seisoen tot soveel as 500 kg/ha hoër opbrengste realiseer in vergelyking met laat aanplantings. Hy sê verder dat die ideale plantdatum vir vroeë sonneblom in die Lichtenburg-distrik normaalweg vanaf middel tot einde Oktober is, mits die reënval dit toelaat. Wat kultivarkeuse betref vir sy vroeë aanplantings, plant hy graag Agricol se vlagskip- konvensionele kultivar Agsun 5270. Du Plessis voeg egter by dat Clearfield® Plus-kultivars goed inskakel deurdat dit produsente se be­stuur vergemaklik terwyl daar ’n groot bespa­ring op arbeidskoste is.

Manie van Biljon van die plaas Braunschweig in die Senekal-area plant graag sonneblom so vroeg as moontlik, aangesien dit die werklading op sy plaas versprei en dit ’n inkomste vir sy boerdery skep in ’n tyd wanneer kon­tantvloei onder druk is. Hy probeer gewoonlik om sy vroeë sonneblom vanaf die laaste week van Augustus te plant, en poog daardeur dat die gewas klaar geblom het voor die midsomerdroogte sy verskyning maak. Wat opbrengs betref, sê hy dat vroeë sonneblomaanplantings normaalweg beter doen as later aanplantings. Dit hang egter na­tuurlik van die reënval af, wat in sy area baie wisselvallig kan wees. Wat kultivars betref, plant hy graag Agsun 5103CLP en sê ook Clearfield® Plus-kultivars werk goed vir vroeë aanplantings aangesien die sonneblom al redelik ver gevorder is wanneer die meeste onkruide begin ontkiem. Dit kan dus makliker beheer word.

Gabriël Richter van die plaas Toevlug in die Bothaville-omge­wing sê dit is eerste prys om sonneblom vroeg aan te plant, aangesien dit ’n gewas met laer insetkoste is. Van die ander voordele van vroeë sonneblomaanplantings is vroeë kontantvloei, die verspreiding van werklading en die gemoedsrus wat vroeë sonneblom bied. Hy sê met sonneblom wat vroeg geplant word kan die herfsreën meer optimaal benut word om grondvog vir die volgende seisoen op te gaar. Met lande wat vroeër afgestroop word, kan bekalking en grondregstellings ook vroeër in die wintermaande gedoen word. Richter reken begin Oktober is ’n goeie planttyd vir sonneblom en beveel Clearfield® Plus-kultivars aan aangesien dit ’n produsent se spuit­programrisiko verlaag met betrekking tot die wagperiode vir opvolggewasse. Hy plant graag Agsun 5108CLP en Agsun 5109CLP.

Wat sê die landboukundige?
Sonneblom is bekend as ’n koelweergewas wat by grondtempe­rature van so laag as 4 °C kan ontkiem. Die gemiddelde grondtemperatuur waarby sonneblom met groot sukses verbou kan word, is tussen 10 °C en 31 °C. Die gewas se goeie rypverdraagsaamheid beteken dat dit vroeër en later as ander somergewasse aangeplant kan word. Ten opsigte van groeitemperature is sonneblom in staat om uiterstes te hanteer. Dit is bekend daarvoor dat dit matig rypbestand in die saailingstadium is en kan temperature van tot -2 °C oorleef. Sonneblom se opkoms en gerealiseerde plantestand is ook normaalweg beter wanneer dit vroeg geplant word, aangesien die gronde steeds redelik koel is in vergelyking met later in die seisoen.

Een van die grootste redes om sonneblom vroeg te plant, is omdat dit dan normaalweg ’n hoër opbrengspotensiaal het. Vroeë plantdatums stel sonneblom in staat om die groeiseisoen en hitte-eenhede ten volle te benut en verbeter plante se ontwikkelingstyd, wat kan lei tot gesonder en sterker plante met ’n hoër opbrengspotensiaal. Dit kan toegeskryf word aan langer periodes van fotosintese deur die loop van die groeiseisoen, wat noodsaaklik is vir plante se ontwikkeling en saadproduksie.

In gebiede waar waterbeskikbaarheid ’n beperkende faktor kan wees – veral gedurende maande wanneer daar normaalweg ’n midsomerdroogte voorkom – kan vroeë plantdatums sonneblomplante help om beskikbare grondvog meer optimaal te benut en plante se wortelstelsels kan beter vestig. Aangesien die gewas ’n penwortelstelsel het en vog vanuit dieper grondlae kan benut, stel dit plante in staat om toegang te verkry tot dieper grondvogreserwes voor kritieke droogtetye aanbreek. Dit kan die risiko van droogtestremming gedurende kritieke groeistadiums verminder. Gevolglik kan vroeë sonneblom beter toegerus wees om droë tye te weerstaan, wat kan lei tot meer stabiele opbrengste.

Vroeë sonneblom kan produsente verder help met beter gewasrotasiebeplanning deurdat plante se groeiseisoen voor die herfsmaande afgehandel is. So kan hulle herfsreën optimaal benut en grondvog vroeër begin opgaar vir die volgende seisoen. Grondvoorbereiding kan ook vinniger plaasvind, wat kan lei tot meer doeltreffende gebruik van produsente se hulpbronne. Wanneer sonneblom vroeg gestroop word, kan dit ’n bydrae maak tot beter grondgesondheid deurdat produsente betyds winterdek­gewasse op daardie lande kan aanplant, wat die volhoubaarheid van hul gronde kan verbeter.

Wat sê die landbou-ekonoom?
Oor die afgelope tien jaar dui marktendense aan dat sonne­blom se Safex-pryse normaalweg heelwat beter is vroeër in die seisoen (Maart) teenoor later in die seisoen (April, Mei). Daar is dus ’n geleentheid vir produsente om hoër winsmarges te bereik deur vroeër in die seisoen sonneblom te lewer en te verkoop. Soos die begroting in Tabel 1 toon, kan vroeë sonneblomlewerings en -verkope lei na amper R400/ha meer wins bloot op grond van die prysverskil tussen vroeë en laat lewerings (daar is gewerk op ’n 1,5 t/ha-graanopbrengs vir beide die vroeë en laat sonneblomaanplantings).

Wanneer in ag geneem word dat vroeë sonneblom normaalweg hoër opbrengste as later aanplantings realiseer, kan daar na ’n tweede scenario gekyk word soos in Tabel 2 aangedui. Hier kan duidelik waargeneem word dat moontlike hoër sonneblom­opbrengste tesame met ’n hoër vroeëleweringsprys baie meer lonend vir produsente kan wees.

Kultivarkeuse
Kultivarkeuse speel natuurlik ’n groot rol in die suksesvolle verbouing van enige gewas en sonneblom is geen uitsondering nie. Pakketaanplantings van twee of meer kultivars kan produsente se risiko effektief versprei as dit kom by siektes en moontlike klimaatsverandering. Dit word aanbeveel dat ’n kultivarpakket aan die produsent se opbrengs- en langtermynstabiliteitsvereistes voldoen en dat die kultivars in die pakket mekaar komplementeer ten opsigte van hul blomdatum en groei­seisoenlengte.

Aangesien die Suid-Afrikaanse klimaat uitdagende produk­sietoestande kan skep, is dit raadsaam om kultivars te selekteer wat plaaslik geteel en ontwikkel is. Hierdie kultivars is meer aangepas by plaaslike klimaatstoestande, veral wanneer aanplantings aan skielike stremmingstoestande blootgestel word. Plaaslik ontwikkelde kultivars is ook meer hitteverdraagsaam, terwyl ingevoerde kultivars meer hittesensitief is en groter risiko vir produsente inhou, veral in seisoene waarin daar heelwat hittegolwe kan voorkom. Hierdie kultivars word normaalweg geteel en ontwikkel in lande met aansienlik beter produksietoestande. Wanneer hulle dan blootgestel word aan Suid-Afrika se moeilike produksietoestande, kan hulle heelwat laer as verwagte opbrengste realiseer. Produ­sente behoort dus langtermyndata te bestudeer voordat daar finale besluite gemaak word rakende ’n kultivarpakket.

Agricol se Agsun-sonneblomreeks is bekend vir stabiele opbrengste by ’n reeks klimaatstoestande en plantdatums en word trots plaaslik geteel en geproduseer. Hierdie kultivars is ook bekend vir hul hitteverdraagsaamheid en seisoensaanpasbaarheid.