Spuitpunte se effektiwiteit wissel, toon onlangse evaluering

Gepubliseer: 3 September 2024

150
Sakkie Koster, akkerbouraadgewer

Die blaredak (canopy) van ’n gewas maak dit moeilik vir chemiese middels om die teikenareas te bereik. Heelwat werk is al gedoen om hierdie probleem die hoof te bied. ’n Onlangse ondersoek is in die afgelope jaar in die Bethal-area gedoen om die beste praktiese metode vir die toediening van chemie
te bepaal. Die ondersoek het veral gefokus op die doeltreffendheid van verskillende spuitpunte om die blaredak van die gewas te penetreer.

Air induction even flat-spuitpunt
Die eerste spuitpunt wat ondersoek is, was die air induction even flat-spuitpunt. Daar is gevind dat dié spuitpunt minder deur wind beïnvloed is as die ander spuitpunte. Dit bly dus ’n goeie keuse vir die eerste bespuiting op die gewas (met ander woorde ’n kaal grond­oppervlakte). Hierdie spuitpunt werk egter nie goed op spuite wat met ’n pulsaksie toegerus is nie. Ander spuitpunte, behalwe die air induction even flat-spuitpunt, het wel goeie benatting gegee, maar was meer onderhewig aan wegdrywing.

Opvolgende bespuitings is uitgevoer op gewasse wat reeds ’n blaredak gevorm het. Hier is gebruik gemaak van verskeie soorte spuitpunte, die spuitspoed is gevarieer sowel as die volume water wat toegedien is. Foto 1 toon die sojaboonland waarop die proewe uitgevoer is.

’n Sojaboonland met ’n redelik digte blaredak waarop proewe uitgevoer is.

Die toets is gedoen deur die druppelverspreiding op watersensitiewe papier op verskillende hoogtes te meet. Watersensitiewe papier is op ’n plank vasgesit om so die doeltreffendheid van die spuit te toets. Spuitpunte, watervolume toegedien asook spuitspoed is vergelyk.

Hoëveld Toerusting het die verskillende spuitpunte en personeel voorsien en chemiese agente in die omgewing van Bethal het ook gehelp met die evaluasies op ’n produsent se plaas. As ’n span so kan saamwerk, is dit net tot voordeel van almal.

Die land is gekies om seker te maak dat ’n spuitpunt in alle omstandighede goeie penetrasie sou gee. Verskeie spuitpunte is in die ondersoek gebruik, maar met min sukses om diep in die blaredak te penetreer. Waar die watervolume verlaag is, het al die spuitpunte nog swakker gevaar; en waar die spuit se spoed verhoog is, is dieselfde swakker resultate gesien. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat by die bespuiting van gewasse met ’n digte blaredak moet die watervolume hoër as 200 liter/ha wees en die spoed van die spuit nie vinniger as 12 km/uur nie. Verder is dit uiters belangrik dat die korrekte druk, soos voorgeskryf deur die vervaardiger, gebruik moet word.

Van al die spuitpunte is die beste benatting in die blaredak verkry met spuitpunte met ’n dubbeluitlaat (twin jet) of spuitpunte wat ’n enkeluitlaat het met ’n afwisselende 30°-hoek (ST 130°-spuitpunte) na vore en ’n 30°-hoek na agter (Foto 2). Ongelukkig is die spuitpunte met die dubbeluitlaat (twin nozzle) se gaatjies die helfte kleiner en verstop dit dus makliker indien die water wat gebruik word nie skoon is nie.

Die kaartjies op die foto toon duidelik die swak penetrasie wat verkry is met die ST-spuitpunt, alhoewel dit beter penetrasie gegee het teenoor ander spuitpunte.

Kousbalkspuit met holkegelspuitpunte
Die werk is opgevolg met ’n kousbalkspuit wat met holkegelspuitpunte (hollow cone nozzles) toegerus is. Hier is goeie penetrasie van die spuitmiddel binne die blaredak verkry, soos in Foto 3 geïllustreer word. Watersensitiewe papier is ook op ’n plank vasgesit om so die doeltreffendheid van die spuit te toets. Selfs onder die plank is redelik goeie benatting gevind.

Hierdie foto toon duidelik die pene­trasie wat met die kousbalkspuit verkry is deur die hele blaredak tot onder (Foto 3a). Opvolgbespuitings is ook gedoen deur die watersensitiewe papiertjies te gebruik (Foto 3b).

Dit is belangrik om te onthou dat die windspoed deur die kous nie te hoog moet wees nie, net genoeg om die druppel binne die blaredak in te dra. Hierdie spuite is duurder en moet hoofsaaklik aangewend word waar in ’n blaredak ingespuit moet word om insekte en swamme te beheer, maar ook vir onkruide wat onder die blaredak skuil. Wanneer die kousbalkspuit op kaal oppervlaktes gebruik word, is dit beter om die kous af te skakel en dit aan te wend soos ’n standaardspuit.

Om op te som:

  • Die gebruik van net een stel spuitpunte op ’n plaas gee nie noodwendig die beste resultate nie.
  • Vooropkomsbespuitings kan met die air-induction-spuitpunt uitgevoer word, maar waar die produsent ’n enkelspuitpunt wil gebruik vir beide vooropkomsbespuiting en oor die blaredak, kan of ’n twin jet of ST (Foto 2) gebruik word.
  • As die gewas ’n blaredak gevorm het, kan die twin jet en die ST gebruik word. Die beste opsie hier is natuurlik ’n kousbalkspuit wat toegerus is met holkegel- of volkegelspuitpunte. In alle gevalle is dit uiters belangrik dat die spuitpunt teen die aanbevole druk en spoed gebruik word soos deur die vervaardiger voorgeskryf.
  • Watersensitiewe papiertjies kan gebruik word om te meet hoe doeltreffend die spuitaksie is.
  • Let op die tegniese aspekte van die spuitpunte: kyk na spuitwydte, spuitdruk, spuitvolume en die spoed wat voorgeskryf word.
  • Nuwe spuitpunte word gereeld ontwikkel, so bly op hoogte daarvan. Boerdery bly ’n wetenskap.

Vir meer inligting kan Sakkie Koster by 082 857 4260 of die chemiese verteenwoordigers gekontak word.