Onkruiddoders – oordosering se skadelike gevolge

Gepubliseer: 3 September 2024

299
Prof Charlie Reinhardt, projekleier, Suid-Afri-kaanse Onkruiddoder-weerstandsinisiatief (SAHRI), Universiteit van Pretoria en professor in agronomie, Noordwes-Universiteit

Onkruiddoders bied koste-effektiewe opsies vir on­kruidbeheer in veral gemeganiseerde gewaspro­duksiestelsels – ’n basiese vereiste wat produsente in kommersiële boerdery toenemend vooropstel.

Behalwe vir koste-effektiwiteit van onkruidbeheer is daar die ewe belangrike vereiste dat gewasveiligheid nie ingeboet sal word nie. Onkruiddoders is inderdaad “plantdoders”, met die vermoë om gewasse en onkruid te beskadig. Danksy jarelange navorsing en ontwikkeling deur landbouchemiese maatskappye is daar egter talle onkruiddoders wat met veiligheid (sonder gewasskade) in bepaalde gewasse gebruik kan word. “Selektiwiteit” van onkruiddoders beskryf hul vermoë om onkruid in ’n gewas dood te maak sonder dat gewasskade plaasvind.

Risiko van gewasskade
Selektiwiteit van onkruiddoders is relatief en nie absoluut nie, m.a.w. selfs daardie middels wat in ’n gewas geregistreer is, kan onder die invloed van sekere praktyke en omgewingstoestande die gewas skade berokken. Wanneer ’n onkruiddoder vir gebruik in ’n gewas geregistreer is, impliseer dit nie gewasweerstand nie, maar bloot verdraagsaamheid (toleransie) van die gewas teenoor die on­kruiddoder. Selfs Roundup Ready-gewasse het nie weerstand teen glifosaatonkruiddoder nie, maar wel verdraagsaamheid daarteen. Dit verklaar waarom daar by etiketvoorgeskrewe dosisse gehou moet word en gevoelige groeistadia van die gewas in ag geneem moet word.

Die sekerste manier om ’n gewas met onkruiddoder te beskadig is om die voorgeskrewe dosis te oorskry. Dosisse wat op produketikette verskyn het jare se navor­sing en baie geld gekos – dit alles kan binne minute ongedaan gemaak word deur verkeerde advies of besluite wat maak dat daar van dosisvoorskrifte afgewyk word. Onthou dat beide onder- en oordosering met on­kruiddoders tot opbrengsverlies kan lei – oordosering beskadig die gewas, terwyl onderdosering tot swak onkruidbeheer lei wat ook die gewas beskadig.

Nie slegs die huidige gewas kan deur oordosering geraak word nie, maar ook die opvolggewas indien residu van die onkruid­doder in grond oorgedra sou word na ’n gevoelige opvolggewas. Oordosering vergroot die risiko van oordraging van on­kruiddoders in grond en dus die risiko van gevolglike skade aan die volgende gewas in die rotasiestelsel (Figuur 1).

Figuur 1: Die verwantskap tussen die hoeveelheid onkruiddoder teenwoordig in grond en die tyd wat dit neem om te daal tot onderskeidelik vlak 1 (drempelwaarde vir effektiewe onkruidbeheer – 70% tot 100% van die toegediende hoeveelheid) en vlak 2 (drempelwaarde vir veilige aanplanting van gevoelige opvolggewas – 0% tot 10% van die toegediende hoeveelheid). Die groen grafieklyn wys op die verlies oor tyd van ’n grondtoegediende onkruiddoder wat teen die geregistreerde dosis toegedien is en die tydimplikasie (T1) daarvan vir ’n gevoelige opvolggewas. Die rooi grafieklyn wys dat die wagperiode noodwendig verleng moet word in geval van aanvanklike oordosering (T2).

Wanneer daar oordoseer word, verval die veilige wagperiodes wat vir bepaalde gewasse op onkruiddoderetikette verskyn. Byvoorbeeld, in die geval van produkte wat imasetapir-on­kruiddoder bevat en vir gebruik in grondbone geregistreer is, word vereis dat die wagperiode vir koringaan­plan­ting na grondbone vanaf ses maande to 20 maande verleng moet word indien die hoogste voorgeskrewe dosis gebruik word waar spesifiek dubbeltjie ’n probleem is. Sekere ander onkruiddoderetikette vereis ’n spesifieke hoeveelheid reënval na toedie­ning vir wagperiodes om geldig te wees. Onthou dat gewasskade subtiel dog skadelik kan wees: As dit kom by skade weens on­kruiddoder kan aanvaar word dat daar reeds tot 20%-opbrengsverlies kan wees teen die tyd dat die menslike oog skade waar­neem. Die rede hiervoor is dat onkruiddoders se skade fisiologies van aard is.

Aanbeveling en gebruik van oordosisse van onkruiddoders is ongelukkig deesdae in Suid-Afrikaanse landbou nie ’n toevallige of selfs ’n skaars verskynsel nie. Daar kan verskillende redes vir hierdie tendens wees: Eerstens kan die onkruidprobleme van so ’n ernstige aard wees dat daar verkeerdelik gereken word dat ’n hoër dosis as die geregi­streerde (etiketvoorgeskrewe) dosis die oplossing is. Tweedens kan dit wees dat die verkoper sy inkomste wil vergroot. Op die oog af kan dit lyk na ’n ongegronde aantyging teen handelaars, maar die skrywer kry té veel kere met die pro­bleem te doen om dit te ignoreer. Die oorgrote meerderheid van verkoopsagente is wel eerlike en verantwoordelike werkers wat die beste belange van produsente op die hart dra. Wat produsente se ver­antwoordelikheid in hierdie opsig betref, kan daar gerus meer indringende vrae oor aanbevelings gevra word. Daarbenewens kan ’n tweede opinie oor aanbevelings wat ontvang is bes moontlik groot verdriet afweer!

Afwykings vanaf geregistreerde dosisse bevorder onkruidweerstand
Vir té lank is daar gereken dat slegs oordosering tot onkruidweerstand lei – spesifiek wanneer ’n enkele soort onkruiddoder herhaaldelik oor etlike jare heen gebruik sou word. Deesdae weet ons dat onderdosering met ’n bepaalde soort onkruiddoder oor tyd en met alleengebruik ook die ontwikkeling van onkruidweerstand aanhelp. Wat die minste besef word, is dat laat toediening van on­kruiddoders op groeistadia verby die ideale jong groeistadium (tipies die vier- tot sesblaarstadium) neerkom op “onbedoelde onderdosering” weens verdunning van die onkruiddoder in ’n groot plant se sisteem bestaande uit loof en wortels.

Foto 1 wys die reaksie op verskillende glifosaatdosisse van ’n Kaapse misbredie-populasie (Amaranthus hybridus) in die Hendrina-distrik. Foto 2 toon die reaksie van Kaapse misbredie afkomstig van ’n populasie in die Bergville-distrik op dieselfde glifo­saatdosisreeks. Duidelik is die Hendrina-populasie gevoelig vir glifosaat terwyl die Bergville-populasie totaal weerstandig is.

Kaapse misbredie vanaf die Hendrina-distrik se reaksie op ’n reeks glifosaatdosisse (van links na regs: 4x, 2x, 1x, 0,5x en die kontrole). Die 1x-dosis is 2 ℓ/ha Roundup PowerMAX.
Foto: C Reinhardt
Kaapse misbredie vanaf die Bergville-distrik se reaksie op ’n reeks glifosaatdosisse (van links na regs: kontrole, 0,5x, 1x, 2x en 4x). Die 1x-dosis is 2 ℓ/ha Roundup PowerMAX.
Foto: C Reinhardt

Die gebruik van tenkmengsels of reeds geformuleerde mengsels van onkruiddoders is goeie praktyk vir die voorkoming en bestuur van onkruidweerstand. In geval van swak of geen beheer van ’n onkruidsoort met die een of ander bestanddeel van die mengsel, kan die ander “mengselvennote” daardie weerbarstige soort(e) uitknikker. Daarom hoef daar in geval van die bestaan van byvoorbeeld glifosaatweerstand in ’n bepaalde onkruidsoort nie afstand gedoen te word van hier­die hoogs effektiewe onkruiddoder wat baie ander soorte onkruid sal beheer nie. In sulke gevalle moet produsente eenvoudig ’n pasmaat(s) vir glifosaat vind. Dieselfde beginsel geld vir enige ander onkruiddoder. Allerbelangrik is om te hou by geregistreerde (etiketvoorgeskrewe) tenkmengsels en nie te torring aan die voorgeskrewe dosisse van die mengsel se bestanddele nie. Vermy ongeregi­streerde mengsels van produkte, ook daardie wat talle onkruiddoders, insekdoders en swamdoders in ’n enkele, ongeregi­streerde mengsel (konkoksie) saamvoeg.

Vir meer inligting kontak prof Charlie Reinhardt deur ’n e-pos te stuur na dr.charlie.reinhardt@gmail.com.