INSETKOSTE EN WINSGEWENDHEID: Hoe lyk die nuwe seisoen?

Gepubliseer: 2 September 2024

175
Christiaan Vercueil, landbou-ekonoom, Graan SA

Die 2023/2024-produksieseisoen was uitdagend. Produsente het gebuk gegaan onder ongunstige weersomstandighede in die vorm van ’n El Niño-verskynsel wat produksie – en gevolglik winsgewendheid – onder baie druk geplaas het. Met die einde van die seisoen is die kans vir rus min en word die fokus verskuif na die volgende plantseisoen.

Omvang van die 2023/2024-seisoen
Gegewe 4 340 250 aangeplante hektare vir mielies, sojabone en sonneblom in die 2023/2024-seisoen (2% meer as in die 2022/2023-seisoen) kon slegs 15 832 640 ton van hierdie drie toonaangewende grane geproduseer word. Dit is ’n afname van 22% in opbrengs, met mielies wat ’n afname van 20%, sojabone 36% en sonneblom 14% ervaar het. Tabel 1 dui hierdie syfers aan.


Noodsaaklikheid vir produksiebegroting
Die daarstel van produksiebegrotings voor die aanplant van gewasse, raak al hoe meer noodsaaklik en moet nie ligtelik opgeneem word wanneer pro­duksiebe­sluite geneem word nie. Niemand kan die toekoms met al sy risiko’s en onsekerhede akkuraat voorspel nie, maar ’n produksiebegroting moet op vooruitskattings, historiese gegewens, aannames en ondervinding gebaseer word. In die lig hiervan moet produsente, as die gebruikers daarvan, bewus wees dat begrotings asook die aannames waarop dit berus, voortdurend aan veranderinge onderworpe is.

Produksiekoste kan radikaal van buurman tot buurman verskil weens elke graanprodusent se eie unieke sisteem, die tipe boerdery-eenheid en die produksiepraktyke wat gevolg word. In hierdie artikel word daar gepoog om die koste vir die algemeenste produksiepraktyke voor te lê.

Veranderlike koste
Die veranderlike koste is gewoonlik dit wat met die vertakking geassosieer word en verander soos daar meer of minder van ’n inset gebruik word. In die gewasvertakking sal veranderlike koste bestaan uit byvoorbeeld saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel. Uit die meegaande tabel­le is dit duidelik dat bemesting die grootste komponent van die veranderlike koste uitmaak.

Vaste koste
Die vaste of oorhoofse koste is gewoonlik uitgawes wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie. Voorbeelde hiervan is salarisse, huur, lewenskoste, elektrisiteit en so meer. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.

Vooruitskouing vir die 2024/2025-seisoen
Westelike produserende streek
Tabel 2 toon die begrote insetkoste vir mie­lies (Bt), sonneblom sowel as sojabone vir die westelike gedeelte van die land vir die 2024/2025-seisoen.

  • Mielieproduksie: ’n Mikpunt van 4 t/ha is in hierdie scenario gebruik en inset­hoeveelhede is volgens hierdie mikpunt bepaal. Die totale veranderlike koste kom op R12 137 te staan met ’n vaste­kostekomponent van R2 690/ha. Met ’n produsenteprys van R3 787 (WM Safex Jul-25 minus aftrekkings) blyk dit dat produsente ’n wins van slegs R320/ha kan realiseer.
  • Sojabone blyk die winsgewendste in die westelike streek te wees met ’n produ­senteprys van R7 889/ton (Safex Mei-25 minus aftrekkings). Teen ’n opbrengsmikpunt van 1,75 t/ha met veranderlike koste van R10 464/ha en ’n vastekostekom­ponent van R1 864/ha kan ’n wins van R1 476/ha gerealiseer word.
  • Sonneblom se winsgewendheid blyk beter te wees as mielies, maar laer as sojabone. Met ’n produsenteprys van R7 857/ton met veranderlike en vaste koste van R4 860/ha en R2 235/ha onderskeidelik, kan ’n wins van R761/ha moontlik gerealiseer word.

Noordwes-Vrystaat-produksiestreek
Tabel 3 toon die begrote insetkoste vir mielies (laer en hoër opbrengs), sonneblom sowel as sojabone vir die Noordwes-Vrystaat in die 2024/2025-seisoen.

  • Mielieproduksie: ’n Mikpunt van onderskeidelik 4 t/ha en 6 t/ha word in hierdie scenario gebruik. Die totale veranderlike koste kom op R12 099/ha en R15 805/ha te staan met ’n vastekostekomponent van R3 067/ha en R2 936/ha onderskeidelik. Met ’n produsenteprys van R3 760 (WM Safex Jul-25 minus aftrekkings) blyk dit of produsente met ’n laer opbrengs ’n verlies van R127/ha kan realiseer en R3 815/ha se wins kan realiseer teen 6 t/ha.
  • Sojabone se winsgewendheid lyk soos volg met ’n produ­senteprys van R7 889/ton (Safex Mei-25 minus aftrekkings): Teen ’n opbrengsmikpunt van 2 t/ha met veranderlike koste van R12 449/ha en ’n vastekostekomponent van R2 879/ha kan ’n wins van R635/ha gerealiseer word.
  • Sonneblom se winsgewendheid blyk beter te wees as dié van sojabone. Met ’n produsenteprys van R7 857/ton met veranderlike en vaste koste van R7 645/ha en R3 063/ha onderskeidelik, kan ’n wins van R1 067/ha moontlik gerealiseer word.

Die sensitiwiteitsanalise (Tabel 4) toon hoe sensitief winsgewendheid is vir prysveranderings, maar veral vir opbrengsverliese. Hierdie analise neem die produsenteprys sowel as opbrengs in ag. Indien 6 t/ha geoes word (wat ook die mikpunt is), kan ’n produsent R636,30/ton (R636,30*6 t/ha) se wins realiseer wat gelykstaande is aan R3 817/ha soos in Tabel 3 aangedui. Indien slegs 0,5 t/ha minder gestroop word, kan ’n produsent ’n verlies van R352/ton realiseer wat gelykstaande is aan ’n verlies van R2 112/ha.

Oostelike Hoëveld-produksiestreek
Tabel 5 toon die begrote insetkoste vir mielies en sojabone in die oostelike Hoëveld in die 2024/2025-seisoen.

  • Mielieproduksie: Met ’n mikpunt van 7 t/ha in hierdie scenario, kom die totale veranderlike koste op R20 165,12/ha te staan met ’n vastekostekomponent van R2 464/ha. Met ’n produsenteprys van R3 400 (YM Safex Jul-25 minus aftrekkings) blyk dit of produsente moontlik ’n wins van R1 219,30/ha kan realiseer.
  • Sojabone se winsgewendheid lyk soos volg met ’n produ­senteprys van R7 889/ton (Safex Mei-25 minus aftrekkings): Teen ’n opbrengsmikpunt van 1,75 t/ha met veranderlike koste van R11 223/ha en vaste koste van R2 149/ha kan ’n wins van R698/ha gerealiseer word.

Gevolgtrekking
Produsente het ’n uitdagende seisoen agter die rug wat onthou sal word vir die droë en warm weersomstandighede wat geheers het. In verskeie omgewings was daar mis­oeste en dit is dan ook die rede waarom vele produsente se winsgewendheid swak vertoon. Daar is hoop vir ’n La Niña-verskynsel op die horison en meer gunstige weersomstandighede word in die komende seisoen verwag. Hopelik sal dit lei tot ’n meer winsgewende seisoen. Volledige begrotings is beskikbaar op die Graan SA-webtuiste deur die skakel te kliek: https://www.grainsa.co.za/pages/industry-reports/production-reports.

Elke produsent se begroting vir die komende seisoen sal anders lyk as bo­genoemde – hierdie behoort slegs as ’n riglyn gebruik te word. Dit is belangrik dat produsente self ’n gelykbreeksom uitwerk om te verseker dat hulle totale koste gedek kan word.

Vrywaring
Alles moontlik is gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker, maar Graan SA neem geen verantwoordelikheid vir enige verliese of skade gely as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.