Eis só by Vergoedingsfonds vir BESERINGS AAN DIENS

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 2 September 2024

103

Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes (COIDA) bepaal dat produsente wat een of meer werkers in diens het, moet registreer by die Vergoedingsfonds om hulle werkers te dek teen werksbeserings of sterftes.

Volgens Stephan Pietersen van Work Accident Support sluit dit werkers in wat tydelik, permanent, op kontrak of seisoenaal aangestel is.

Hy verduidelik dat die Vergoedingsfonds die lone wat jaarliks elektronies verklaar moet word asook die relevante subklastarief gebruik om ’n rekening op te stel. Die rekening is betaalbaar binne 30 dae voor ’n brief van goeie stand uitgereik kan word. So ’n brief word slegs uitgereik indien die boerdery geregistreer is by die Vergoedingsfonds, die jaarlikse lone verklaar is, die rekening ten volle betaal is en alle werksbese­rings gerapporteer is.

Subklastariewe vir boerderye
Volgens die COIDA-wet is die landbousektor in vier subklasse verdeel en elke sub­klas het sy eie tarief. Die tarief word bepaal deur die risiko wat geassosieer word met die aard van die spesifieke subklasboerdery. Tabel 1 dui die verskillende subklasse en tariewe aan.

Administrasie van werksbesering
Die volgende stappe is belangrik wat eise betref:

  • Alle besighede/boerderye moet ’n verpligte elektroniese profiel op Compeasy skep om werksbeserings te rapporteer.
  • Die besigheid se bankbesonderhede moet ook geregistreer word om betalings te ontvang vir lone wat aan beseerde werkers betaal is.
  • Voltooi ’n WCI.2-vorm wat die werkgewer se verslag oor die voorval bevat. Sluit ’n afskrif van die werknemer se identiteitsdokument en salarisstrokie daarby in. ’n Besering moet binne sewe dae gerapporteer word.
  • ’n Eisnommer word uitgereik, wat dan gestuur moet word aan die dokter wat die werknemer behandel.
  • Die dokter voltooi die eerste mediese verslag wat dan op die Compeasy-stelsel gelaai moet word.
  • Die Vergoedingsfonds erken ontvangs van die eis en aanvaar dit ingevolge die wet. Die fonds betaal dan die redelike mediese onkoste volgens die COIDA-tariewe. Die werkgewer moet die werker se salaris vir drie maande betaal terwyl hy of sy van diens af is. Dit kan weer later van die fonds verhaal word.
  • Alle opvolg- mediese verslae moet ook op Compeasy gelaai word.
  • Die dokter en enige ander mediese diensverskaffers moet hulle mediese eise direk vanaf die Vergoedingsfonds eis. Waar ’n eis afgekeur word, moet die werker die mediese onkoste betaal.
  • Sodra die werker vir die laaste keer behandel is, moet die dokter ’n finale mediese verslag voltooi met ’n datum waarop hy of sy kan terugkeer werk toe.
  • Wanneer die werker sy of haar diens hervat, moet die werkgewer die hervattingsverslag voltooi om die lone terug te eis vanaf die Vergoedingsfonds.
  • Die Vergoedingsfonds sal ook bepaal of enige betalings gemaak kan word aan werkers wat ernstig beseer is.

Huiswerkers
Huiswerkers wat in private huishoudings in diens is, kan nou ook aansoek doen om vergoeding uit die Vergoedingsfonds. Werkgewers van huiswer­kers in private huishoudings sal nou by die Vergoe­dingskommissaris moet registreer en ’n jaarlikse aanslagfooi moet betaal op grond van hul huishulp se verdienste. Hierdie fooi mag nie van die werknemer se loon of salaris afgetrek word nie. Ingevolge artikel 87 van die wet kan ’n werkgewer ’n boete opgelê word vir versuim om bydraes tot die fonds te maak. ’n Werkgewer se versuim om bydraes te maak sal egter nie die werknemer se vermoë om van die fonds te eis, beïnvloed nie.

Vir meer inligting kontak Stephan Pietersen deur ’n e-pos te stuur na support@workaccident.co.za.