Voertuigbedryf bied blink loopbaankanse

Jannie Rossouw, motorliefhebber en besoekende professor, Wits Besigheidskool
Gepubliseer: 30 Augustus 2024

92

Enige koper van ’n voertuig is opgewonde wanneer die nuwe wiele afgelewer word. Min van ons dink egter aan die groot personeelstruktuur in die kleinhandelbedryf vir voertuie wat bydra tot hierdie opgewondenheid.

Ek het met Cheryl Claassens, een van die direkteure van die Hatfield Motor Group, oor loopbaangeleent­hede in voertuigkleinhandel gesels. Sy het baie jare se ondervinding en ek het aan haar lippe gehang.

Suid-Afrika het ’n ernstige werkloosheidprobleem en alle werksgeleenthede moet oorweeg word. Na ek met Cheryl gesels het, is dit duidelik dat werksoekers té min aandag aan voertuigkleinhandel as ’n loopbaankeuse gee. Baie van ons dink net aan die verkoopsper­soneel en die werktuigkundiges wat vir dienste verantwoordelik is.

In verkope van nuwe en gebruike voertuie bepaal harde werk die vergoeding, want hierdie personeel werk vir ’n basiese salaris en vir kommissie. Met puik produkte in Hatfield Motor Group se stal het verkoopspersoneel goeie geleenthede vir mededingende vergoeding. Kennis van produkte en mense is topverkoopspersoneel se geheim tot sukses. Verkoopspersoneel rapporteer aan die verkoopsbestuurder.

Tegniese personeel wat vir dienste, onderhoud en herstelwerk verantwoordelik is, rapporteer aan die werkswinkelbestuurder. Tegniese opleiding, vaardighede en produkkennis bepaal die loopbaansukses van personeel in die tegniese afdeling.

Die onderdele-afdeling van enige motorhandelaar is ’n groot logistiese bedryf. Die regte onderdele moet op die regte tyd beskikbaar wees om aan die werkswinkel en aan ander kliënte te lewer. Personeel in hierdie afdeling rapporteer aan die onderdelebestuurder.

Administrasie, finansies en ander ondersteuningsdienste is ook belangrik vir kleinhandelverkope van voertuie. Voertuie, vloere en kantore moet skoon wees, terwyl daar ook drywers moet wees om mense te vervoer en voertuie te skuif. Voorts moet rekord gehou word van die finansies, waar die finansiële bestuurder kernbelangrik is.

Die vier bestuurders (finansies, onderdele, verkope en werks­winkel) rapporteer aan die handelaarshoof, wat in beheer is van die kleinhandeloperasie.

Voertuigkleinhandel bied interessante loopbaangeleenthede aan ’n groot groep mense met uiteenlopende belangstelling, opleiding en kundigheid. Die Hatfield Motor Group se omvangryke handelaarsnetwerk bied geleenthede aan mense wat op soek is na ’n vastrapplek in hierdie opwindende mark.