NAMPO Park: ’n tuiste vir enige funksie

Dr Dirk Strydom, besturende direkteur, NAMPO (Pty) Ltd
Gepubliseer: 30 Augustus 2024

92

NAMPO Park word meestal gesien vir die waarde wat dié infrastruktuur bied tydens die NAMPO­ Oesdag in Mei-maand en NAMPO Alfa in Oktober. Oor meer as 50 jaar het die park ontwikkel vanaf ’n paar landerye en sinkstore na meer as 40 ha vol infrastruktuur.

Min mense besef dat wanneer die Oesdag en NAMPO Alfa verby is, NAMPO Park ’n juweel is wat vir enige funksie benut kan word. Nie net is daar goed toegeruste lokale nie, maar ook akkommodasiefasiliteite wat deur die jaar benut kan word.

Lokale
NAMPO Park beskik oor fasiliteite wat enige funksiegrootte kan akkommodeer tot en met soveel as 3 000 mense. Die mees algemene lokaal is die Fanie Ferreira-saal wat jaarliks gebruik word om Graan SA se kongres aan te bied. Die saal bied toegang tot ’n vol industrieel ingerigte kombuis vir enige spysenieringbehoeftes. In dié saal is daar al van troues, matriekafskeidgeleenthede en boeredae tot konferensies aangebied. Nog ’n voordeel van NAMPO Park is dat daar verskeie lokale is wat geskik is vir wegbreeksessies. Al hierdie ge­riewe – in die hartjie van die platteland!

NAMPO Park beskik oor fasiliteite wat enige funksiegrootte kan akkommodeer tot en met soveel as 3 000 mense.

Die NAMPO-ouditorium is volledig toegerus met elektroniese, oudiovisuele toerusting om virtuele vergaderings te akkommodeer. Dit kom handig te pas as kundiges in die buiteland nodig is vir opleiding of praatjies.

Die veilingskompleks is van wêreldklasgehalte en kan enige veiling huisves met voldoende sitplek, ’n goeie vertoonplatform en genoegsame krale om aan biosekuriteit te voldoen en diere maklik te beheer.

NAMPO kan onafhanklik van die elek­triese netwerk funksioneer, met ’n krag­opwekkerkapasiteit van 1 800 kVa wat verseker dat enige funksie sonder onderbreking kan plaasvind.

Akkommodasie
Min mense besef dat daar akkommodasie beskikbaar is op NAMPO Park, wat as ’n gastehuis bedryf word. NAMPO Park beskik oor 141 beddens, waarvan die meeste en suite is vir addisionele gemak. Daar is twee toegeruste eetsale.

NAMPO Park beskik oor 141 beddens en die meeste kamers het en suite badkamers.

Aktiwiteite
NAMPO Park het twee 4×4-bane wat vir enige voertuigdemonstrasie of -bekendstellings benut kan word. Die een baan is toegerus en ontwerp vir 4×4-voertuie, hetsy dit bakkies of die alledaagse sportnuts­voertuie is. Die tweede baan is meer gerig op die avontuurlustiges wat hou van motor­fietse en “side by sides”.

Daar is boonop ’n 400 m-skietbaan wat geskik is vir enige skietdag of bloot net ’n spanbousessie vir personeel.

NAMPO Park het ook lande wat beskikbaar is vir praktiese demonstrasies van landboutoerusting, wat bekendstellings of selfs opleidingsaanbiedings vergemaklik.

Spyseniering
Die park het al die toerusting en verkoelingsfasiliteite om vir enige grootte funksie spyseniering te kan verskaf. NAMPO het ook onlangs ’n gekwalifiseerde sjef in diens geneem om hoëgehaltespyseniering, met ver­al ’n boerekosaanslag, te verskaf.

NAMPO Park – die perfekte plek vir enige funksie
In ag genome al die lokale, aktiwiteite en dienste, is NAMPO Park die ideale plek om enige boeredag of landboufunksie aan te bied. Dit is geskik vir enigiets vanaf teorie-opleiding binnenshuis, praktiese demonstrasies in die veld tot virtuele vergaderings met kundiges in die buiteland. Dit kan enige kongres of konferensie behartig, gerug­steun deur voldoende akkommodasie geleë op die park en naby aan die lokale.

Die fasiliteite is perfek vir enige opleiding – hetsy prakties of in klaskamerstyl.

Om jou volgende funksie te bespreek, kontak die NAMPO-kantoor en maak seker jy loop nie die bekostigbare gebruik van goed ingerigte fasiliteite mis nie.

NAMPO Park is elke jaar die tuiste van die NAMPO Oesdag en NAMPO Alfa.