Met kundigheid en kalmte loop hy voor

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 30 Augustus 2024

94
Die wenner in die My Hero-reeks vir Augustus is Boeta du Toit.

Boeta du Toit, wat sedert Januarie 2006 tot en met Junie vanjaar as uitvoerende hoofbestuurder van Agri NW gedien het, se leiding en waardevolle insigte het grootliks bygedra tot die vorming van landboubeleid en -praktyke in die Noordwes-provinsie. So sê Naudé Pienaar, wat Boeta genomineer het in die Graan SA/John Deere My Hero-reeks.

Boeta se betrokkenheid by georganiseerde landbou het in 1978 begin en hy het uit die staanspoor in verskeie leierskap­posisies gedien. Voor sy aanstelling as uitvoerende hoofbestuurder en as lid van die dagbestuur het Boeta ’n proses van stra­tegiese beplanning vir Agri NW geïnisieer asook gehelp om ’n strategiese veiligheidsbeplanningsproses in die Noordwes te fasiliteer. Volgens Naudé het Boeta gedurende sy 18 jaar as uitvoerende hoofbestuurder die organisasie met “ongekende toewyding en bekwaamheid gedien en bygedra tot die ontwikkeling van Agri NW as ’n gedugte landbou-orga­nisasie”.

Naudé Pienaar het Boeta genomineer as held in die My Hero-reeks.

“Bekend vir sy begrip, deernis en liefde vir sy medemens, het Boeta ’n besondere bydrae gelewer in die vestiging en handhawing van werksverhoudinge met belangrike rolspe­lers en vennote in landbou. Dit het daartoe gelei dat Agri NW as amptelike spreekbuis van georganiseerde landbou in die Noordwes-provinsie erken word en hoë aansien by almal geniet,” voeg Naudé by.

Volgens Boeta was die aanstelling en die verantwoordelikhede wat dit meegebring het, nooit op sy horison nie, tog het dit sy lewe verryk met mensekennis en ongekende ervarings.

Hy vertel dat sy tyd by Agri NW hom in aanraking gebring het met produsente vir wie hy net die hoogste waarde­ring en respek het. “Die grootste uitdaging bly egter om twis en tweedrag te besweer, wanpersepsies te bestuur en om samewerking en ondersteuning tussen individue en organisasies te bewerk­stellig.”

Naudé sluit af: “Boeta se bewese kundigheid as landbou­kundige en ook sy onmisbare bydrae in die raadsale van Agri SA is van groot belang vir landbou in Suid-Afrika. Met sy innemende, vriendelike geaardheid en gelykmatige temperament is Boeta geliefd en geniet hy die agting van almal wat hom ken.”