Sonneblom se prestasie in droogte ’N MOET VIR DIE WESTE

Gepubliseer: 1 Augustus 2024

255

Westelike saaigebiede in Suid-Afrika het die afgelope seisoen ’n kritieke punt bereik met aansienlik lae mielie- en sojaboonopbrengste as gevolg van heersende droogtetoestande wat veroorsaak is deur die El Niño-weerverskynsel.

Die afgelope seisoen se buitengewoon hoë hitte-eenhede en die afwesigheid van reën in kritieke tye van plante se groei het aansienlik laer as verwagte opbrengste tot gevolg gehad. Sekere dele van Noordwes het vanaf Oktober tot Maart so min as 150 tot 350 mm reën gehad. Tesame met buitengewoon hoë dagtemperature het dit aanleiding gegee tot stremmingstoestande wat nie ideaal was vir optimale gewasproduksie nie. Die kombinasie van lae opbrengste en hoë gewasinsetkoste plaas boere onder aansienlike finansiële druk vir die komende plantseisoen.

Ten spyte van die afgelope seisoen se lae opbrengste in die weste het sonneblom weer eens bewys dat dit sonder twyfel deel moet uitmaak van elke saaiboer se gewaspakket – ondanks die heersende droogtetoestande is beter as verwagte sonneblomopbrengste gerealiseer.

In die 2023/2024-seisoen is daar talle produsente wat verras is deur die prestasie van die kultivars in die Agsun-sonneblomreeks. Hier volg slegs ’n paar van die suksesverhale uit sentraal-Noordwes se Sannieshof-area.

Attie Smook (links) het op kolle in sy lande oor die 3 t/ha van Agsun 5109CLP gestroop. Langs hom op die foto is Driekus Visser, Agricol-agent.

Attie Smook van die plaas Kameelboom in die Sannieshof/Delareyville-distrik sê sonneblom is ’n moet vir saaiboere in die westelike gebiede weens die gewas se goeie droogteverdraagsaamheid. Volgens Smook het sonneblom op sy plaas die afgelope seisoen die beste van al die somergewasse gevaar. Hy plant graag Agricol-sonneblom weens die kultivars se goeie droogte- en hitteverdraag­saamheid en hul aanpasbaarheid in droë en natter jare. Hy het die afgelope seisoen die kultivar Agsun 5109CLP aangeplant en het op dele van sy lande tot 3 t/ha gestroop.

Volgens Hendrik van der Merwe van die plaas Rusoord, ook in die Sannieshof-area, plant hy as standaard elke jaar sonneblom op ’n derde van sy lande weens die gewas se goeie wisselbou-eienskappe en sonneblom se aanpasbaarheid by verskillende klimaats­toestande. Wat sonneblomkultivars betref, plant hy graag verskeie van Agricol se Agsun Clearfield®Plus-kultivars. Hy het vanjaar – te midde van lae reënval op dele van sy plaas – tot 2 t/ha gestroop met Agsun 5103CLP, Agsun 5106CLP, Agsun 5108CLP en Agsun 5109CLP, terwyl hy slegs vir 1,5 t/ha bemes het. Van der Merwe sê: “Wanneer jy Agricol-sonneblom plant, is jy altyd verseker van ’n oes.”

Kobus Klaasen van die plaas Wolvepan in die Sannieshof-area vertel ook dat sonneblom as standaard op ’n derde van sy lande aangeplant word en dat dit vanjaar die winsgewendste gewas op sy plaas was. Hy plant graag Agsun 5106CLP en het die afgelope seisoen op dele van sy lande oor die 2 t/ha gestroop. Volgens Klaasen is sonneblom ’n moet in die westelike saaigebiede aangesien die gewas boerderyrisiko goed versprei en die boerdery baat vind by vroeë kontantvloei omdat die gewas vroeër gestroop word as ander somergewasse.

Robbie da Silva en Manny de Gouveia van die plaas Disselboompan in die Sannieshof-omgewing sê sonneblom het definitief ’n plek as ’n primêre gewas in hul area weens sy goeie droogteverdraag­saamheid. Sonneblom maak gewoonlik ’n derde van hul gesaaides uit. Hulle het die afgelope seisoen Agsun 5106CLP en Agsun 5109CLP aangeplant en sê die kultivars het gewys waarom hulle bekend is as die kampioenkultivars. Ten spyte van die uiters warm toestande gedurende die groeiseisoen het die kultivars goeie opkoms gehad en as gevolg van hul hitteverdraagsaamheid is daar steeds 1,5 t/ha met hierdie kultivars gerealiseer.

’n Mielieaanplanting onder stremming in die Sannieshof-area gedurende die 2023/2024-seisoen.

Wat sê die landbou-ekonoom?
In die 2023/2024-seisoen het produsente lank gewag vir voldoende reën om hul gesaaides te kon plant en na plant was op­volgreën beperk. Dit het gelei tot heelwat laat aanplantings van mielies, sojabone en sonneblom in die westelike gebiede.

Wat kan landbouprodusente doen om oesverliese te bekamp? Die opsies is as volg:

  • Om niks te plant nie. Hierdie is waarskynlik nie ’n sinvolle opsie nie, aan­gesien die meeste produsente die geld van ’n oes nodig het om te kan voortbestaan.
  • Oorweeg laer bemestingspeile. Die pro­bleem van hierdie opsie is dat die insetkoste van byvoorbeeld witmielies uiters hoog en winsmarges klein is. Witmielies benodig ’n waarskynlike opbrengs van net oor die 3 t/ha om gelyk te breek.

Tabel 1 dui die beplanning en begroting van gewasse vir die 2023/2024-seisoen voor planttyd aan.

Tabel 2 dui die waarskynlik gerealiseerde opbrengste en winsmarges vir die 2023/2024-seisoen aan. Soos daar uit hierdie tabel afgelei kan word, was die gerealiseerde inkomste op mielies en sojabone uiters laag en van die drie gewasse is dit slegs sonneblom wat steeds ’n positiewe winsmarge behaal het.

Aanduidings vir die komende seisoen se klimaatvoorspellings is op hierdie stadium onduidelik en die moontlikheid van ’n verlengde El Niño-verskynsel moenie uit die oog verloor word nie.

Produsente kan wel slim gewaskeuses maak in ’n moontlike El Niño-seisoen deur kleiner aanplantings op gewasse met ’n hoë risikofaktor laat in die seisoen te oorweeg. Sonneblom is op die begrote marges (Tabel 1) met betrekking tot winsmarge nie die mees winsgewende opsie tussen die drie hoofgewasse nie, maar met die oesverliese van die afgelope seisoen in ag geneem, is dit die enigste opsie wat ’n positiewe winsmarge behaal het (Tabel 2).

Dit is wel ’n risiko om net een gewas te produseer en ’n goeie mielie-oes kan lei tot groot winsmarges. Die vraag is egter of die risiko te groot is om slegs een gewas te plant wanneer die klimaatstoestande ongunstig word. As verskansing teen die risiko kan produsente oorweeg om hul laat aanplantings op te deel. Indien ’n produsent die afgelope seisoen byvoorbeeld 100 ha aangeplant het en sy laat aanplantings volgens Tabel 3 gestruktureer het, sou hy steeds ’n positiewe winsmarge behaal het deurdat sonneblom opgemaak het vir die verliese van sojabone en mielies.

Opbrengsstabiliteit in strawwe produksietoestande is seker die grootste faktor wat kultivarkeuse beïnvloed vir die komende plantseisoen. Agricol se Agsun-sonneblomreeks is bekend vir goeie hitteverdraagsaamheid sowel as aanpasbaarheid en stabiliteit by verskillende klimaatstoestande. Plant in die kol, plant Agricol – trots Suid-Afrikaanse sonneblomgenetika.