Plaaslike vervaardigers blink uit by NAMPO

Pietman Botha, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 31 Julie 2024

173

Verskeie Suid-Afrikaans vervaardigde implemente en masjinerie is vanjaar tydens die NAMPO Oesdag vertoon. Dit is aangenaam om hierdie plaaslik vervaardigde masjinerie en toerusting te bekyk en te kan sien dit staan hul man in die mark. Suid-Afrikaanse vervaar­digers staan glad nie terug vir hul ingevoerde mede­dingers nie – in heelwat gevalle is hulle dalk selfs ’n kortkop voor.

Hierdie plaaslike vervaardigers toon onderlinge ooreenkomste, waarvan een sekerlik is dat hulle almal poog om die effektiwiteit en doeltreffendheid van hul kliënte te verbeter. Of dit nou skare is wat vervaardig word, spilpunte of ’n planter – almal probeer die kliënt se spesifieke behoeftes bevredig.

Dit is interessant dat die vervaardigers almal hul kliënte goed ken. Hulle weet wat hul behoeftes is en probeer probleme met slim planne oplos. Plaaslike oplossings werk gewoonlik besonder goed omdat produsente met die ontwikkelaars saamwerk. Gevorderde tegnologie word in die vervaardiging van die masjinerie aangewend met betroubaarheid en duursaamheid as oogmerk. Onderdele word plaaslik vervaardig en behoort in die meeste gevalle maklik bekombaar en redelik bekostigbaar te wees.

Onder andere het die volgende plaaslike vervaardigers by die NAMPO Oesdag uitgestal:

Agrico
Die Agrico-handelsmerk is alombekend. Hierdie spilpunte is ontwerp met nuwe tegnologie om die druppel so effektief en doeltreffend moontlik op die grond te kry. Agrico is verder bekend vir hul plaaslik vervaardigde implementereeks. Hierdie doelgerigte implemente kan met groot sukses koste-effektief op ’n plaas aangewend word. Hul reeks sluit in rippers, rollers, hoëspoeddisse, kantelwaens en vele meer. In die vervaardigingsproses word hoëkwaliteitstaal en tegnologie gebruik om die beste moontlike resultate te lewer. Vir meer inligting besoek Agrico se webwerf by www.agrico.co.za.

Agrico-spilpunte is toegerus met nuwe tegnologie om elke druppel so effektief en doeltreffend moontlik op die grond te kry.

Myburgh Toerusting
Myburgh Toerusting van Ermelo vervaardig ’n verskeidenheid inte­ressante implemente, insluitend baalafrollers, belugters, draadspantoerusting, groot hooiharke asook hul nuwe padmaaktoerusting. Hulle kon dit regkry om ’n goedkoop skraper te maak waarmee produsente hul plaaspaaie effektief kan herstel. Hierdie implemente en toerusting is ontwerp om produsente se effektiwiteit te verhoog, lank te hou en onderdele is algemeen bekombaar. Myburgh Toerusting vervaardig ook landrollers en ’n stronkkapperimplement asook ’n implement om kontoerwalle te herstel en in stand te hou. Besoek hul webwerf by www.mtoer.co.za vir meer inligting.

Die Myburgh-skraper waarmee produsente hul plaaspaaie effektief en goedkoop kan herstel.

Erdvark
Nog ’n Suid-Afrikaanse vervaardiger is Erdvark, wat bekend is vir hul betroubare swaardiensimplemente wat min instandhouding benodig en goedkoop is om te herstel. Tans spesialiseer Erdvark in skottelimplemente, landrollers, rolmoere, verskillende skrapers en grondverskuiwingstoerusting, beitelploeë en rippers. Hulle maak ook sleepwaens. Die skottelimplemente is vir beide swaar en ligte diens­ op saaigrond en in boorde. Besoek www.erdvark.co.za vir meer inligting.

Erdvark het hulle staal op NAMPO Park kom wys. Hierdie TBP 7000-skraper is deel van hul plaaslik vervaardigde reeks toerusting.

Tal-Tec
NAMPO fokus nie net op die saaiprodusent nie – vee en veehanteringstoerusting word ook uitgestal. Tal-Tec is een veehanteringsvervaardiger wat spe­sialiseer in groot- en kleinveekrale, skale, nekklampe asook verskillende bees- en skaapkratte. Die veehanteringstoerusting is ontwerp om werkers te be­skerm en hul effektiwiteit te verhoog deurdat vee vinnig en veilig gehanteer kan word. Die veekratte kan gebruik word om vee veilig te hou terwyl die produ­sent gemaklik die werk doen. Veeartse kan ook veilig prosedures uitvoer terwyl die vee se stresvlakke so laag as moontlik gehou word. Om meer omtrent hierdie donkergroen toerusting te wete te kom, besoek hul webwerf by www.tal-tec.co.za.

Tal-Tec het verskillende bees- en skaapkratte wat ontwerp is om vee vinnig en veilig te hanteer.

Stärk
Stärk-landbou-implemente is ’n nuwe groep implementvervaardigers. Dié jong groep vervaardig betroubare, sterk en bekostigbare implemente soos rolmoere, beitelploeë, rippers, saadbedimplemente en talle meer. Hierdie implemente is ontwerp om goeie grondopbreek te bewerkstellig, maar steeds relatief lae kilowatt-trekkrag te vereis. Stärk vervaardig ook die Bremuda Chain Tiller wat ’n breë­vlak-snydis is. Implemente in die Stärk-stal word deeglik in die praktyk getoets en heelwat verbeterings is oor tyd aangebring. Kry meer inligting deur hul webwerf by www.starkfab.co.za te besoek.

Stärk se plaaslik vervaardigde Bremuda Chain Tiller, ’n breëvlak-snydis.

Drotsky
As jy die woord Drotsky hoor, dan weet jy dis ’n hamermeul – en so is dit sedert 1961 toe die eerste Drotsky-hamermeul vervaardig is. Na ten minste 60 000 kwaliteithamermeulens, het Drotsky hul besigheid aangepas om binne die voer- en voedselverwerkingsomge­wing unieke oplossings vir kliënte te bring. Hulle kan ’n eenheid vir spesifieke ontwerp aanpas en vervaardig. Binne voerverwerking is daar verskeie mengers – van groot tot klein – te kies en te keur. Van die mengers kan gebruik word vir presisiemeng van voer of voedsel. Gaan besoek gerus hierdie “ou” vervaardiger se webwerf by www.drotsky.co.za vir meer interessante feite.

Van Zyl Staalwerke
As jy dink jy het ’n plan, is die kans goed dat Van Zyl Staalwerke al reeds een gemaak het. Hulle vervaardig vee- en saaitoerusting van hoë gehalte. Benodig jy graanhanteringstoerusting, ’n sleepwa of ’n rolmoer of landroller – hulle het dit beskikbaar. Of jy ’n beitelploeg, gewasskoffel of ’n roltandeg benodig, hulle het dié ook al gemaak. Veehanteringstoerusting, wat lekbakke insluit, asook voerringe is deel van hul produkreeks. Kontak hulle by www.vzsgroup.co.za.

Van Zyl Staalwerke het onder meer hierdie sleepwaens op NAMPO uitgestal.

Jones Masjiene
In die veevoerverwerkingsbedryf is daar een vervaardiger wat spe­sialiseer in die optimering van prosesse – Jones Masjiene. Met hul modulêre ontwerpe kan voerverwerkingsprosesse geoptimeer word om sodoende vermorsing en arbeidskoste te minimeer. As jy ’n vee­voerpil wil maak, kan hulle help met toerusting om die rumateriaal af te laai, te stoor, te maal, te meng en te verpil met die minimum arbeid wat ’n gehalte-eindproduk lewer. Hierdie eindprodukte kan gestoor of meganies na die voerkraal of waar ook al vervoer word. Die modulêre ontwerp maak dit moontlik om maklik aan te pas soos behoeftes verander. Gaan besoek gerus www.jonesmasjiene.co.za om hul produkte en vervaardigingsmetodes te besigtig.

Jones Masjinerie se modulêre ontwerpe maak voerverwerking maklik met minder vermorsing en arbeidskoste.

Bok.i
Produsente op soek na ’n hoëspoed- kompakte sny-eg moet nie die Bok.i KD-reeks oorslaan nie. Bok.i vervaardig nie net hoëspoed- kompakte sny-êe nie, maar ook kwaliteitimplemente vir primêre grondbewerking. Veral hul reeks lynskeurploeë is implemente om mee rekening te hou. Dit is betroubaar, sal nie sommer die gees gee nie en boonop is Bok.i-implemente se onderhoud laag in vergelyking met ander vervaardigers. Tog verrig die implemente hul taak goedkoop en effektief. Meer inligting is beskikbaar by www.boki.co.za.

Bok.i se disse en bytelploeë het groot aftrek gekry.

Rhino Skaar
Elke implement het slytparte of skare. Daar is ’n hele paar Suid-Afrikaanse skaarvervaardigers en Rhino Skaar is een van die wat grondslytprodukte teen bekostigbare pryse voorsien. Tans word die meeste van die staal wat in die vervaardigingsproses gebruik word vanuit Europa ingevoer om ’n wêreldklasproduk vir die plaaslike mark te bied. Rhino Skaar vervaardig meer as 200 verskillende produkte waarvan sommige ook uitgevoer word en hulle is trots op hul gehalteskaarprodukreeks wat reeds ’n gevestigde naam het. Besoek www.rhinoskaar.co.za om die hele reeks te besigtig.

Rhino Skaar het ’n verskeidenheid skare op NAMPO Park uitgestal.

Xfarm
Suid-Afrika beskik oor ’n hele paar spesialisplantervervaardigers. Xfarm bied presisievervaardigde en akkurate saai-implemente, planters, strooiers en spuite van voortreflike gehalte. Om voortdurend by baanbrekende navorsing betrokke te wees, lei tot die ontwikkeling van eenvoudige, gesofistikeerde ontwerpe en implemente. Xfarm se implemente is dus ongekompliseerd, dog doeltreffend en presies vervaardig. Alhoewel hulle hoofsaaklik aan die Wes-Kaap lewer, vaar hul implemente ook goed in die somersaaistreke. Moet ook nie hul strooiers en spuite oor die hoof sien nie. Besoek www.xfarm.co.za om jouself in hierdie implemente te verlustig.

Badger
Badger is ’n besigheid wat besig is om opslae te maak. Hulle poog om die nuutste pasgemaakte oplossings vir bemestingtoediening te optimaliseer. Hiervoor bemark hulle ’n unieke kunsmistoediener wat hulle self ontwerp en gebou het. Die implement kan vooraf tydens grondvoorbereiding vir die produsent ’n gedeelte van sy bemesting presies toedien. Badger bemark ook hul eie planter wat hoofsaaklik op die somersaaigebiede gefokus is. Alle presisietoerusting word op hierdie planter aangebring en dit beskik oor die vermoë om opgestel te word dat dit presies binne elke produsent se stelsel pas. Presisietoerusting kan oor tyd vervang word met nuwer tegnologie. Vir meer inligting en video’s oor die Badger-implementreeks, besoek www.badgerag.co.za.

Suid-Afrikaanse toerusting moet vir seker in gedagte gehou word wanneer produsente iets moet vervang.