’n Nuwe seisoen

Gepubliseer: 31 Julie 2024

188

Beste Grootneef

Die jaar kantel deur die winter na ’n nuwe seisoen met die son wat soggens al hoe vroeër kop uitsteek. Die winter is straf vanjaar, met sneeu en ryp wat oor die binneland gestrooi word. Fronte spoel soos golwe oor die Kolonie en stoot stormwinde oor berg en dal voor hulle uit, tot diep in die Suidland. Met die krag van die natuur in volle swang, soek mens en dier snoesige skuiling teen die koue wat oor die vlaktes aangejaag word.

Ou Neef, na elke winter volg ’n nuwe lente. Na elke opdraande volg daar ook ’n plato met ’n gelyk pad. Midde die grou van die winter, sien ek anderdag ’n perskeboom langs die pad wat begin bloeisels stoot. Die boom groei verby sy winter, die lente in.

Ons hele Suidland smag na ’n nuwe groeiseisoen. Ons kort stukrag van groei en ontwikkeling, die toekoms in. Die winter van korrupsie, misdaad en baantjies vir boeties het die Suidland lank genoeg in die koue gelaat.

Baie planne vir ekonomiese groei lê op rakke en stof vergaar. Die dinkwerk is gedoen, maar nou vir hande om oor te gaan tot aksie. Indien ons nuwe regering van nasionale eenheid net ’n paar dinge reg doen en uitreik na die private sektor, kan vorentoe geboer word. Buurman laat weet dat hy net hoop dat na al die moeite om die grootste kabinet ooit staan te maak, die spulletjie nie in ’n regering van nasionale onenigheid verval nie. Want dan is die geleentheid om deur die winter te groei daarmee heen.

Buurman vra ook anderdag of ek my geld op die El- of die La-perd gaan sit. Dis nou sy kort vir El Niño of La Niña wat die reënwolke gaan verjaag of bymekaar gaan hou. Dit terwyl hy met die een oog weste toe korrel. Die seisoen van 2024 het sommige produsente uitnemend behandel, terwyl veral dié aan die westekant harde bene gekou het. Die weerghoeroes verskil op dié stadium van mekaar, eenvoudig omdat niemand nog weet wat om te verwag nie.

Ou Neef, mag die nuwe seisoen nie net goed vir die Suidland en sy mense wees nie, maar mag dit ook ’n sagte seisoen vir onse graanboere wees met soel somersdae en reën op die regte tyd. Indien sommige boere weer ’n ongenaakbare somer beleef, kan dit vir party ’n laaste plantseisoen wees. Potlode sal skerp moet wees om die gelykbreek te bereken en wat nodig sal wees om die bankbe­stuurder gelukkig te hou. Maar soos buurman sê, laas week het hy die bankbestuurder gebel en al sy sorge gedeel. Nou slaap hy snags heerlik, terwyl die bankman rondrol.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.